Estimated reading time: 3 minutes

Die Nasionale Dieregesondheidsforum het met groot kommer kennis geneem van die uitbreking van bek-en-klouseer in die Potchefstroom-omgewing van Noordwes soos gerapporteer aan die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE), deur die nasionale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, wat ook ‘n persverklaring in dié verband uitgereik het.

Dit wil voorkom asof die uitbreking in die Potchefstroom-omgewing gelokaliseerd is en indien dit reg hanteer word, sal dit vinnig opgelos kan word. Die Noordwes Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling en die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling sal ‘n leidende rol hier moet speel en die nasionale en provinsiale Dieregesondheidsforum sal hul volle ondersteuning bied.

Luister hier na Gerhard Schutte, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum, rakende die bek-en-klouseer uitbreking:

Hierdie uitbreking is ver buite die normale endemiese bek-en-klouseer gebiede en dit kan ‘n baie groot impak op die handel van lewendehawe en lewendehaweprodukte hê. Die uitbreking in die Potchefstroom-omgewing sal spoedeisend hanteer moet word en net soos in die geval van Limpopo en KwaZulu-Natal, sal Noordwes se Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, asook die nasionale en provinsiale dieregesondheidsforum ‘n leidende rol moet speel.

Die belangrikheid van biosekuriteitmaatreëls

Die Nasionale Dieregesondheidsforum ondersteun die nuwe Landbou Produkte-agenteraad (APAC) se biosekuriteitmaatreëls met betrekking tot veilings en dit is noodsaaklik dat dit geïmplimeteer word.

Dit wil voorkom asof hierdie uitbreking weer eens die gevolg is van die moontlike onwettige verskuiwing van beeste uit die geaffekteerde gebiede. Die nasionale Dieregesondheidsforum tesame met die bedrywe wil dit op rekord plaas dat sulke aksies as industrïele sabotasie gesien word en dat daar uiters drasties opgetree sal word teen individue wat hulle hieraan skuldig maak. Die bedrywe wil hul ondersteuning verleen om saam met die departement en die provinsie sulke persone en instansies aan die pen te laat ry.

Die Nasionale Dieregesondheidsforum doen ‘n beroep op die bedryf om selfregulering toe te pas en die beweging van vee tot die minimum te beperk. Enige nuwe diere wat op ‘n eiendom/plaas ontvang word moet eers in kwarantyn geplaas word. Die tyd is ook nou ryp vir boere om vrywillige naspeurbaarheidstelsels/bestuursprogramme te implementeer en plase moet al meer as ‘n kompartement bestuur word.

Die Nasionale Dieregesondheidsforum versoek ook dat almal hulle sal vergewis van die kliniese simptome van bek-en-klouseer en enige verdagte gevalle aan die plaaslike staatsveearts rapporteer. Die nasionale Dieregesondheidsforum is steeds baie bekommerd dat die vorige uitbrekings in Limpopo en KwaZulu-Natal nog nie ten volle onder beheer is nie.

Ons het kennis geneem dat inenting in KwaZulu-Natal nou toegepas word en die nasionale en provinsiale dieregesondheidsforums versoek ook dat die protokol gepubliseer en toegepas word. Dit is noodsaaklik dat die Tegniese Taakspan vir bek-en-klouseer so vinnig as moontlik sal vergader ten einde aanbevelings oor die uitbrekings te maak.

Lees meer oor die uitbreking in Noordwes hier.

Die Nasionale Dieregesondheidsforum het ook aan ‘n ministerïele biosekuriteit-taakspan aanbevelings gemaak en dit is noodsaaklik dat die aanbevelings van dié taakspan so spoedig as moontlik gefinaliseer word. Die minister is op 21 Januarie 2022 in konsultasie met die nasionale Dieregesondheidsforum en het versoek dat ‘n werkgroep saamgestel word om haar te adviseer oor biosekuriteitmaatreëls.

‘n Opvolg-vergadering met die direkteur-generaal van die departement is vir 24 Maart 2022 geskeduleer. ‘n Gesamentlike operasionale komitee is in Noordwes gestig om die uitbreking te hanteer en verteenwoordigers van die nasionale en provinsiale dieregesondheidsforum sal dit bywoon en ondersteuning verleen. – Persverklaring, Nasionale Dieregesondheidsforum