Veediefstal en agteruitgang: Genoeg is genoeg!

Estimated reading time: 2 minutes

Die Harrismith Distriksboere-unie, in samewerking met Vrystaat Landbou, het ’n vergadering met hooggeplaastes in die Vrystaatse Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Departement van Justisie gereël om die probleme wat produsente in die distrik met wet en orde, en kriminaliteit ondervind, aan te pak.

Volgens George Galloway, voorsitter van die Harrismith Distriksboere-unie, was die vergadering se doel spesifiek om direk met die SAPD en staatsaanklaers gesprek te voer.

“Ons wou die klagtes wat produsente daagliks het oor die bywoning van hofsake, die toename in veediefstal en die gebrek aan kapasiteit om wet en orde te handhaaf, met die bevelvoerders van hierdie strukture bespreek.”

Lees meer oor Vrystaat Landbou se ondersoek na veediefstal.

Een van die probleme is dat getuies se tyd gemors word deurdat hulle geroep word om by ’n saak te getuig en dan die hele dag by die hof moet wag net om te hoor dat die saak uitgestel word. “Dit frustreer ons baie dat getuies nie ingelig word dat hulle verskoon kan word nie en dat sake onnodig uitgestel word,” verduidelik hy.

‘n Ander saak wat ter sprake gekom het, is polisiepatrollies in die distrik wat nie meer gedoen word nie, alhoewel daar genoeg mannekrag en voertuie in die distrik is om dit te kan doen.

“Ons as belastingbetalers is geregtig op goeie diens van die regering. Die polisie en staatsaanklaers is in der waarheid werknemers van die publiek. As ons vir dienste betaal, wil ons behoorlike dienste gelewer hê. Ons het hierdie boodskap sterk by die vergadering oorgedra.”

Die vergadering was dit eens dat daar wel amptenare van die SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag is wat baie hard werk en graag ’n verskil wil maak. 

Kyk na Plaas TV se insetsel oor veediefstal.

Galloway glo dat die gesprek vrugbaar was. Nog ’n saak wat aangeraak is, is die kwessie rondom riool wat in die Wilgerivier ingepomp word. Dit het ernstige gevolge vir besproeiingsprodusente en veeprodusente wat van rivierwater afhanklik is. ’n Klag is reeds teen die munisipale bestuurder hieroor gelê.

“Polisiestatistiek dui op ’n afname in veediefstalsake in ons omgewing. Dit is egter nie ’n aanduiding van suksesse wat die polisie behaal nie, maar eerder ’n aanduiding van die doeltreffendheid van ’n private sekuriteitsmaatskappy wat produsente op groot skaal gebruik. Die feit dat van ons groter produsente jaarliks sowat ’n miljoen rand aan sekuriteit spandeer omdat die polisie nie opgewasse is nie, is doodgewoon onaanvaarbaar.”

Galloway het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om betrokke te raak by die inisiatiewe om plaaslike gemeenskappe te stabiliseer. – Izak Hofmeyr, Plaas Media