Veldagteruitgang kán gestuit word

Estimated reading time: 7 minutes

  • Natuurlike weiveld bly die goedkoopste kos vir vee. Op baie plase het die weiding egter oor jare so agteruitgegaan, dat optimale veeproduksie nie meer moontlik is nie.
  • Die doel van veldherwinning is om hierdie agteruitgang te stuit en die veld só te bestuur, dat die voedingsbron deurgaans verbeter.
  • Veldagteruitgang kan aan verskeie faktore toegeskryf word, waaronder oorbeweiding, dikwels in kombinasie met langdurige droogtes en onbeplande veldbrande.
  • In gevalle waar matige agteruitgang ondervind word, moet weidingsbestuur aangepas word, anders duur die oorsaak van die probleem voort.
  • Waar die veld al erg agteruitgegaan het, kan dit nodig wees om drukbeweiding toe te pas. Dit beteken dat dubbel die normale veebelading vir ‘n paar dae op die weiding loop en die gras dan genoeg tyd kry om te rus.

Natuurlike weiveld bly die goedkoopste kos vir vee. Op baie plase het die weiding egter oor jare so agteruitgegaan, dat optimale veeproduksie nie meer moontlik is nie. Die doel van veldherwinning is om hierdie agteruitgang te stuit en die veld só te bestuur, dat die voedingsbron deurgaans verbeter.

Veldagteruitgang kan aan verskeie faktore toegeskryf word, waaronder oorbeweiding, dikwels in kombinasie met langdurige droogtes en onbeplande veldbrande. Die proses van agteruitgang is dikwels so geleidelik, dat dit eers sigbaar raak wanneer die veld so verswak het dat drastiese optrede nodig is en normale weidingsbestuurpraktyke nie meer voldoende is nie.

Frits van Oudtshoorn, ‘n bekende weidingkundige en graskenner van Modimolle in Limpopo, het tydens ‘n 2023-weidingswerkswinkel van Barenbrug gesê veldagteruitgang kan voorkom as ‘n ligte versteuring van die ekologie, of verswakte veld wat grootliks met bestuur reggestel kan word.

Leer meer oor meganiese veldherstel hier.

Suurveld versus soetveld

In suurveldstreke met ‘n hoë reënval word veldagteruitgang weerspieël in ‘n gebrek aan of lae voorkoms van goeie, smaaklike grasspesies, asook swak bedekking, ‘n toename in indringerspesies, en gronderosie.

Veldagteruitgang in soetveldstreke word weer herken aan ‘n swak grasbedekking en/of kaal kolle, min of geen meerjarige grasspesies, ‘n toename in indringerspesies, asook gronderosie. Die matige agteruitgang van veld kan meestal met goeie bestuur reggestel word. Erge versteuring is waar die veldagteruitgang só gevorderd is, dat rehabilitasie-ingrypings nodig is. ‘n Mens kan wel stappe neem om die natuur se herstelproses te versnel.

Die vernaamste oorsake van natuurlike weiding se agteruitgang in suurveldstreke is selektiewe oorbeweiding oor ‘n lang tydperk. Dit bring mee dat smaaklike grasse nie genoeg ruskans kry nie en dit lei tot lae groeikragtigheid, klein polle, en geen of swak saadproduksie. Onsmaaklike grasse begin dan om te oorheers as gevolg van hul groeikragtigheid en beter saadproduksie.

In soetveldgebiede veroorsaak langtermyn oorbeweiding ook dat meerjarige grasse nie genoeg rus kry nie en hul groeikragtigheid verloor. Sodoende raak die grondbedekking al hoe swakker en kaal kolle ontstaan en/of word groter. Die voorkoms van eenjarige grasse neem toe en beïnvloed die gehalte van die weiding negatief.

Nader aan die natuur

In gevalle waar matige agteruitgang ondervind word, moet weidingsbestuur aangepas word, anders duur die oorsaak van die probleem voort. Dus, hoe minder smaaklike grasse teenwoordig is, hoe korter moet die weidingsiklusse wees en hoe langer die rustydperke (en andersom). Hiervoor is meer kampe per kudde nodig, wat neerkom op die onderverdeling van groot kampe en/of die gebruik van elektriese heinings.

Nog ‘n opsie is ‘n blokstelsel, waar ‘n blok kampe om die beurt elke tweede of derde jaar vir ‘n volle groeiseisoen rus. Die doel is om die smaaklike grasse genoeg ruskans te gee om hul groeikragtigheid te herwin en saad vir die volgende generasie te produseer.

Goeie weidingsbestuur beteken basies om nader aan die ‘natuur se manier’ te boer. Voordat heinings bestaan het, het wild in groot troppe getrek en die gras vir kort tye bewei en dan aanbeweeg. So kon die veld rus, herstel, en saad produseer. Ons moet hierdie natuurlike proses naboots met goeie weidingsbestuur.

Drukbeweiding as ’n opsie

Waar die veld al erg agteruitgegaan het, kan dit nodig wees om drukbeweiding toe te pas. Dit beteken dat dubbel die normale veebelading vir ‘n paar dae op die weiding loop en die gras dan genoeg tyd kry om te rus. Die stelsel verplig die diere om al die grasse te benut en nie selektief te vreet nie.

Ander voordele is die hervestiging van goeie grasse en verbeterde grondgesondheid. Tydens drukbeweiding word die grond losgetrap en organiese materiaal ingetrap. Dit verbeter die grondstruktuur, wat waterhouvermoë verhoog en gunstiger toestande vir saadontkieming skep.

‘n Hoë konsentrasie, goed-verspreide mis en urine beland op die grond en help herstel aan. Dit, tesame met die opheffing van beperkende grondkorse wat water laat afloop, skep ‘n beter saadbed.

Die swaarder veebelading veroorsaak ook dat onsmaaklike graspolle en struike platgetrap word en smaaklike spesies kans kry om weer hul regmatige plek in te neem.

Met drukbeweiding word die diere gedwing om ook minder voedsame grasse te vreet. Dit kan dus gebeur dat ‘n proteïen-aanvulling en rumenstimulante, veral aan die begin voordat die smaaklike grasse terugkeer en grondvrugbaarheid herstel het, nodig raak – veral op suurveld.

Insaai van saad

Waar voedsame, smaaklike, meerjarige grasspesies so uitgedun is dat natuurlike herstel van saadproduksie lank gaan duur, kan dit nodig wees om saad in te saai. Saai die saad verkieslik om voerbakke en krippe in, sodat dit in die grond ingetrap kan word. As die voerbakke gereeld verskuif word, kan ‘n groter oppervlakte oor tyd besaai word. Grassaad kan ook in drukbeweidingstroke gesaai word sodat die beeste dit kan intrap. Sekere saad kan met voer gemeng word sodat dit saam met mis uitgeskei word en ontkiem.

In suurveldgebiede is die saai-opsies redelik beperk. Afhangend van klimaatstoestande kan Smutsvinger-, Rhodes-, kleinbuffel- en Eragrostis-grassaad geplant word. In die soetveldgebiede is die keuse wyer en kan grasse soos Smutsvinger-, Rhodes-, kleinbuffel-, witbuffel-, bloubuffel-, borseltjie-, Brachiaria-, Bosveldbeesgras en meerjarige beesgras gebruik word.

Op wildsplase moet die belading verkieslik nie hoër as 80% van die drakrag wees nie. Waar weiding erg agteruitgegaan het, behoort die getalle drasties verminder te word. ‘n Goeie verhouding van sowat 40% ruvoervreters teenoor 60% selektiewe vreters moet gehandhaaf word.

Bestuur van kaal kolle

Kaal kolle wat veral in die soetveldgebiede voorkom, verg spesiale aandag. Die grondkors moet gebreek word om waterindringing en gronddeurlugting te verbeter vir ‘n beter saadbed.

Een van die beste herstelmetodes is om takke te pak, veral in kombinasie met die genoemde metodes. Takke kan op kaal kolle en in aflope wat in dongas kan ontaard, gepak word. Die takke breek die impak van reëndruppels wat korsvorming teenwerk. Dit beskerm saailinge wat opkom teen vroeë en skadelike beweiding, verminder die afloop van reënwater, sorg vir ‘n koeler grondoppervlakte, en verhoog die grond se organiese inhoud.

Die nuutste ontwikkeling in die herwinning van weiveld is proewe waar ‘n grassaadmengsel van tien verskillende spesies met ‘n planter, met die hand gemeng met kompos, en met ‘n hommeltuig op ontboste dele gesaai word. Daar word met groot afwagting uitgesien na die resultate. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Frits van Oudtshoorn by 078 228 0008 of frits@alut.co.za.

Must read

The Semonkong Hospital Trust veterinary outreach programme

Estimated reading time: 5 minutes The Semonkong Hospital Trust is a faith-based, interdenominational organisation that has been hosting an annual week-long veterinary outreach in Semonkong, Lesotho, since 2006. During this week, veterinary surgeons and...
Royal Skou

Kongresse, kompetisies en skoue – Kom kyk Plaas TV

Estimated reading time: 3 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: The 2024 Royal Agricultural Exhibition, held at the Royal...
Ten spyte van die moeilike ekonomiese klimaat het kopers vanoor die hele land die veiling bygewoon.

Syferfontein Bonsmaras hou suksesvolle veiling

Estimated reading time: 3 minutes Die bekende Bonsmarastoet by Vrede, Syferfontein Bonsmaras van Nico Pieterse, se 25ste produksieveiling is gekenmerk deur ’n prysvariasie wat dit vir alle kopers moontlik gemaak het om goeie bulle...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Soos ons nou winter betree, sit produsente in die...