Monday, August 15, 2022

Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur 2022: Wenner aangekondig

Estimated reading time: 4 minutes

Aan die begin van 2022 het Plaas Media ‘n nuwe projek, die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur, van stapel gestuur. Die projek word in samewerking met spesialis landboukonsultant, dr Louis du Pisani, ‘n kundige op die gebied van veldweiding, lewendehawe en boerdery-ekonomie, aangebied.

Kyk die aankondiging hier.

Die doel van dié projek is die identifisering van veeprodusente wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas en implementeer, en wat passievol is oor die bewaring van hul omgewing en hulpbronne. “Hierdie is ook individue wat bereid is om hul kennis oor te dra,” verduidelik Lynette Louw, hoof uitvoerende bestuurder van Plaas Media, “en ander veeprodusente, wat hierdie selfde passie vir hul omgewing deel, touwys te maak om hierdie praktyke ook op hul eie plase te implementeer. Kennisoordrag en die deel van inligting is ‘n kenmerk wat veeproduksie in Suid-Afrika uniek en onselfsugtig maak. Daarom beskou ons hierdie projek as ‘n mentorskapinisiatief, eerder as ‘n kompetisie.”

Kompetisieborge

Aangesien klimaatverandering tans hoog op die plaaslike en wêreldagenda is, het hierdie eerste aanbieding van die projek belangstelling onder talle maatskappye aangewakker. Die 2022-projek het dus afgeskop met vyf uitsonderlike borge: Metos SA, Nedbank, Nutri Feeds, Pioneer Saad en Zoetis.

Kyk gerus na die onderhoude wat met van die borge se verteenwoordigers gevoer is, en waar hulle verduidelik hoe elk van hierdie maatskappye klimaatsverandering en klimaatslim boerdery beskou, hou gerus ‘n oog op Plaas TV om die res van hierdie onderhoude te sien. Volg hierdie skakel na Plaas TV se YouTube-kanaal: https://www.youtube.com/playlist?list=PLWJpN39Xw5Y5B_gR5JJQnruRry8SKn9-e .

Inskrywings en finaliste

Om in te skryf, moes deelnemers ‘n vraelys op www.agriorbit.com voltooi waarin verskeie vrae oor hul boerderypraktyke beantwoord moes word. Die ses areas wat aangespreek is, is veldbestuur, kuddebestuur, die bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur, en kennis oor klimaatsverandering.

Elf boere van regoor Suid-Afrika het ingeskryf vir die projek en op grond van die punte wat verwerf is met die voltooi van die aanvanklike vraelys, is vier finaliste aangewys. Hulle is James Faber, Matthew Morgan, Stephan Erasmus en Willie Storm. Plaas TV-kykers en Agriorbit-lesers kon vroeg in die kompetisie die finaliste beter leer ken. Volg gerus hierdie skakel om meer oor hulle te uit te vind: https://agriorbit.com/ontmoet-die-2022-veeplaas-klimaatslim-ambassadeur-finaliste/

Die beoordelaars, dr Louis du Pisani en Kobus Marais, het elk van die finaliste op hul plase besoek waartydens inligting geverifieer is, verdere vrae gestel is, en in diepte gekyk is na die deelnemers se veld, grond, kuddes en boerderypraktyke. Die puntestelle is op grond van die fisiese besoeke aangepas en na verdere verifiëring deur ‘n paneel bestaande uit dr Du Pisani, prof Frikkie Maré, redakteur van Veeplaas, en Lynette Louw, HUB van Plaas Media, is die wenner in vanjaar se projek bevestig.

Prof Maré meen dat alhoewel daar net een wenner is, dit belangrik is om te verstaan dat elk van die deelnemers en finaliste ‘n enorme bydrae het om te maak en dat veeprodusente beslis by hulle almal kan leer. “Die ses afdelings waarin deelnemers beoordeel is, beteken dat party meer uitgestaan het in sekere afdelings as in ander. Die uiteindelike wenner was die persoon wat gemiddeld die beste oor al die afdelings gevaar het, maar die projek se formaat is van so ‘n aard, dat ons erkenning en blootstelling kan gee aan ander deelnemers wat uitsonderlik gevaar het in spesifieke afdelings. Daar is waardevolle lesse by hulle te leer.”

Twee van die finaliste, James Faber van Glen Ross Boerdery in Barkly-Wes en Willie Storm wie sy boerdery in Olifantshoek en Postmasburg bedryf, was kop aan kop en slegs ‘n fraksie van ‘n persentasie (0,3%) het dié twee produsente geskei.

Dr du Pisani vertel meer: “James se boerdery het veral goed gevaar wat kudde- en finansiële bestuur betref, en hy het ook ‘n uitstekende rekordhoudingstelsel waarmee hy sy boerdery deurlopend evalueer en tydige aanpassings in sy bestuur maak. Willie se boerdery het weer uitstekend gevaar in die afdelings vir veld- en waterbestuur, asook die beheer van bosverdigting. Hy het merkwaardige waarnemingsvermoëns.

“Die twee ander finaliste, Stefan Erasmus van Middelburg in die Oos-Kaap, en Matthew Morgan van Tarkastad, het ook baie goeie punte behaal in die afdeling vir kuddebestuur. Beide deelnemers steun op besproeide weidings om die invloed van wisselvallige klimaat in hul boerderye te stabiliseer. Stefan volg ‘n intensiewe reproduksieprogram, terwyl Matthew sterk klem lê op die uitskot van ooie wat nie goed produseer nie. Beide deelnemers plaas ook baie klem op die verbetering van hul plase se veldtoestand en die benutting daarvan.”

En die 2022-wenner is …

Na baie kilometers, gesprekvoering en die verifiëring van puntetellings, is dit vir Plaas Media ‘n groot voorreg om die eerste Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur aan te wys. Geluk aan James Faber van Glen Ross Boerdery. James is ‘n waardige wenner en die beoordelaars was veral beïndruk met die wyse waarop sy boerdery bestuur word, sy stelsels in stand gehou word, en hy alles met rekords kan bevestig en bestuur. Kyk hier na die aankondiging van die wenner: https://www.youtube.com/watch?v=GfExcpSp0gc

Die boeredag

‘n Boeredag sal later vanjaar op James se plaas aangebied word waar hy sal gesels oor en kan demonstreer watter praktyke hy op sy plaas toepas. Die projek se borge sal ook daar wees om met produsente hand te skud. Hou die pers dop vir meer inligting. – Persverklaring, Plaas Media

Vir meer inligting oor die kompetisie en/of borgskapgeleenthede, kontak Deidré Louw per epos op deidre@plaasmedia.co.za.

Popular stories