Ursula Human van AgriOrbit het by talle rolspelers in die landboubedryf uitgevind met watter landbounavorsingsprojekte hulle vanjaar besig is. Hier volg die top 10 interessantste en belangrikste landbounavorsingsprojekte vir 2018, in geen spesifieke volgorde nie.

Read it in English

1. Grond

Gesonde grond is die fondasie waarop alle volhoubare landboupraktyke floreer en dieselfde is waar vir wildbewaring. Só sê dr Gerhard Nortjé, ’n senior dosent aan die Departement van Omgewingswetenskap by Unisa. Volgens dr Nortjé speel grondnavorsing ’n belangrike rol in enige poging tot wildbewaring. Dr Nortjé se hipotese is dat die plantegroei sterf wanneer die grondgehalte versleg, wat lei tot minder herbivore, minder roofdiere en op die ou end minder toeriste.

Studies in die Nasionale Krugerwildtuin het bewys dat korsvorming van die grondoppervlak en ondergrondse verdigting die plantegroei en herstel van grond en plantegroei direk beïnvloed. Dr Nortjé se PhD-studie in die Nasionale Krugerwildtuin het ook bewys dat voertuie wat vir wildritte gebruik word die grondoppervlak se struktuur beskadig, wat tot korsvorming van die grondoppervlak en ondergrondse verdigting lei. Die belangrikste bevinding van hierdie studie is dat voertuie wat in die veld rondry, ’n ernstige negatiewe impak op korsvorming van die grondoppervlak en ondergrondse verdigting het.

“Korrekte grondbestuur moet in die toekoms die basis van grondnavorsing in beskermde gebiede en op wildplase vorm,” sê dr Nortjé. Volgens dr Nortjé fokus die nuutste navorsing op die ontwikkeling van kaal kolle, wat ontstaan as gevolg van oorbeweiding en nie herstel nie weens korsvorming op die grondoppervlak. Die navorsing het ten doel om die voorkoming en herstel van kaal kolle te bestuur.

Kliek hier vir meer inligting oor dié navorsing.

2. Makadamias

Barry Christie, bedryfsbestuurder van die Suider-Afrikaanse Makadamia Kwekersvereniging (SAMAC), het die volgende navorsingsprojekte uitgelig waaroor hulle vanjaar opgewonde is:

  • Die Makadamia Beskermingsprogram, wat verlede jaar bekendgestel is by die Instituut vir Bosbou- en Landbou-biotegnologie (FABI), onder leiding van dr Gerda Fourie. Sy en haar span kyk of sy vir SAMAC antwoorde kan gee op vrae wat nog nie beantwoord kon word nie, deur gebruik te maak van molekulêre tegnieke.
  • Willem Steyn se projek kan moontlik vanjaar duidelike antwoorde verskaf oor sekere kwessies in die veld (of eerder boorde). Hy is ’n nematoloog by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse (LNR-ITSG) en gebruik aalwurms om makadamia-peste te beheer.
  • Prof Ben Botha en André Botha se projekte, in samewerking met Insect Science, is al etlike jare aan die gang en sal vir nog ’n paar jaar aanhou. Hulle is besig om vordering te maak met ’n projek waar kairomone gebruik word om stinkbesies te beheer. Dié pes berokken die meeste skade aan makadamias, met die jaarlikse skade wat tussen R190 miljoen en R320 miljoen beloop. Hierdie twee navorsers het dit reggekry om in 2017 vir die eerste keer tweekolstinkbesies na lokvalle met kairomone te lok. Dit is egter nog ver van kommersialisering af, maar dit wys tog dat die navorsing in die regte rigting op pad is.

Hoewel nie een van die navorsingprojekte splinternuut is nie, is die navorsers deurlopend besig om antwoorde te soek om die makadamiabedryf te ondersteun

3. Bio-energie 

Die LNR se Instituut vir Landbou-ingenieurswese is deurentyd besig met interessante landbounavorsing. Heelwat navorsingsprojekte fokus op bio-energie en is daarop gemik om:

  • Ondersoek in te stel oor watter voedselafval in ’n anaërobiese bio-raffinadery gebruik kan word.
  • Die bio-energiemark in Suid-Afrika te bevorder deur organiese afval-na-energie tegnologie, asook ander stelsels met ’n lae koolstofvoetspoor, onder klein-, medium- en mikro-ondernemings te bevorder.
  • Maniere te kry om bio-etileen te vervaardig vanuit onverwerkte gliserol (’n afvalproduk van biodiesel).
  • Biochemiese en termochemiese afval optimaal as energie-omskakelingsroetes te gebruik. Die instituut het ook ’n laboratorium op die been gebring om die bio-energiebedryf te ondersteun.

Kliek hier om meer oor die gebruik van sonneblomme as biodiesel te lees.

Kliek hier om meer oor die gebruik van Camelina Sativa as biodiesel te lees. 

4. Vrugte

Die spektrum van landbounavorsing in die vrugtebedryf is so wyd uiteenlopend soos die vrugtebedryf self. Hortgro Science het vanjaar 116 navoringsprojekte wat die hele waardeketting dek, naamlik produksie, gewasbeskerming en na-oes. As gevolg van die droogte word vanjaar in die produksiesektor op watergebruik gekonsentreer.

Hier volg ’n paar van die projekte:

  • Die bepaling van die watervereistes van appelboorde met hoë opbrengste.
  • Die bepaling van die stand van kennis, asook die analise van kennisgapings rakende die watergebruik van kern- en steenvrugte.
  • Waterstres-verdraagsaamheid van die verskillende appel-onderstamme.

Ten opsigte van gewasbeskerming is die alternatiewe beheer van peste deur middel van biologiese metodes die belangrikste fokuspunt. Voorbeelde van hierdie navorsing is:

  • Biologiese beheer van insekpeste voor oes.
  • Biologiese beheer van peste en siektes na oes.
  • Alternatiewe vir die beheer van appel-herplantsiekte.

Belangrike na-oes navorsing het meestal ten doel om raklewe en voeselveiligheid te bevorder. Dit sluit die volgende in:

  • Bestuur van oppervlakkige brandvlek by appels en pere in die afwesigheid van difenielamien-behandeling (DPA).
  • Implementering van volgende-generasie verpakkingstelsels in verkoelde hoëvraghouers vir doeltreffende verkoeling en verbeterde benutting van spasie.
  • Suiwering van antimikrobiese lipopeptiede wat deur Bacillus spp geproduseer word vir biologiese beheer van na-oes fitopatogene in die bederfbare vrugtebedryf.
  • Die na-oes aanwending van eetbare bedekkings op pruime en nektariens om verrimpeling te beheer.

5. Lewendehawe

Prof Michiel Scholtz, spesialisnavorser by die LNR se Instituut vir Diereproduksie in Irene, het AgriOrbit meegedeel dat hulle tans met navorsing oor sogenaamde “gebreekte gene” in vleisbeeste besig is.

“Seleksie vir baie van die tradisionele eienskappe sal produksie verhoog, maar nie noodwendig die produktiwiteit of doeltreffendheid van produksie nie. Die eienskap met die grootste uitwerking op die doeltreffendheid van produksie in vleisbeeste is die frekwensie waarteen ’n kalf geproduseer word. Die bydrae van vrugbaarheid tot die koei se doeltreffendheid van produksie wissel tussen 44% en 51%, afhangende van die koei se raamgrootte,” sê prof Scholtz.

“Een van die fokuspunte van die LNR se Diereteelt-Groep is die teenwoordigheid van ‘gebreekte gene’ in vleisbeeste, wat ’n uitwerking op vrugbaarheid kan hê. Hierdie gebreekte gene verwys na die verskynsel waar gene van die bul en koei nie verenigbaar is nie en die bevrugte eiersel nie lewensvatbaar is nie.

“Die koei word dan as laag vrugbaar of selfs onvrugbaar beskou. As sy egter met ’n ander bul gepaar word, kan sy hoogs vrugbaar wees. As sulke allele en/of gene met ’n nadelige uitwerking op vroulike diere se vrugbaarheid in vleisbeeste opgespoor kan word, sal dit tot kuddebestuurspraktyke lei wat vrugbaarheid verhoog.

“Behalwe vir kalfinterval en dae tot kalwing, is dit is ook belangrik om die gebruik van alternatiewe maatstawwe vir vrugbaarheid te ondersoek. Dieselfde groep by die LNR kyk ook na die gebruik van die ewekansige regressiebenadering, om beraamde teelwaardes (BTW’s) vir verwagte aantal kalwers vir die koei op ‘X’ jaar te beraam. Die betrokke telersgenootskap kan besluit watter ouderdom ‘X’ moet wees.”

Kliek hier om meer te lees oor ander navorsing wat by die LNR in Irene plaasvind.

6. Bewaringslandbou

Dr Hendrik Smith, ’n bewaringslandbou-fasiliteerder by Graan SA, gee details oor nuwe navorsing in bewaringslandbou (BL), wat daarop gemik is om volhoubare gewas- en vee-integrasie moontlik te maak. Die huidige navorsing fokus op die integrasie van vee met BL-stelsels as een van die belangrikste beginsels en praktyke in gemengde produksieselsels om ekonomiese en ekologiese volhoubaarheid en veerkragtigheid te verseker. Ander sleutelbeginsels van BL is minimale grondversteuring, gewasdiversifikasie (gewasrotasies en assosiasies) en permanente organiese grondbedekking.

Afgesien daarvan dat gewasdiversifikasie, insluitend dekgewasse, die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van grond verbeter, kan dit ook suksesvol as veevoer aangewend word. Trouens, die meerderheid rotasie- en dekgewasse word lank reeds as veevoer gebruik – selfs voordat die voordele wat dit het om grondgesondheid te verbeter, bekend geword het.

Verskeie graan- en dekgewasspesies word dus geïntegreer en getoets om ’n verbetering in die produktiwiteit van die veestelsel mee te bring. Belangrike komponente is die handhawing van ultra-hoë weidingsdruk en die aanplant (gebruik) van geskikte dekgewasse (voer) van hoë gehalte wat diere se groei baie vinnig laat toeneem (bv. peulplante), en waardevolle voer in die winter en vroeë lente voorsien.

Voer wat in die wintermaande voorsien word (bv. hawer, wieke, klawertipes en radyse) word ook getoets, want dit het ook ’n hoër voedingswaarde weens die lae voorkoms en gehalte van ander voer wat in dieselfde tyd beskikbaar is.

Die navorsing meet die volgende:

  • Ekologiese aanduiders wat koolstofvaslegging, verhoogde biologiese diversiteit, ekologiese herlewing en verbeterde grondgesondheid insluit.
  • Ekonomiese aanduiders soos biomassa- en vleisproduksie per hektaar, winsgewendheid, doeltreffendheid van produksie-insette, arbeid en risiko.
  • Sosio-kulturele aanduiders wat mate van diversifikasie, voedselsekuriteit, en die vraag en keuse van die verbruiker insluit.

Kliek hier om ‘n video oor bewaringslandbou te kyk.

7. Wyn

Volgens Lucinda Heyns van die Netwerk van Kundigheid en Tegnologie vir die Wynbedryf (Winetech) word voorspel dat die Wes-Kaap teen 2020 altesaam 30% minder reën gaan kry. Die verantwoordelike en doeltreffende bestuur van die waterhuishouding op ’n plaas of in ’n wynkelder sal nie net meer noodsaaklik word nie, maar die sleutel tot meer ekonomiese voordele wees.

Met die inagneming van hierdie vooruitsig, het Winetech ’n paar projekte bekendgestel wat op waterverbruik en -bestuur in die wynbedryf fokus:

  • Een projek evalueer nuwe wyndruifkultivars vir hul droogteweerstandbiedendheid onder Suid-Afrikaanse toestande.
  • In ’n ander proefneming word verskillende kombinasies van bo- en onderstok-kultivars se reaksie op waterstres en die uitwerking daarvan op die wingerdstok ondersoek.
  • ’n Projek is in samewerking met die Waternavorsingskommissie bekendgestel wat ten doel het om ’n hulpmiddel te ontwikkel wat produsente en kelders sal help om hul watervoetspoor te bepaal. Dit kan help om te identifiseer waar in die produksieketting die meeste water verbruik word en waar bestuurders hulle moontlik kan toespits daarop om waterbesparingspraktyke te implementeer waar dit die grootste impak kan maak.

Inligting wat vanaf hierdie projekte verkry word, kan die bedryf toerus om beter langtermynbesluite te neem, wat dit makliker kan maak om water te bespaar en meer doeltreffend te gebruik.

8. Hernubare energie

Nicole Algio, streekbestuurder van die Vennootskap vir Hernubare Energie en Energiedoeltreffendheid (REEEP), ’n afdeling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut (SANEDI), vertel meer oor hoekom navorsing in hernubare energie so belangrik is vir die landbousektor.

Nomasonto Mosia, wat deel is van een van die projekte in hernubare energie, met haar sonkragpaneel wat water pomp.

“Die landbousektor, veral in Afrika, staar tans lae opbrengste in die gesig as gevolg van onvoorspelbare veranderings in die klimaat en weerpatrone. Ander faktore wat dié bedryf teister, is hoë vlakke van water- en energiegebruik. Bogenoemde beïnvloed voedselpryse, voedselsekerheid en uitvoere. Toegang tot die gebruik van alternatiewe energie kan die impak op die bedryf verminder. Navorsing en ontwikkeling is van die uiterste belang om innoverende oplossings te vind en aan te pas by klimaatsverandering,” sê Algio.

Kliek hier om meer te lees oor Switch Africa Green, een van die projekte waarby  REEEP en SANEDI betrokke is.

9. Koring

Dr Francois Koekemoer, direkteur van navorsing en ontwikkeling by Sensako, deel inligting oor nuwe navorsing in koringteling, wat daarop gemik is om opbrengste in te sluit by koringteelprogramme se kriteria, eerder as net die huidige maal- en bakgehalte.

Dr Koekemoer verduidelik: “Dit is ’n bekende feit dat opbrengs en gehalte (maal- en bakgehalte) negatief gekoppel is. In 1998 het die koringbedryf van ’n enkelkanaalstelsel na ’n vryemarkstelsel verander. Dit het die fokus op maal- en bakgehalte geplaas deurdat ’n stelsel geïmplementeer is waarteen nuwe kultivars geëvalueer is ten opsigte van maal- en bakgehalte.

“Alle nuwe kultivars se gehalte word met ’n biologiese standaard se gehalte en die gemiddelde data ten opsigte van 21 gehalte-eienskappe vergelyk. Daar is minimum en maksimum toelaatbare afwykings teenoor die biologiese standaard vir elke eienskap.”

Elke produksiegebied het sy eie biologiese standaard en stel reëls vir die 21 eienskappe. Die 21 eienskappe voorspel die maal- en bakgehalte van die betrokke lyn in kommersiële meule en bakkerye. Suid-Afrikaanse telers het hulle goed van hul taak gekwyt en kultivars ontwikkel wat goed vergelyk met, en selfs beter is, as die beste maal- en bakgehalte internasionaal. Dit het ongelukkig veroorsaak dat meulenaars tans goedkoop swakker gehalte invoer en dit met plaaslike koring meng, wat die koringprys op Safex verlaag tot onder die waarde van wat die koring werd behoort te wees.

Weens hierdie rede het Sensako ’n paar jaar gelede besluit om die lyne wat oor goeie opbrengste beskik, maar nie goeie gehalte nie, uit die teelprogramme te elimineer. Hopelik sal dit inligting kan verskaf wat aandui hoeveel meer die opbrengsverhoging sou wees as daar glad nie vir gehalte geselekteer word nie. Die proses neem lank, maar behoorlike data sal binnekort beskikbaar wees wat die verskil kan kwantifiseer.

Suid-Afrika is ’n droogtegeteisterde land wat vordering in opbengsverhoging drasties beperk. Die minimum en maksimum waardes is egter die afgelope paar jaar verslap en ’n nuwe stel reëls is ook opgestel wat hoë opbrengslyne, wat nie normaalweg die huidige proses sal slaag nie, kan evalueer om te bepaal of hulle as ’n swakker gehalte kultivar met ’n hoër opbrengs vrygestel kan word.

Daar is egter twyfel of opbrengste meer as 20% sal verhoog in die Kaap. Dit kan dalk makliker wees onder besproeiing omdat water en stikstof, die grootste beperkende faktore, beheer kan word. Kliek hier vir meer inligting oor koringteelprogramme.

10. Klimaatsverandering

Wiltrud Durand van die LNR se graangewasse-afdeling het inligting gedeel oor ’n internasionale navorsingsprojek wat die impak van klimaatsverandering op die landboubedryf en -gemeenskappe op globale en streekvlak ondersoek.

In die navorsingsprojek, bekend as the Agricultural Model Intercomparison and Improvement Project (AgMIP), is ’n reeks modellering-metodologieë, protokolle en ander gereedskap ontwikkel, waarmee klimaat, gewas/lewendehawe en ekonomiese modelle gebruik kan word om die impak van klimaatsverandering op sosiaal-ekonomiese vlak te evalueer.

In die eerste fase van die studie, onder die leiding van wetenskaplikes van die LNR en die Universiteit van Kaapstad, is die navorsing op ’n huishoudelike en distriksvlak getoets. In die tweede fase van die navorsing, wat tans afgehandel word, is die metodiek op ’n groter skaal, naamlik provinsiaal, toegepas.

Die studie het die impak van klimaatsverandering op die landboubedryf ondersoek deur middel van scenariobeplanning vir twee moontlike uitkomste. Wat dié studie uniek maak, is dat die modelle vir klimaat, gewasse en sosio-ekonomiese veranderings met geografiese inligtingstelsels (GIS) gekombineer is om skaalbare inligting te verskaf.

Die studie het dit duidelik gemaak dat beleidmakers en boere betroubare inligting nodig het om ingeligte besluite oor klimaatsverandering te neem. Die struktuur en metodologie van die navorsing het dit moontlik gemaak om kwalitatiewe en kwantitatiewe data in ’n wetenskaplike proses te kombineer waardeur verkillende uitkomste getoets kan word. Die bevindings van dié studie sal binnekort aan belanghebbendes en beleidmakers bekendgemaak word.

Die navorsingsprojek het teater as ’n medium ondersoek om die boodskap van klimaatsverandering op ’n prettige en verstaanbare manier aan gemeenskappe te verduidelik. Dit is goed ontvang deur die publiek en wetenskaplikes.

 

 

 

 

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY