Estimated reading time: 4 minutes
Die Trompsburg Landbou-ekspo het binne etlike jare gegroei van ‘n geleentheid waar 3 000 skaap geskou is tot op die punt waar daar vanjaar ‘n totaal van 21 000 kommersiële skape op dié dag verkoop is. Só vertel Louwrens Conradie, eienaar van die GraTus Dohnes-stoet.
Die ekspo het vanjaar Suid-Afrika se grootste slag-en stoorlamveiling aangebied met ’n totaal van 21 000 kommersiële skape wat verkoop is. Die grootste lot was 750 skape en ʼn gemiddelde prys van R50,24 per kg is behaal vir die dag. Die veiling het ongeveer R35,4 miljoen ingesamel en die opbrengs is uiteindelik tussen die Trompsburg Primêre Skool, ‘n plaaslike ouetehuis en die plaaslike boerevereniging verdeel.

Volgens Edwin Wilmot van Vleissentraal en lid van die Trompsburg-boerevereniging is die mikpunt om selfs verder te groei en eendag 30 000 skape so op te veil. Justin Wilkinson, ’n spekulant, het die meeste skape op die veiling aangekoop – ongeveer 3 200 skape.
Die dag het ook uit ander aktiwiteite, soos laerskoolrugby bestaan, waaraan ’n klompie skole van Bloemfontein en die Trompsburg-distrik deelgeneem het. Nie net het dit meer voete na die landbou-ekspo gelok nie, maar dit het ook die kinders die geleentheid gegee om die plattelandse lewe te ervaar. Daar was ook ’n spitbraaikompetisie waar die beste spitbraaier se vaardighede beproef is.
Lees meer oor die tipering en gehalte van wol.
Skeerspoed beïndruk
Die skeerkompetisie het vroeg begin en laat klaar gemaak. Dit was beslis een van die dag se indrukwekkende hoogtepunte danksy die spoed waarteen moderne skeerders kan skeer. Daar was 123 deelnemers wat in ses kategorieë deelgeneem het: Junior masjien, intermediêre masjien, ope masjien, ope lem, asook beginner-wolhantering, en ope wolhantering. Die hoofborg van dié afdeling was Quantro Wools.
Drie van dié sport se groot name het deelgeneem: Die huidige SA-kampioen in wolhantering, Almari van Schalkwyk, en haar man Hans van Schalkwyk, wat die SA-skeerkampioen is, het saam met die SA-reserwe kampioen, Dumisani Xhasa deelgeneem. Al drie die kampioene het uitstekend presteer. Almari het eerste plek verower in ope wolhantering, Hans het eerste geplaas vir ope masjien, en Xhasa het die toekenning vir beste gehalte vir ope masjien ontvang.
Ekonomiese inspuiting vir gemeenskap
Die dag was ’n uitstekende bemarkingsgeleentheid vir plaaslike boere en besighede wat daar uitgestal het. Conradie sê dat die dag ʼn geweldige ekonomiese inspuiting vir die skool en die gemeenskap is. Die geleentheid het ook al só gegroei dat Bloemfonteiners daarna uitsien om die geleentheid by te woon en om kinders aan nuwe belewenisse bloot te stel, soos die vier horing-skaap wat op die dag uitgestal was. Hy vertel dat die landbou-ekspo amper om soos ’n mini-NAMPO te word, met verwysing na die voete wat gelok word en die groot getal skape wat verkoop word.
Wikus Bekker, Dohne Merino-boer van Edenburg en 2023 se Voermol Skaapboer van die Jaar, sê dié dag het ’n wonderlike geleentheid vir die boere in die gemeenskap geword om saam te kom en dít is belangrik om die platteland lewendig te hou. Bekker sê dis mooi om te sien hoe almal mekaar ondersteun, en teruggee aan die skool en die gemeenskap. – Hàno Higgs en Iniel Huggett, Universiteit van die Vrystaat








