Estimated reading time: 4 minutes
’n Veldbrand het Sondag naby een van die informele nedersettings naby Deben in die Noord-Kaap uitgebreek en dit is toe met behulp van sterk wind tot in die Langeberge voor Olifantshoek aangedryf. Die wind het Maandagaand gaan lê en dit het boere en brandbestryders ’n kans gegee om die brand te blus nadat groot hoeveelhede weiding afgebrand is.





Eben Antonissen van georganiseerde landbou sê dit is nog te vroeg om volledige opname te maak van die skade wat die brand aangerig het, maar sovêr bekend is daar 19 plase wat in die proses gebrand het. Dit is ’n beraamde skatting van 22 000ha. Van die plase het heeltemal afgebrand en ander is net gedeeltelik gebrand.
Hy sê hy is dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie. Hulle is oortuig dat daar moontlik veeverliese kan wees, maar dié inligting is nog nie beskikbaar nie. Dit is ook nie bekend wat die skade aan infrastruktuur beloop nie. “Kampdrade, damme en so meer het in die slag gebly, maar dié getalle is nog nie bekend nie. Dit behoort binnekort op rekord te wees,” vertel hy. Antonissen sê ook een van die groot probleme wat hulle ervaar, is dat van die Eskom-lyne afgebrand het en dit beteken dat daar baie swak opvangs in daardie gebied en gevolglik is die kommunikasie ook swak.
Lees meer oor hoe om die risiko van veldbrande te bestuur hier.
Hy het baie lof vir die gemeenskap en die myne in die omgewing gehad asook vir die Working on Fire-span wat gehelp het om die brand teen Maandagaand onder beheer te kry. Hy sê hulle sou nie die brand kon blus as dit nie vir die ondersteuning van die gemeenskap was nie. Hy vertel ook dat daar heelwat skrapers en ander swaar voertuie was wat gehelp het om brandbane te maak voor die brand Olifantshoek kon bereik.




Intussen het die Agri Noord-Kaap Stigting, ’n organisasie binne Agri Noord-Kaap wat boere in krisistye help, reeds aangedui dat hulle voer gaan aankoop vir boere wat groot skade gely het tot tyd en wyl hulle weiding vir hul diere kan kry.
Hy vertel ook dat Eskom geskeduleerde beurtkrag vir die area gehad het, maar dit opgeskort het tot die brand geblus is ten einde die boere te help om ’n kommunikasienetwerk beskikbaar te stel. – Koos du Pisanie, Plaas Media