Vanjaar se top tien Chenin Blanc-wyne aangewys

105
Wynkenners sal vanjaar se wenwyne van die Standard Bank Chenin Blanc Top Ten Challenge kan proe in die lente.
Wynkenners sal vanjaar se wenwyne van die Standard Bank Chenin Blanc Top Ten Challenge kan proe in die lente.

Estimated reading time: 5 minutes

Van die wêreld se invloedrykste wynkenners sal vanjaar se wenwyne in die Standard Bank Chenin Blanc Top Ten Challenge proe wanneer internasionale wynkopers, wynskrywers en die media die land in die lente besoek. Volgens die kompetisie se organiseerder, die Chenin Blanc Vereniging van Suid-Afrika (CBVSA), is die voorneme om dié besoekers bloot te stel aan die dinamiese baanbrekerswerk wat in Suid-Afrika die maak van Chenin Blanc-wyne kenmerk. 

James Pietersen, voorsitter van vanjaar se span beoordelaars, het gesê na die paneel se mening kan die bekroonde wyne gesien word as ’n versinnebeelding van die beste wat die land voortbring as dit by Chenin Blanc kom.  

“Hierdie hoogs uiteenlopende versameling wyne weerspieël ’n kombinasie van innovering en bedrewe eksperimentering wat saam lei tot die vernuftige en verbeeldingryke maak van wyn. Die bekroonde wyne, selfs beter as verlede jaar se tien voortreflikes, laat ons trots voel op die storie wat hulle vertel omtrent die energie en kreatiwiteit wat ons bedryf kenmerk,” het Pietersen gesê. 

Die ingeskrewe wyne is blind geproe en vergelyk met soortgelyke wyne van topgehalte wat nie ingeskryf was nie om te verseker dat die paneel hulle binne die breë konteks van die beste voorbeelde in die bedryf beoordeel. 

“Die bekroonde tien wyne sal Suid-Afrika in staat stel om, ook in die geval van Chenin, sy beste voet voor te sit wanneer hulle later vanjaar geproe word – eers in Oktober by Cape Wine 2022, die drie-jaarlikse uitstalling vir die wêreldhandel en internasionale wynskrywers, en dan weer by die multi-dissiplinêre Chenin Blanc Internasionale Kongres in November.” 

Kyk saam na Plaas TV se insetsel oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf hier.

Suid-Afrika ’n voorloper van Chenin Blanc 

Daar is meer Chenin Blanc in Suid-Afrika aangeplant as in die res van die wêreld en dit word internasionaal gereken as die land se voorste kultivar. Suid-Afrika word ook gesien as die land wat ’n pioniersrol gespeel het in die ontwikkeling van ’n nuwe geslag oorspronklike en veelsydige style, en wat daarmee ander elders in die wêreld geïnspireer het om hul eie unieke weergawes van die kultivar te ontwikkel. 

“Chenin se bewese aanpasbaarheid by die klimaat het onlangs daartoe gelei dat dit opnuut ʼn gunsteling in Frankryk se Loire Vallei geword het, waar hierdie druifsoort sy oorsprong het. Dit is tans ook die geval in ander wynproduserende lande wat ook met stygende temperature te make het,” het Pietersen gesê. 

“Ons het onder die 137 ingeskrewe wyne selfs groter stilistiese gedurfdheid en diversiteit as in die verlede gesien. Daar was ’n groter gebruik van druiwe uit nuwer wynbou-areas, ’n groter gebruik van dopkontak, van natuurlike gisting en van ’n groter bereidwilligheid om met ’n breër verskeidenheid van gistings- en verouderingshouers te werk. Die resultate was inderdaad skouspelagtig. 

Lees meer oor top Pinotage wyne hier.

“Bykans tweederdes van die inskrywings is in hout verouder, maar hierdie onderskeiding skyn nou minder relevant te wees in ’n tyd waar meer wynmakers nie net voorkeur gee aan minder nuwe hout nie, maar ook vir ou en groter vate asook vir amforas, vlekvrye staal, betontenke en eiervormige houers. Die verskillende kombinasies van verouderingshouers wat hulle gebruik, voeg ook al meer nuwe vlakke van nuanse en kompleksiteit by.” 

Pietersen het gesê ou wingerde het oorheers in die bekroonde wyne. Die meeste van die wingerde was ouer as 30 jaar en een selfs 70 jaar oud. “Maar daar is ook wyne gemaak van die druiwe van jonger wingerde, van agt tot tien jaar, wat vir my dui op moontlik vernuwende en meer deurdagte benaderings wat in die wingerd gevolg word. 

“Hoewel vier van die bekroonde wyne hul oorsprong in die Stellenbosch-omgewing het, kom van die druiwe uit groot dele van die Kaapse wyngebied – van onder meer die Tygerberg, Swartland, Worcester, Piekenierskloof, Tulbagh en Wellington.” 

Lees meer oor Kanonkop Wyne se internasionale prestasie hier.

Daar is vier nuwelinge onder vanjaar se wenners. Hulle kom van die Nabygelegen Private Kelder in Wellington; Piekenenierskloof-Wynmaatskappy in Citrusdal; Rascallion-Wyne, ‘n wynhandelaar met sy hoofkantoor op Stellenbosch wat sy druiwe van oraloor aankoop; en Stellenbosch Vineyards.  

Die wenners van die Standard Bank Chenin Blanc Top Ten Challenge, in alfabetiese orde, is soos volg:  

•           Alvi’s Drift Private Cellar 221 Chenin Blanc 2021.  

•           Kaapzicht Wine Estate Kliprug Chenin Blanc 2021.  

•           Nabygelegen Private Cellar Chenin Blanc 2021.  

•           Piekenierskloof Wine Company Bergendal Chenin Blanc Old Vine 2021.  

•           Rascallion Devonian Chenin Blanc 2021.  

•           Rijk’s Cellar Touch Chenin Blanc 2020.  

•           Spier Wines Seaward Chenin Blanc 2021.  

•           Stellenbosch Vineyards Bushvine Chenin Blanc 2021.  

•           Stellenrust Wine Estate Stellenbosch Manor Fermented Chenin Blanc 2020.  

•           Stellenrust Wine Estate Old Bush Vine Chenin Blanc 2021.   

Stellenrust was nog elke jaar sedert die instelling van die kompetisie in 2014 – dus, nege jaar agtereenvolgend – onder die top tien. Dit is ook die agtste keer dat Spier se naam op die lys verskyn. In die geval van Rijk’s is dit vir die vierde keer, terwyl dit die tweede agtereenvolgende jaar is dat Alvi’s Drift se naam onder wenners pryk. 

Vind meer uit oor Sauvignon Blanc wyne hier.

Ken Forrester, medestigter en voorsitter van die CBVSA, het gesê dit is nie verbasend dat die standaarde jaar na jaar styg nie. “As ’n groep is plaaslike wynmakers deurlopend besig om hoër eise aan hulself te stel. Hul geesdrif vir Chenin dien as aansporing hiervoor. Wat egter wel verbasend is, is dat so baie deelnemers in hul liefde vir Chenin, bo die enorme eise en beperkinge wat die pandemie aan hulle gestel het kon uitstyg. Dit sê nogal heelwat omtrent hul vermoë en dapperheid.” 

Die tien wenners ontvang elke jaar ’n kontantprys. ’n Voorwaarde van die kompetisie is dat die geld aangewend word ter verbetering van die lewensgehalte van plaaswerkers en/of hul gemeenskappe. – Persverklaring, Chenin Blanc Vereniging van SA