Estimated reading time: 2 minutes

’n Totaal van 74 Merino-skape wat gedurende die nag van 26 Februarie 2022 in Rykmansvlakte in die Bothaville-distrik gesteel is, is herwin. Dit is danksy speurders verbonde aan die Veediefstal-eenhede van Odendaalsrus en Stilfontein se vinnige optrede.

Voorkoming van veediefstal moet anders benader word.

Verdagtes het die skape, wat 15 lammers en 55 ooie insluit, vir vyf kilometer aangejaag na ʼn kraal waar die diere op ʼn voertuig gelaai en vervoer is. Die voertuig is egter deur die boerderygemeenskap geïdentifiseer. Gevolglik het die vinnige optrede en ondersoek van veediefstalspeurders, AO de Beer en Sersant Mandla, tesame met blitspatrollie wat inligting opgevolg het, daartoe gelei dat al die vee op ʼn spesifieke plaas teruggevind is. Die diere se waarde beloop R140 000.

Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstalvoorkomingsforum van die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) in die Vrystaat, bedank die polisie vir hul vinnige optrede, veral die spesialiseenhede wat tot die herwinning van die vee gelei het. Kruger maan vee-eienaars om voornemende werknemers se werksrekords aan te vra voordat hulle in diens geneem word. Vee-eienaars word ook versoek om so vinnig as moontlik ʼn saak by die polisie aanhangig te maak wanneer hul agterkom dat van hul vee gesteel is.

Die waarde van identifikasie op ‘n veeplaas.

Intussen meld Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, dat die Bothaville-area die laaste paar maande erg onder veediefstal deurloop. “Groot getalle vee word op een slag vanaf ʼn plaas gesteel en het ’n groot impak op boere se inkomste.” Die vinnige optrede van speurders en ander reaksie-eenhede van die polisie dra ʼn positiewe beeld uit dat misdaad wel vinnig aangespreek kan en moet word.– Persverklaring, Vrystaat Landbou

Vrystaat Landbou bestaan ​​uit ‘n gevestigde struktuur wat lede bystaan ​​en na hul gemeenskaplike belange omsien. Altesaam 4 000 lede word binne 168 boereverenigings in die 20 munisipale distrikte van die Vrystaat geakkommodeer. Vrystaat Landbou se lede bepaal die organisasie se oorhoofse bestuur en strategiese rigting. Personeellede, met die kantoor in Bloemfontein, ondersteun lede en bestuur hoofsaaklik in ‘n uitvoerende hoedanigheid. Tans dien 115 lede op Vrystaat Landbou se strategiese werkareas (komitees).