Skotland is ’n land ryk aan geskiedenis en tradisie. Tydens ’n onlangse besoek aan dié land om die International Farm Management (IFMA) kongres by te woon, kon ons die unieke kultuur ervaar. Die land is bekend vir onder andere hoë kwaliteit whisky en salm, sowel as unieke argitektuur en natuurlik gholf. Die Skotte word verder met die doedelsak en hul kleredrag geassosieer. Die natuur lewer grasgroen heuwels met skoon en helder riviere. Die mense is vriendelik, behulpsaam en baie gasvry.

Skotse landbou

Die regering het ’n groot invloed op die landbousektor deur die subsidies wat aan boere betaal word. Verskillende sektore in die landbou ontvang verskillende subsidies op grond van hul produksie-uitset. Sprekers op die kongres en boere wat besoek is, het bevestig dat die subsidie in die meeste gevalle hul enigste wins is. Die doel vir die subsidies van die regering is om voedselpryse laer te hou vir die land se verbruikers. As gevolg hiervan is ’n ekonomies-volhoubare eenheid heelwat kleiner. Boere word nie aangemoeding of gedwing om innoverend te dink en te produseer nie, want die regering sal sorg.

Skotse beesrasse

Die melkbeesras wat hoofsaaklik hier gebruik word, is die Holstein. Daar word wel ook Jersey’s in die kudde ingesluit om die bottervet van die melk te verhoog. Brittain Blue en Hereford-bulle word op die koeie gebruik. Vleisbeesrasse sluit die Angus, Hereford, Limousin en Charolais in. Hierdie rasse is aangepas om die koue winters te trotseer.

Die medium- tot grootraam-diere presteer baie goed op hoëdigtheid- en goeie gehalte natuurlike weiding, wat in oorvloed is weens die hoë reënval. Om die diere teen die uiters lae temperatuur en nat toestande te beskerm, moet hulle binnenshuis gevoer word in die winter wat omtrent drie maande duur. Boere het dus groot skure om die diere te huisves terwyl hulle gebaalde gras gevoer word met energie- en proteien-byvoeding.

Voerkrale in Skotland

Die algemene en gemiddelde siklus van rooivleisproduksie in Skotland verskil heelwat van Suid-Afrika. Hier word kalwers op ses tot sewe maande gespeen, waarna hulle vir ses maande semi-intensief ’n lae-energie voerrantsoen gevoer word. Daarna gaan die kalwers weer uit veld toe vir nog ses maande waarna hulle dan afgerond word vir bemarking.

Die afrondingstydperk wissel tussen 100 en 180 dae, afhangend van die dier se gewig. Die nodige been- en orgaangroei word dan behaal deur die langer “backgrounding”-fase soos ons dit in Suid-Afrika ken. Die karkasgewig wissel tussen 350 en 420kg, in vergelyking met die Suid Afrikaanse gemiddeld van 270kg.

Vleisgradering in Skotland

Dieselfde beesvleiskarkas-klassifikasiestelsel word in Engeland, Wallis, Noord-Ierland en Skotland gebruik. Die stelsel word gebaseer op ses hoofpunte, naamlik karkasspesifikasie, groepering, klassifisering, bouvorm, vet en gewig.

Karkasse word eerstens in drie verskillende markspesifikasies ingedeel, naamlik “standard specification’, “EC reference specification” en “UK specification”, op grond van die teenwoordigheid van karkasvet op verskillende areas van die karkas.

Vir die ‘standard specification’ word slegs die nekvet verwyder, terwyl die nek- en boudvet verwyder word vir die ‘EC spesifikasie’. Die meeste buite-karkasvet word verwyder vir die ‘UK specification’ wat die nek, boud, dye en bors insluit. Hierdie vetverwydering word gedoen om aan die verskillende markbehoeftes te voldoen. Die ‘UK specification’ word as die mees gesogte beskou.

Daarna word die karkasse in groepe geplaas wat deur die letters A, B, C, D, E en Z aangedui word om die dier se ouderdom en geslag aan te dui asook of die manlike diere gekastreer is. A is ’n ongekastreerde manlike dier van 12 tot 24 maande, B ongekastreerde manlike diere ouer as 24 maande en C gekastreerde manlike dier ouer as 12 maande. D is vroulike diere wat al gekalf het, E is vroulike diere ouer as 12 maande en Z ’n dier (manlik of vroulik) tussen 8 en 12 maande.

Klassifikasie van karkasse word deur drie metings gedoen, naamlik bouvorm, vetneerlegging en gewig. Bouvorm word deur letters aangedui waar S superior is, E excellent, U baie goed, R goed, O redelik en P swak. Vetneerlegging word op ’n skaal van een tot vyf gemeet waar een laag is en vier baie hoog. Vetheidsgraad 4 en 5 word ook opgedeel in 4-laag, 4-hoog en 5-laag en 5-hoog. Die gewig word aangeteken en die koue karkasgewig word bereken deur 2% van die warm karkasgewig af te trek.

’n Vergelyking

Suid-Afrikaanse beesboere kan opreg trots wees op ons bedryf. Die genetiese vordering, aangepaste produksiemetodes en die gebruik van tegnologie in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf is merkwaardig en ons hoef vir niemand terug te staan nie. Suid-Afrikaanse veeprodusente produseer winsgewend en volhoubaar deur van bogenoemde gebruik te maak.

Dit word sonder staatsubsidies gedoen, terwyl sosiale en ekonomiese uitdagings ’n werklikheid is. Dit lyk asof Suid-Afrikaanse veeprodusente ’n standpunt huldig van: Maak die meeste van wat jy het en in die omstandighede waarin jy is. – Phillip Oosthuizen, hoof van navorsing en ekonomie van Sernick.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY