Estimated reading time: 3 minutes
Die Oktober-uitgawe van Veeplaas bied weereens praktiese oplossings en waardevolle inligting vir die pad vorentoe. Met ’n moontlike super-El Niño op ons voorstoep deel ons inligting oor hoe om jou vee se waterbehoeftes te bestuur, tesame met artikels oor ‘n paar van die jaarlikse LRF Veeskool-aanbiedings. Ons kyk ook na die implikasies van die sogenaamde Artikel 9-regulasies vir die suiwelbedryf en ’n nuwe-generasie entstof wat orf beter kan beheer. Ons maak ‘n draai by Goedgegeven in die Vrystaat, waar Johann Fourie ons meer oor sy unieke en suksesvolle veldbestuurstelsel vertel.
Hou kop bo water met jou vee se waterbehoeftes
Met ’n hoër kans op ’n super-El Niño-weerverskynsel in die 2026/27-seisoen, moet produsente gereed wees om in hul vee se waterbehoeftes te voorsien. Die toestande wat voorspel word is droog, met min reën en hoë temperature. Dit is daarom raadsaam dat produsente die beskikbaarheid en gehalte van water deeglik in hul droogte- en gebeurlikheidsbeplanning verreken. Lees in hierdie uitgawe meer hieroor.
Fokus op die LRF Veeskool
Dis tyd vir die 2026 LRF Veeskool en in die Oktober-uitgawe van Veeplaas kan lesers uitsien na ’n paar artikels wat handel oor van die kenners se aanbiedings by vanjaar se skool. Onderwerpe wat gedek word, sluit in die liggaamskondisie en reproduksie van koeie, die invloed van koeivoeding tydens dragtigheid op fetale ontwikkeling en lewensprestasie, die teling van beter beesvleis, en waarom seleksie vir funksionele doeltreffendheid belangrik is.
’n Vrystaatse verhaal van veldherstel
Johann en Annemie Fourie boer op die plaas Goedgegeven in die Warden-distrik. Dit is op die oog af ’n normale Oos-Vrystaatse gemengde boerdery met mielies en sojabone, beeste en skape. Twee dinge maak hierdie boerdery egter buitengewoon: Johann se veldbestuurstelsel en die feit dat hy van ’n koei-kalfproduksiestelsel na ’n osboerdery oorgeskakel het. Lees meer oor sy unieke veldbestuurstelsel in die Oktober-uitgawe van Veeplaas.
Artikel 9-implikasies vir die suiwelbedryf
Die afgelope jaar het bek-en-klouseer (BEK)-uitbrekings melkprodusente regoor die land lamgelê en dit was vinnig duidelik dat die bestaande regulasies vir die hantering van die siekte, nie voldoende was nie. ’n Ministeriële taakspan is gevolglik aangestel en uiteindelik is die sogenaamde Artikel 9-regulasies afgekondig. Dr Mark Chimes, veeartsenykundige raadgewer by Melk SA, het die nuwe regulasies tydens ’n webinaar van die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) toegelig.
Nuwe entstofbenadering kan orfbeheer versterk
Vir baie skaap- en bokprodusente in Suid-Afrika is orf, ook bekend as vuilbek, ’n bekende maar dikwels onderskatte virussiekte. Dit is selde dodelik, maar kan dierewelstand, produktiwiteit en winsgewendheid benadeel. Daarmee saam kan die siekte ekonomiese verliese veroorsaak weens stadiger groei, swak voerinname, sekondêre infeksies en bykomende arbeidskoste. Lees in hierdie uitgawe oor ’n nuwe-generasie entstof wat binnekort ’n veiliger en meer betroubare manier kan bied om dié siekte te beheer.
Kry vandag nog jou eksemplaar van die Oktober 2026-uitgawe van Veeplaas by jou naaste kleinhandelaar of maak seker dat jy daarop inteken. Veeplaas is as ’n interaktiewe blaaiboek by https://digimags.agriorbit.com/books/Veeplaas-Oktober-2026 beskikbaar en kan ook by www.magzter.com aangekoop word. Kontak Rochelle George by 074 153 8380 om in te teken op die PDF-weergawe of hardekopie.




