Veerkragtigheid is die behoud van die wolbedryf

Estimated reading time: 3 minutes

Van die kantlyn af gesien, kan ’n mens die Suid-Afrikaanse wolbedryf met ’n tafeltennis- of ping-pong-balletjie vergelyk. As dit nie China is wat die wolmark ’n nekslag toedien weens die uitbreking van bek-en-klouseer nie, is dit ’n sterker rand of ’n swakker Australiese wolmark wat maak dat die mark sy glans verloor. En dit kan regtig moeilik gaan.

Maar te midde van die uitdagings en krisisse, bons dié nismark telkemale met hernude ywer terug om die impak van terugslae of hindernisse te oorkom. ’n Goeie voorbeeld is die groot opkoms by vanjaar se nasionale Merino-veiling wat op Vrydag, 11 Augustus, op Graaff-Reinet gehou is met ’n aanbod van altesaam 62 stoetramme. Volgens Merino SA se bestuurder, Willie van Heerden, het die ondersteuning baie vir die bedryf se moraal beteken te midde van groot ekonomiese onsekerheid.

Kyk saam na Plaas TV se insetsel oor Merino SA se 2023 bemarkingsveldtog hier.

“Die Merino nasionale veiling is kontroversieel in die sin dat daar twee kampe mense is: dié wat dit ondersteun en diegene wat daarteen gekant is,” het hy aan Veeplaas gesê.

Bydraers vereer

Tydens die vorige aand se dinee is verskeie toekennings oorhandig aan enkele skaap- en woladviseurs vir hul bydraes. Willie sê dit is mense soos Jan Hugo wat al 41 jaar lank by die bedryf betrokke is, wat ’n verskil maak. Marinelle Fourie het ook erkenning geniet as die top-student by vanjaar se Merino-adviseurskursus.

Vanjaar se veiling is voorafgegaan deur ’n dinee waartydens verdienstelikheidsertifikate aan individue toegeken is vir besondere dienste gelewer aan die Merino-bedryf. Links is Stephan van der Westhuizen, Keith Coetzee, Jan Hugo en John Melville wat Stephen Lumsden se sertifikaat namens hom ontvang het. Regs is Marinelle Fourie aan wie Willie Van Heerden, Merino SA-bestuurder, ’n sertifikaat oorhandig het vir haar prestasie as dux-student by vanjaar se Merino-adviseurkursus.

Die Merino-beeld wat tydens die dinee vir R17 000 opgeveil is.
Die Merino-beeld wat tydens die dinee vir R17 000 opgeveil is.

Die laaste Moderne Merino-beeld van ’n beperkte hoeveelheid van 50 beelde wat destyds deur Frans Boekkooi, ’n beeldhouer van Nieu Bethesda, vir Merino SA gemaak is, is tydens die dinee vir R17 000 opgeveil. Die gelukkige koper was Johan van As, eienaar van die Kinko Merino-stoet. Hy het die beeld vir sy seun, Adam, gekoop om hom te herinner aan hoe belangrik die Merino in hul besigheid is. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Merino SA by 049 892 4148 of merinoram@eastcape.net.