Veiligheidsopleiding noodsaaklik om platteland te beveilig

Estimated reading time: 6 minutes

Plaas Media het onlangs ’n veiligheidsopleidingskursus in die Harrismith-distrik bygewoon. Die doel van die kursus was om produsente se rol in misdaadbekamping en landelike beskerming te versterk. Sowat 30 mense het die kursus op die plaas Tafelberg van Coen en Franci Koegelenberg bygewoon. 

Landelike kriminaliteit neem al vir dekades lank ernstig toe en plaasmoorde is al so algemeen dat dit soms nie eers die nuus haal nie. Dis in hierdie konteks dat Vrystaat Landbou die inisiatief geneem het om ’n opleidingsprogram van stapel te stuur om produsente en landelike bewoners te bemagtig om hulleself te beskerm.

Die geregistreerde sekuriteitsmaatskappy, Landelike- en Gemeenskapsveiligheid (LGV), is getaak om ’n opleidingsprogram te ontwikkel en die opleiding aan te bied.

Die Nasionale Landelike Veiligheidsstrategie as vertrekpunt

Volgens Pieter Kemp, ondervoorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee en koördineerder tussen LGV en Vrystaat Landbou, is die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie gebruik om die opleidingsprogram te ontwikkel.

“Dis belangrik om te onthou dat produsente ’n integrale rol speel in die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie. Om egter ’n suksesvolle rolspeler te wees, moet jy opgelei wees. Ons het 14 fasette geïdentifiseer wat in so ’n opleidingsprogram aandag behoort te geniet. Op grond hiervan het ons toe 14 modules saamgestel wat die kern van die opleidingsprogram vorm.”

Die modules sluit optrede rondom onwettige grondbesettings, onwettige jag met honde, die bewaring van misdaadtonele en die optrede van reaksiegroepe in. Hierdie onderwerpe is in lesingformaat uitgebrei en in ’n opleidingshandleiding saamgevat. Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee het die program goedgekeur en opleiding kon aangebied word.

Volgens Kemp is die opleidingsprogram in drie afdelings opgedeel. Die eerste afdeling fokus op die veiligheid van die huisgesin op die plaas. Die tweede fokus op die reaksie op ’n insident. “Hierdie is ’n uiters belangrike aspek omdat vinnige reaksie en korrekte optrede lewens kan red. Dit kan ook daartoe lei dat verdagtes nie die geleentheid kry om in die niet te verdwyn nie. Die ideaal is dat elke gebied ’n reaksiegroep op die been bring wat uit jonger en fikse lede bestaan wat dan goed opgelei word om vinnig in ’n noodsituasie te reageer,” sê hy.

Die derde fase sluit die bewaring van misdaadtonele in. Volgens Kemp kan dit die verskil maak tussen die suksesvolle vervolging van verdagtes en die uitgooi van die saak omdat bewysstukke gekompromitteer is.

“Elke misdadiger laat die een of ander boodskap op ’n toneel. Dit is krities dat hierdie boodskappe nie deur onkunde vernietig word nie, maar deel word van die bewyse wat die misdadiger met die misdaadtoneel verbind. Goeie opleiding is dus belangrik sodat die mense wat eerste op ’n toneel aankom presies weet wat om te doen.”

Hy beklemtoon dat produsente moet besef dat hulle, as rolspelers in die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie, altyd ter ondersteuning van die polisie optree. “Ons wil nie hulle werk oorneem nie, maar ons wil ons voorgeskrewe rol so goed as moontlik vertolk.”

Lees meer oor plaasveiligheid.

Praktiese oefening en demonstrasies

Die opleidingspan van LGV het bestaan uit Pieter Kemp, De Wet Marx en Wessie Wessels.

Dit was opvallend hoeveel jonger mense in die kursus belangstel het. Beide mans en vrouens het die geleentheid meegemaak. “Dis uiters belangrik dat soveel moontlik vrouens opgelei word omdat dit soms onafwendbaar is dat vrouens alleen op plase agterbly as die mans by plaasaanvalle gaan help. Die beskerming van die huis en werf bly die eerste prioriteit,” sê Kemp.

Wat die beveiliging van die huis en werf betref, is die beveiligingsmaatreëls rondom die huis beklemtoon. Enige iets wat in plek gesit word, moet dit so moeilik as moontlik maak vir kriminele om toegang te kry. Dit sluit die volgende in:

  • ’n Vroeë waarskuwingstelsel vir as daar pogings is om die huis binne te gaan.
  • Goeie en betroubare kommunikasie met bure met noodnommers wat maklik beskikbaar is.
  • Die afwissel van roetine sodat kriminele nie vaste gedragspatrone kan uitbuit nie.
  • ’n Goeie noodplan wat deeglik deur al die lede van die huisgesin verstaan word en gereeld ingeoefen word.
  • Maklike toegang tot vuurwapens.

’n Goue reël is om nooit uit die huis gelok te word wat jouself en jou huisgesin weerloos laat nie.  

Baie tyd is spandeer aan praktiese demonstrasies en die oefening van tegnieke rondom patrollie ry, die aftrek van voertuie op openbare paaie in opdrag van die polisie en die beveiliging van geboue.

Die kursus het beklemtoon dat goeie tegniek en oefening noodsaaklik is vir die effektiewe gebruik van ’n wapen. Daarom het die deelnemers baie tyd aan die hantering van wapens en skietoefeninge bestee.

Die rol van boereverenigings

Ellen Janse van Rensburg is die landelike veiligheidsverteenwoordiger van die Van Reenen-boerevereniging, en sy het ook die opleidingsessie gereël. Sy meen dat dit broodnodig is om die landelike gemeenskap deeglik bewus te maak van die implikasies as voldoende voorkomingsmaatreëls nie in plek is nie. Dit is die rol van die landelike veiligheidsverteenwoordiger om die gemeenskap op hoogte te hou van misdaadvoorkoming en veiligheidsmaatreëls op plase.

Boereverenigings se rol is om die gemeenskap te dien en om landelike veiligheid hoog op die agenda te hou. Die instansies moet ook bystand verleen met aspekte soos versekering teen noodvlugte en ambulansdienste. Daar behoort ook ’n noodfonds in plek te wees om onder andere veiligheidstoerusting en sekuriteitskameras in stand te hou.

“Hierdie kursus, hoewel baie goed, is maar slegs die begin. Dit is nou die verantwoordelikheid van elke produsent om by veiligheidsgroepe in te skakel en gereeld te oefen om paraat te bly.”

Christo Spies, ’n plaaslike produsent, beaam die noodsaaklikheid van gereelde oefening en betrokkenheid by bestaande strukture. “Die opleiding was baie goed om ons almal net weer bewus te maak en op te skerp.”

“Produsente,” beklemtoon Hans Maritz, ’n jong produsent van die omgewing, “vorm die ruggraat van die platteland. Ons kan nie op die polisie staatmaak vir beskerming nie en dit maak hierdie opleiding so belangrik. Dis eerstens ons plig om persoonlike veiligheid en paraatheid op te skerp sodat ons in ’n noodsituasie die regte besluite binne die wet kan neem en effektief kan uitvoer.

“Verder het die opleiding die belangrikheid van omgewingsbewustheid beklemtoon om vroegtydig vreemde mense en optrede te kan raaksien en dan die inligting deur te gee.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Hoewel opleidingsessies deur Vrystaat Landbou aan sy lede gesubsidieer word, is die opleiding beskikbaar aan enige individu. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die LGV se kantoor by admin@lgv.org.za of skakel Pieter Kemp by 073 148 6245.

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...