Estimated reading time: 6 minutes

Met landbou-insetkoste wat deur die dak skiet en voorspellings dat, ten spyte van die goeie reën, die volgende droogte op pad is, word produsente genoop om buite die boks te dink. Dit is presies wat dr Stoffel du Toit, mediese dokter in Bloemfontein en naweekboer in Hopetown, gedoen het toe die vorige droogte op sy kwaaiste was.

Doringlose turksvye is meer as net ’n droogtevoer.

Hy het die waarde van turksvye as ’n goedkoper voerbron nagevors, en na vele probeerslae en lesse, het hy uiteindelik nou ’n produk wat sy skape dwarsdeur die jaar van kos voorsien. In die proses het hy ook ’n natuurlike fikseermiddel gevind wat keer dat die pulp verder fermenteer, sodat hy dit later in die jaar steeds kan gebruik. Hy maak voerblokke uit die pulp, wat hom die helfte van gekoopte voerblokke kos.

Dr Stoffel du Toit het vanjaar ’n insiggewende inligtingsdag op sy plaas in die Hopetown-omgewing aangebied, oor die gebruik van turksvye in die maak van veevoer. Op die foto is Johan Vlok, Christopher Rothman en Van Aard Smit wat ook die geleentheid bygewoon het.

Hy het verskeie kundiges by sy projek betrek, waaronder dr Herman Fouché, ’n landboukundige aan die Universiteit van die Vrystaat. Dr Fouché oorreed produsente al vir 20 jaar van die waarde van turksvye as voeraanvulling. Hy sê mense kyk dikwels die alledaagse mis – die turksvy is ’n geharde gewas met meer waarde as wat baie besef.

Vele voordele van turksvye

Behalwe dat turksvye ’n lekkerny is, het die olie van turksvypitte medisinale waarde en word dié olie met groot sukses vir velprobleme en skoonheidsorg aangewend. Daarby is dit ook ’n ideale voedingsbron vir beeste en skape. 

Op die foto verduidelik Stoffel du Toit aan besoekers hoe hy te werk gaan om turksvye in te span om voer vir sy diere te maak én om die pitte van die turksvy uit te haal, wat weer gebruik word om olie te pers.

Stoffel het aanvanklik begin deur die blaaie van die turksvye vir sy diere te voer, maar met dr Fouché se raad het hy die blaaie begin opkerf en laat droog word, voordat dit in ’n meel gemaal word. “Die meel gebruik ons in die plek van mieliemeel, wat baie duur is. Ons vervang 60% van die mieliemeel in die voermengsel met die turksvymeel,” sê Stoffel.

Verwerking na voerprodukte

Dit het Stoffel egter gepla dat die sap van die turksvye weggegooi word. “Ek het na ’n oplossing gesoek om die pulp te bewaar deur die fermenteringsproses te stop. Met die hulp van Christopher Rothmann, ’n PhD-kandidaat in voedselbiotegnologie aan die Universiteit van die Vrystaat, het ons ’n fikseermiddel gekry wat hiervoor ingespan kon word.”

Hoewel turksvye in Januarie/Februarie volop is en dan verwerk kan word, het veeprodusente regdeur die jaar voer nodig. “Daar is baie maniere om turksvye aan te wend, byvoorbeeld in kuilvoer, maar my doelwit is om ’n produk te hê wat die diere regdeur die winter van al die nodige voedingswaardes kan voorsien.”

Hiervoor het hy ’n masjien gebou wat die pitte, skille en pulp van mekaar skei. Hy het aanvanklik net die pulp gebruik, maar later besef hy kan die skille ook verpulp. Dit verbeter die fruktose:glukose-verhouding, wat ’n gesonder produk beteken.

Voedingswaarde vir produksie

Deur die fikseermiddel by die pulp te voeg, kan hy ’n tweede produk bysit wat die proteïengehalte van die produk verhoog. “Laboratoriumtoetse het gewys dat my turksvyblaaie 6,5% proteïen bevat. Met die ekstra produk wat ek byvoeg, kan ek die proteïengehalte tot 20% verhoog. Sodoende bly die suiker dieselfde, maar dit het ’n proteïenwaarde gelykstaande aan lusern.”

Met behulp van wetenskaplike resepte vanaf voedingkundiges, kan hy verskillende mengsels by dié basisproduk voeg, na gelang van die diere se behoeftes. Hy maak 13 verskillende soorte voerblokke vir sy skape in verskillende stadia van reproduksie.

Dr Fouché sê van dié resepte is al vir etlike jare beskikbaar, maar dat innoveerders soos Stoffel nodig is om veeboere te oortuig dat turksvye onskatbare waarde tot die voervloei kan bydra.

Vir meer inligting, kontak dr Stoffel du Toit by 083 262 1152.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene