Estimated reading time: 4 minutes

Die jonge Nathan dink ek is die kat se snor, en omdat ek nie heeltemal immuun is teen vleiery nie, het ek ingestem om hom as die vakleerling van ’n ‘bachelor-boer’ te mentor. Dis nou nadat hy my met sy pet in die hand gevra het of hy vir ’n jaar na skool by my kan kom leer.

Lees die vorige episode van Oom Schalk.

Hy is wat die dorpsmense ’n maplotter sal noem. Afwesige pa, enkelma, drie broers en susters, altyd ’n tekort aan geld, maar volop groente, eiers of bokkaas, wat hulle alles self kweek, maak en verkoop.

Terwyl ons na ’n veiling toe ry, grawe Nathan deur die paneelkissie, op soek na kougom. Skertsend haal hy ’n velletjie bandproppe uit.

“Ek hoop jy maak ’n grap,” sê ek, “want dis van uiterste belang dat ons Murphy hier weghou.”

“Hoe so?” vra hy. Ek antwoord dat enige plattelandse road trip in Afrika ’n hoë-risiko avontuur is. Een wat jy navigeer deur stadig te ry en slegs met die nuutste aktiewe en passiewe veiligheidstelsels aanpak.

“Kan jy die drie passiewe stelsels raaksien?” vra ek hom.

“Jy het … drie airbags?” raai hy.

“Goeie raaiskoot, maar die twee voorste sakke en een knie-lugsak is één stelsel.” Ek trek my veiligheidsgordel en wys na die A-pilaar. “Die ander twee is veiligheidsgordels en die hoëtrekstaalhok rondom ons.”

“Wat is die aktiewe stelsels?” vra Nathan.

Ek beduie na die ESC-knoppie. “Behalwe vir twee nie-elektroniese stelsels, is hulle almal daarin – die elektroniese stabiliteitsbeheerder. Hierdie is die aan-en-af-knoppie vir ’n rekenaar wat data kry vanaf sensors wat die wielomwentelings, stuurinsette, spoed en slingering meet. Die sensors meet dit ’n paar keer per sekonde, en in ’n krisis sal die rekenaar die brandstof afsny en die remme op enige van die wiele styftrek om die bakkie reguit te stuur, nog lank voor die bestuurder begin om te reageer. Dit is die beste uitvindsel naas die veiligheidsgordel,” sê ek.

“So waarom sou ’n mens dit wou afskakel?” vra hy.

“Vir wanneer jy ’n 4×4 bestuur en jy ’n bietjie wheelspin moet toelaat. Of wanneer jy deur koedoe-gebied ry en verwag dat jy skielik sal moet stop. Die ABS, oftewel die sluitweerremstelsel, keer dat die wiele sluit, sodat jy om ’n hindernis op die teer kan swaai. Maar op ’n sandpad wil jy juis hê die wiele moet sluit en hulle eie klein sandvanggaatjies opploeg, eerder as om oor dit te rol.”

“Wat is die twee nie-elektroniese stelsels?”

“Banddruk en ouderdom,” sê ek. “Die belangrikste onderdele op hierdie bakkie is die bande. Die druk waarteen hulle opgeblaas word, moet binne die perke wat op die plakker op die deur aangedui word, wees. Té sag en jy verhoog die risiko van ’n gaatjie in die sywand. Té hard en jy kry dalk skielik ’n gebarste band, veral met ouer bande.

“Bande ouer as ses jaar begin verweer, al word hulle skaars gebruik. Dis hoekom jy so baie gebarste bande by sleepwaens sien. Die bande lyk dalk nuut, maar is dikwels oud. Jy kan ’n band se ouderdom aan die vier nommers op die sywand, wat die week en jaar waarin dit vervaardig is aandui, uitken,” sê ek.

“En hierdie proppe, hoe keer hulle vir Murphy?” vra hy.

“As jy goed voorbereid is, is Murphy geneig om weg te bly. Daardie proppe is maar net die oortjies van die seekoei. Onder die sitplek is ’n klein kompressortjie en propstopgereedskap. Hier’s vir jou ’n truukvraag: watter stelsel bied die minste beskerming?”

“Uhm, die veiligheidsgordels?” raai Nathan.

“Dzzzt, verkeerd!” antwoord ek. “Dis die lugsak. Dit is ’n tipiese oor-ontwerpte Amerikaanse oplossing vir ’n probleem wat renjaers met sitplekharnasse opgelos het. Lugsakke is bomme wat wag om in jou gesig te ontplof, veral die oueres met geroeste Takata-sensors. Hulle is ewe geneig om jou te vermink as om jou te red, en daarom kan jy die passasierskant s’n afskakel. Maar die res van die stelsels is almal ewe belangrik om jou aan die lewe te hou in ’n ongeluk. Wanneer jy vinniger as 50km/uur ry, hou hulle maar almal aan.


Wen ‘n handelsmerk-keps!

Vyf gelukkige lesers staan elk ‘n kans om ’n handelsmerk-keps van die skrywer, Alwyn Viljoen, te wen. Beantwoord hierdie eenvoudige vraag: Is Oom Schalk getroud of enkellopend? WhatsApp jou naam, saam met ‘Oom Schalk – getroud’ of ‘Oom Schalk – enkellopend’ na 082 458 9332. Inskrywings sluit 2 Mei en wenners sal in ’n trekking aangewys en telefonies gekontak word. Terme en voorwaardes geld.


h

inruilprys, diesel, sleepwagewig