Estimated reading time: 2 minutes
Daniëlskuil en omliggende plase is die afgelope week bykans heeltemal deur veldbrande vernietig. Die brand het Maandagmiddag, 18 September, net buite Postmasburg vermoedelik begin toe ’n vragmotor se band gebars het en ’n vonk daaruit die droë gras aan die brand gesteek het. Die wind het die vuur ooswaarts gejaag tot by die Lohatla-weermag-area.
Volgens Eben Anthonissen, woordvoerder van Agri Noord-Kaap en ’n produsent in die Kathu-omgewing, kon die veldbrande nie gekeer word nie. Dit het vir twee dae deur Lohatla gewoed en teen Woensdag tot by die Daniëlskuil-omgewing gevorder. Van daar af het dit na verskeie kommersiële plase versprei.
Die brand het sowat 10km van Daniëlskuil af die berge ingeskiet en dit het produsente en ander helpers se bluspogings bemoeilik. Anthonissen sê die vuur het verskeie kere oor die R31-teerpad, tussen Daniëlskuil en Kuruman, gespring, maar niks kon dit keer nie.
Die Noordwes-sambreelbrandbeskermingsvereniging (NWUFPA) het die beheer oorgeneem en lugsteun ingeroep, maar die vliegtuie en helikopters kon nie veel doen teen die sterk winde nie.
Teen Saterdag het die wind omgeswaai en die vuur terug na Daniëlskuil gestuur. Dit is net buite die dorp gestop. Teen 15:00 Saterdagmiddag is daar bevestig dat drie huise afgebrand het insluitend ’n woonhuis op ’n plaas, ’n arbeidershuis en ’n huis in die dorp.
Die brand is gekeer voordat dit die dorp kon invaar, maar dit het weer die berge ingegaan waar dit in ’n suidelike rigting gebrand het. Eers teen Saterdagaand, 23 September, kon die brand behoorlik geblus word. Volgens Anthonissen het daar nog ’n brand in die Koopmansfontein-omgewing gewoed.
Lees meer oor die onlangse Noordwes-brande.
Produsente benodig hulp na die brand
Die uiteindelike skade wat die brande aangerig het, is teen Maandag, 25 September, nog nie heeltemal bekend nie. Sover vasgestel kon word, is meer as 58 000ha se weiding op kommersiële plase afgebrand en as die skade by Lohatla bygetel word, is die skade nader aan 100 000ha.
Anthonissen sê die grootste uitdaging na so ’n massiewe brand is om voer en weiding vir die diere te verkry.
Die Agri Noord-Kaap-stigting is gestig om produsente te help wat deur soortgelyke brande en skade geraak word. Die stigting samel fondse in om voer en ander hulpbronne aan produsente te verskaf. Janine Byleveld staan aan die stuur van sake en daar is reeds ’n vrag of twee voer afgelewer. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Persone wat betrokke wil raak deur finansiële bydraes of voer te skenk, kan Janine Byleveld kontak by 073 291 0557.