Estimated reading time: 6 minutes
Verskeie aspekte van die rooivleisbedryf moet saamwerk om dié bedryf in ‘n volhoubare en mededingende bedryf te verander. Dit behels die samewerking en koördinering van al die skakels van die rooivleiswaardeketting, deeglike beplanning vir ‘n nuwe omgewing wat aardverwarming kan trotseer, en doeltreffende bekamping en beheer van indringerplante.
Dit was die boodskap wat afgevaardigdes op die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se kongres in Limpopo gekry het. ‘n Nuwe bestuur is ook verkies tydens die byeenkoms wat in Bufland Agri se veilingsentrum net buite Naboomspuit (Mookgophong) in Limpopo gehou is.
‘n Strategiese bedryfsplan
Dewald Olivier, uitvoerende hoof van Red Meat Industry Services (RMIS), het gesê die strategiese plan vir die rooivleisbedryf van Suid-Afrika beoog om die bedryf van ‘n broos en marginale subsektor te laat groei tot ‘n volhoubare en mededingende bedryf wat naspeurbare vleis van uitstaande gehalte aan die wêreldbevolking kan lewer.
Die bedryf het die potensiaal om tot 2030 met meer as 20% te groei, wat meer as R12 miljard tot die bruto binnelandse produk (BBP) van die landboubedryf kan bydra. Met sowat 40 tot 50% van die nasionale kudde in die besit van kommunale en kleinboere, kan dié deel van die bedryf ‘n dinamiese drywer word om die bestaan van meer as ‘n miljoen huishoudings wat betrokke is by veeproduksie, te verander.
Die anker van die landbou lê in die veebedryf en die primêre deel van die waardeketting sal ‘n belangrike rol moet speel. Van die besluite wat geneem word, is egter soms nie tot voordeel van die primêre lede nie. Daarom sal al die belanghebbendes bymekaar moet kom, en saam besluit wat die oogmerk van die pad vorentoe moet wees.
Lees meer oor die RMIS se rol in die vleisbedryf hier.
Hy het gesê daar is vier fokuspunte. Die eerste gaan oor diere en mense se gesondheid. Bek-en-klouseer (BEK) en brusellose moet hokgeslaan word, produkveiligheid moet met doeltreffende inspeksies deur die hele waardeketting gehandhaaf word, en die BEK-vrye status moet herwin word om geslaagd internasionaal te kan meeding en bemark.
Tweedens is transformasie noodsaaklik waar inklusiewe groei bewerkstellig moet word om die bedryf as ‘n geheel met 35% te laat groei. Ontluikende en kommunale boere moet deel daarvan wees. As die koeikomponent van hul kuddes van gemiddeld 41% opgestoot word na 47% en hul speenpersentasie van 40% tot minstens 50%, sal hulle sowat 155 000 meer speenkalwers produseer. Met hulp aan medium tot groot swart beesprodusente, kan 250 000 bykomende speenkalwers geproduseer word.
Marktoegang en mededingendheid is die volgende twee faktore. Vir marktoegang is naspeurbaarheid noodsaaklik om die aanval wat wêreldwyd teen rooivleis geloods word, die hoof te bied. Afrika se mense sal egter aanhou rooivleis eet, meen hy. Die bedryf moet met voorkeursnitte wat aan gehaltestandaarde gekoppel is, ‘n nismark in die buiteland vestig.
Pasop vir lantana
Paul Avenant, ‘n weidingkundige van Limpopo se Departement van Landbou, Grondsake en Landelike Ontwikkeling, het boere weer daarop bedag gemaak dat gras die goedkoopste voeding vir diere is en dat diere onder gunstige toestande van die veld af bemark kan word. Gras is egter deel van ‘n plantgemeenskap wat goed bestuur moet word sodat veral indringerspesies nie oorneem nie.
Hy het veral gewaarsku teen die indringer, lantana, wat ‘n uitdaging deur die hele land is. Hoewel die saad relatief swak ontkiem, is dit ‘n indringer wat, as dit eers vatplek gekry het, onder feitlik alle toestande floreer en alle inheemse gewasse verdring.
Dit vorm ‘n digte stand wat groot oppervlaktes kan beslaan en toegang vir mense en diere beperk, die drakrag van die veld verlaag en diere wat daaraan vreet, vergiftig. Die gifstof in die blare vergiftig ook die grond as die blare afval, sodat ander gewasse nie daar groei nie.
Lees meer oor die tendense van die afgelope 10 jaar in die vleisbedryf hier.
Lantana-vergifting
‘n Giftige dosis vir ‘n koei van sowat 500kg, is van 5 tot 20kg vars blare. Die simptome van diere wat lantana-vergiftiging opgedoen het, is gevoeligheid vir sonlig, skade aan die lewer en niere, geel verkleuring van die wit van hul oë, tandvleis, vel, neus en mond, geswolle gesigsdele weens inflammasie en selfs sere aan en onder hul tonge.
As tekens van lantana-vergiftiging opgemerk word, kontak jou veearts, haal die diere uit die kamp waar lantana voorkom, en hou hulle in die skaduwee.
Om die voorkoms van lantana te beheer, kan die vegetatiewe massa verwyder word deur dit af te saag, die wortels meganies uit die grond te verwyder, of dit te brand. Boere moet egter versigtig wees met brand, want dit kan hergroei stimuleer. Nasorg is noodsaaklik om die indringer uit te roei. Dit kan ook chemies beheer word met middels wat geregistreer is om lantana dood te maak deur die plante wat tot twee meter hoog is, se blare te bespuit.
As die bosse verwyder is, is die grond kaal en moet herwin word deur saad in te saai en die area te beskerm deur takke daaroor te pak. Voorkoming is beslis beter as genesing.
Aardverwarming en die produsent
Dr Henno Havenga van Noordwes-universiteit, het verduidelik hoe talle modelle gebruik word om die verwagte invloed van aardverwarming te bepaal en die resultate algoritmies te verwerk om meer betroubare gegewens te kry.
Die verwagting is dat wisselende klimaatuiterstes oor Suid-Afrika waarskynlik is en feller droogtes en storms verwag kan word. Oor die langer termyn word ‘n afname in gemiddelde reënval, ‘n toename in swaar reënval en oorstromings, en ‘n toename in droogtetoestande klaar waargeneem. Die verwagting is dat dit nog droër gaan raak, sterker winde gaan waai en brandgevare sal toeneem. In die oostelike dele van die land word ‘n toename in kategorie vier en vyf tropiese storms verwag.
Vir Limpopo word verwag dat gemiddeld 50mm minder reën oor 50 jaar sal val en dat dit gemiddeld 2,5°C warmer sal wees. Boere sal hul bestuur moet aanpas by die oesbeperkende toestande en opbrengste met doelgerigte presisiemetodes verhoog, ondanks die klimaatsverandering. Produsente sal waarskynlik ook mettertyd moet bewys dat hulle proaktief teen aardverwarming optree om toegang tot internasionale markte te kry, het hy gesê.
Tydens die kongres is Douw Pelser as nuwe voorsitter en Schalk van der Walt as ondervoorsitter van die RPO Limpopo verkies. Die addisionele lede is Bekker Pelser, Henk Malan en Lukas Eksteen. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Wilma Prinsloo by 082 555 4553 of w.prinsloo1@mweb.co.za