Wednesday, March 29, 2023

Tulbagh skitter as voorste wynterrein

Estimated reading time: 3 minutes

Die mees uitnemende wynterrein by vanjaar se 17de jaarlikse SA Terroir Wyntoekennings was Tulbagh, ’n klein distrik wat nie in wyke verdeel is nie. Hierdie kompetisie het weer eens getoon hoe vele kelders uit verskeie terreine topgehalte wyne in harmonie met die natuur oplewer en die toekennings is onlangs buite Somerset-Wes oorhandig.

Die Tulbagh-prestasie is gekenmerk deur Saronsberg Kelder se Nasionale Wenners vir Grenache, Mourvédre, Shiraz en Viognier, terwyl hulle ook vier ander wyne ingeskryf het wat almal area-wenners is.

Dit het grootliks bygedra dat die trofee vir SA Terroir Top Area vanjaar aan die Tulbagh-terrein toegeken is. Boonop is die trofee vir die SA Terroir Top Produsent aan Saronsberg Kelder toegeken op grond van die meeste inskrywings van goeie gehalte.

Nog drie kelders spog met meer as een nasionale wenwyn en/of trofee by vanjaar se SA Terroir Wyntoekennings. Een van hulle het ook gesorg vir die algehele top wyn uit al die inskrywings, naamlik die Flagstone Treaty Tree Sauvignon Blanc/Sémillon 2019-versnit wat die trofee vir die SA Terroir Top Wyn ontvang het. Die ander nasionale wenner van hierdie kelder in Somerset-Wes was hul 2020 Free Run Reserve Sauvignon Blanc.

Rietvallei in Robertson het gesorg vir die nasionale wenners van Cabernet Franc en Cinsaut, en het ook vir die tweede jaar agtereenvolgend die trofee vir SA Terroir Top Landgoed ontvang. Stettyn in Villiersdorp het die nasionale wenners van Port-styl wyn en Erfeniswingerd-wyn opgelewer.

Lees meer oor die wenners van die Shiraz SA challenge hier.

Slegs wyne wat gesertifiseer is as enkelwingerdwyn, landgoed-geproduseerde wyn, en wyn uit ’n wyk of ’n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, word beoordeel.

’n Enkelwingerdwyn is die versinnebeelding van ’n spesifieke wynterrein en vanjaar is 53 sodanige wyne vir die kompetisie ingeskryf. Die uiters gesogte Trofee vir die SA Terroir Top Enkelwingerdwyn is aan Benguela Cove Landgoed in Hermanus se Benguela Cove Catalina Sémillon 2019 toegeken. Uit al die enkelwingerdwyne wat saam met al die ander inskrywings beoordeel is, was vyf as nasionale wenners (ongeveer 16%) en 33 as area-wenners (ongeveer 60%) aangewys.

Integriteit is prioriteit

Die SA Terroir-kompetisie het sy ontstaan te danke aan die hoog aangeskrewe Wyn van Oorsprong-stelsel wat 50 jaar gelede ingestel is kragtens die Wet op Wyn, Ander Gegiste Dranke en Spiritualieë, 1957 (Wet 25 van 1957). Dit het op 1 September 1973 in werking getree en is sedertdien verskeie kere gewysig. Dit word wêreldwyd as een van die heel beste stelsels beskou om die integriteit van wyn in die bottel en aansprake wat op die etiket verskyn, te bevestig.

SA Terroir Wyntoekennings gee gesaghebbende erkenning aan kelders wat hul spesifieke grond en klimaat, dus terroir, met passie uitleef. Finansiële vennote van die SA Terroir Wyntoekennings is gevestigde organisasies in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, tesame met ’n nuwe ‘bonus mediavennoot’. WinField United South Africa, SA Litho en Ontbytsake van DStv se kykNET-kanaal ondersteun vanjaar die SA Terroir Wyntoekennings finansieel.

Die nasionale wenners van al die kultivars en wynstyle wat vanjaar ingeskryf is, het weer eens van regoor die Kaapse wynland gekom. Altesaam 32 nasionale wenners is vanjaar vereer. Die volledige uitslae van al die nasionale wenners van al die kultivars en wynstyle word hieronder uiteengesit.

Lees meer oor die internasionale bekroonde Chenin Blanc wenners hier.

Die uitgesoekte paneel beoordelaars was Jeff Grier (voorsitter), eienaar-keldermeester van Villiera Wyne en Kaapse wynmeester; Elunda Basson, keldermeester van Steenberg; Brendan Butler, wynmaker en bestuurder van Meinert Wyne en Kaapse wynmeester; Sanmarie Smith, wynskrywer en wynspesialis, en Anton Swarts, senior wynmaker en wyn-aankoopbestuurder by Spier, en Kaapse wynmeester. – Persverklaring, SA Nasionale Wynskouvereniging

Speen van kalwers en dragtigheidsondersoeke as deel van ’n produksieplan

Estimated reading time: 0 minutes Die Suid-Afrikaanse beesbedryf het 'n behoefte aan 'n nasionake...

The Land Bank: Challenges and prospects

Estimated reading time: 7 minutes The Land Bank has been struggling to fulfil its...

Grondeise: Die pligte van kopers en verkopers van plase

Estimated reading time: 5 minutes Onafgehandelde grondeise begin toenemend 'n faktor raak by die...

Die veranderende Suid-Afrikaanse volstruisbedryf

Estimated reading time: 7 minutes Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf is die wêreldleier in terme van...