Estimated reading time: 3 minutes

Daar sal sekerlik nog lank gepraat word oor die 112de Bathurst-landbouskou wat van 1 tot 3 April plaasgevind het. Die skou, waar groot pryse en trofees op die spel was, het behoorlik uit sy nate gebars en diep spore gelaat danksy goeie organisasie en welkome reën wat byna deurgaans geval het.

Bo en behalwe vir die musiek, gebak, handwerk, kunswerke en kosstalletjies, was dit ’n volbloed-landbouskou, waar oud en jonk ’n lyn gesny het na die lewendehawe-arenas met perde, beeste, bokke en skape, asook die pluimvee-area, waar die kompetisie tussen die opgepofte geveerdes straf was. Indrukwekkende ou en splinternuwe landbou-implemente en gereedskap was natuurlik ook op skou, en die immergewilde grassnymasjienresies het vir groot vermaak gesorg.

Green Smoke Room Seeds, die oudste kannabis-saadbank in Suid-Afrika, het vanjaar ’n draai by die skou gemaak en leersame inligting oor die gebruike van kannabis met besoekers gedeel. Woody Cape Wildlife het vir die eerste keer, met die samewerking van Hobson & Co, ’n veiling tydens die skou aangebied, met ’n groot verskeidenheid wild wat onder Brandon Leer se hamer gekom het.

Ander gewilde aktiwiteite was ’n kookkompetisie, ’n vetvee-beesveiling asook ’n Boerbokveiling, leerwerk- en skaapskeerdemonstrasies.

Vir meer inligting, besoek die Bathurst-landbouskou se Facebook-blad by www.facebook.com/BathurstAgriculturalShow.