Veeplaas kry ’n nuwe redakteur

Estimated reading time: 2 minutes

Plaas Media is trots om aan te kondig dat dr WA Lombard met ingang van 1 November 2023 as die nuwe redakteur van Veeplaas sal optree. Hy neem die leisels oor by prof Frikkie Maré wat hierdie rol sedert Augustus 2020 vervul het. Hierdie aankondiging volg nadat prof Maré vroeër vanjaar aangestel is as die nuwe hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO). Hy sal die pos amptelik vanaf 1 Februarie 2024 beklee.

Lees die persverklaring in Engels hier.

Dr Lombard is ’n bekende by Veeplaas en skryf reeds sedert 2012 artikels vir die publikasie, toe hy nog ’n honneurstudent in landbou-ekonomie was. Hy het ook al vir talle ander tydskrifte wat onder die Plaas Media-vaandel uitgegee word, geskryf en navorsing gedoen. Hy is ook ’n gereelde bydraer tot die maatskappy se aanlyn- en uitsaaiplatforms.

Buiten sy voltydse pos as senior lektor in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit vir Natuur- en Landbouwetenskappe, is dr Lombard ook ’n kranige deeltydse veeboer. Hy is getroud met Marese, ’n lektor in belastingsake aan die Universiteit van die Vrystaat. Hulle het twee kinders, en woon en werk in Bloemfontein.

Prof Maré sal die redakteurskap van Veeplaas oor die volgende paar maande aan dr Lombard oorhandig en sal in hierdie tyd steeds bydraes tot die tydskrif lewer. “Prof Maré se bydraes tot en passie vir die lewendehawe-sektor, veral die ekonomie-sy daarvan, het duidelik in Veeplaas en in ons ander mediaplatforms gestalte gekry,” sê Lynette Louw, hoof uitvoerende beampte van Plaas Media. “Ek glo dat hy hierdie passie met hom sal saamdra in sy nuwe posisie by die RPO en dat dit die land se rooivleisbedryf tot groot voordeel sal strek. Die Plaas Media-familie gaan hom vir seker mis, maar hierdie is nie totsiens nie. Ons dek verskeie RPO-aktiwiteite en sal dus gereeld van hom hoor.

“Terselfdertyd is ons baie opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in die Veeplaas-verhaal en glo dat dr Lombard sy nuwe rol met onderskeiding sal vervul. Hy is vir meer as ’n dekade al ’n lid van Plaas Media se redaksionele span, en hy verstaan ons filosofie en toewyding tot die skep van goed-nagevorste wetenskaplike en semi-wetenskaplike inhoud. Hy is self ’n ontluikende boer en weet hoe om tegniese inligting vir beide ontluikende en kommersiële boere aan te bied.”

Die Januarie 2024-uitgawe van Veeplaas sal die eerste uitgawe onder dr Lombard se redakteurskap wees. Werk aan hierdie uitgawe begin reeds in November 2023. – Persverklaring, Plaas Media

Vir enige navrae, stuur ‘n epos aan Lynette Louw na lynette@plaasmedia.co.za

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...

’n Belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering

Estimated reading time: 4 minutes Diere se prestasie word bepaal deur hul genetiese samestelling sowel...

Pak die lente- en groenweidingsuitdagings trompop

Estimated reading time: 4 minutes Die lenteseisoen in Suid-Afrika se somerreënvalgebiede kan om verskeie redes...

Unlocking production potential, one step at a time

Estimated reading time: 8 minutes Unlocking the full production potential of the livestock industry –...