Estimated reading time: 3 minutes
Morné Fitzhenry, David Fletcher en Dries Pienaar was vanjaar die drie finaliste van die Toyota/Agri Oos-Kaap Jongboer van die Jaar-kompetisie, en volgens Agri Oos-Kaap se president, Peter Cloeté, en adjunkpresident, Eben du Plessis, was die kompetisie straf. Tydens die gala-geleentheid en kort voor Ricky Pillay van Toyota SA se aankondiging van die wenner, het die spanning hoog onder dié drie manne geloop.
Lees meer oor die onlangse RPO en NWKV streeksvergaderings hier.
En die wenner is…
Op die ou end het Morné Fitzhenry wat op die plaas Hartbeeshoek, 25km buite Aberdeen boer, met die louere weggestap. Die 35-jarige “wolram”, oftewel oudleerling van Marlow Landbouskool, was duidelik aangedaan toe hy die toekenning in ontvangs neem. Na die tyd het hy vir AgriOrbit gesê dat dit ’n emosionele ervaring was, met ’n tikkie trots daarby oor wat hy tot dusver vermag het.
Sake het nie altyd só vlot verloop nie en sukses het ook nie oornag gekom nie. As ’n skrander 16-jarige seun moes hy baie vinnig ’n hele klomp nuwe verantwoordelikhede op sy jong skouers neem toe sy pa skielik oorlede is. Vandag is hy ’n Merino-man wie glo dat sukses bepaal word deur ’n mens se liefde en passie vir dit waarmee jy boer, en om ’n oop oor te hê vir ander produsente se advies.
Lees meer oor Agri Wes-Kaap se finaliste hier.
“In ons gebied is droogtes seker maar die grootste uitdaging – die sewe-jaar droogte het ons redelik ernstig geraak,” vertel Morné. “’n Klompie van ons produsente het gedurende die droogte ’n toer gereël waartydens ons by ander produsente in ons omgewing besoek afgelê het, om te hoor wat hulle doen om aan te hou produktief boer. Ek het soveel as moontlik wenke en idees wat ons gekry het neergeskryf, en vir myself ’n stelsel uitgewerk wat bitter goed op die plaas werk.”

Deel daarvan is die lamkampe wat Morné opgesit het. “Dit het ons skape se vrugbaarheid verbeter en die lammers se speenpersentasie ook mooi opgestoot.” Hulle maak glad nie van kunsmatige middels gebruik nie en gebruik Afrikaner-koggelramme. Die dekking van die Merino-ooie vind oor ’n periode van 35 dae plaas.
Lees meer oor September se Nampo Kaap hier.
Morné moedig ander jong produsente aan om by georganiseerde landbou aan te sluit en deel van die oplossing te wees. Hy voeg laastens by dat mense nie altyd die waarde besef van Agri SA en die onderskeie provinsiale takke se insette om die weg vir die land se produsente te help baan, nie.
Vir meer inligting, kontak Morné Fitzhenry op WhatsApp by 076 180 8852. Besoek gerus ook Agri Oos-Kaap se webtuiste by www.agriec.co.za. – Carin Venter, AgriOrbit