Wednesday, August 10, 2022

Terug na die toekoms: NWKV hou kongres

Estimated reading time: 7 minutes

Die 93ste kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het in Junie in Gqeberha (Port Elizabeth) plaasgevind en vanjaar se tema was ‘Terug – na die toekoms’. Van die sake wat aandag geniet het, was die waarde van studiegroepe en die werk wat die Predasiebestuurforum onder die bestuur van Niel Viljoen doen, ekonomiese tendense, volhoubaarheidstandaarde en die uitvoering van standaard-oudits wat deur die NWKV se adviesdienste onderneem word.

Die NWKV se nasionale voorsitter, Billy van Zyl, het benadruk dat dit die verantwoordelikheid van wolprodusente is om die land se wolbedryf as die beste in die wêreld vorentoe te neem. Oor biosekuriteit het hy soos volg opgemerk: “Ons produsente sal eienaarskap moet neem van ons vee ten opsigte van waar ons koop en verkoop. Die voorspelling is dat Slenkdalkoors en bloutong produsente se volgende struikelblokke gaan wees, en daarom is dit uiters belangrik om beheer oor die koop en verkoop van vee te hê – om siektes te beheer.”

Lees meer oor wolaanwysers hier.

Fokus op die kommunale sektor

Suid-Afrikaanse wolproduksie het gedurende 2020/21 by 44 miljoen kilogram wol gedraai. Deon Saayman, Cape Wools SA se hoofbestuurder, het gesê dat groot vordering op die gebied van kommunale wolproduksie gemaak is sedert die vroeë 2000’s. Een voorbeeld is die 13 808 kommunale bale wat in 2004 geproduseer is, teenoor 36 233 bale in 2021.

Die Cape Wools SA Volhoubaarheidstandaard wat twee jaar gelede afgeskop het, behels ’n omvattende proses vir kommersiële produsente om hul wol te laat assesseer, en baie goeie vordering is reeds gemaak. “Suid-Afrika is die grootste verskaffer van volhoubare wol in die wêreld, wat ’n geweldige groot geleentheid vir die land se wolbedryf bied,” het Deon gesê.

“Ons moet wel onthou, terwyl daar ongeveer 8 000 kommersiële wolprodusente in Suid-Afrika is, is daar meer as 40 000 kommunale produsente wat nagenoeg vyf en ’n half miljoen kilogram wol per jaar produseer.”

Die behoefte bestaan dus om ’n groter mark vir kommunale wolprodusente in die land skep. “Die tradisionele mark vir kommunale wol is China,” het hy verder gesê, “en dié land het met die uitbreek van bek-en-klouseer ’n verbod op die invoer van rou wol geplaas. Daarom het die behoefte ontstaan om te begin rondkyk vir ander geleenthede in die wolmark.

“Dit het gelei tot die uitrol van ’n kommunale standaard wat op die Cape Wools SA Volhoubaarheidstandaard berus. Dit is ’n intensiewe proses waartydens die NWKV se produksie-adviseurs agt verskillende stadia by die kommunale skeerhokke assesseer om te verseker dat elke skeerhok aan die voorgestelde standaarde voldoen.”

Die doel van ’n volhoubaarheidstandaard is om aan kommersiële en kommunale produsente sekerheid te gee dat daar ’n mark is vir die produk wat hulle lewer. “Ons wil die risiko’s beperk en vir produsente die geleentheid bied om hul mark te verbreed. Dit bring meer lande in die prentjie, met meer kopershuise wat in die produk belangstel en wat groter kompetisie met hoër pryse en groter sekerheid in die mark kan bewerkstellig.”

Droogte en plaasproduktiwiteit

Prof Beatrice Conradie van die Universiteit van Kaapstad is die afgelope paar jaar besig met ’n studie tussen Laingsburg en Beaufort-Wes om die effek van droogte op plaasproduktiwiteit in die Karoo te bepaal. Die proef het reeds in 2012 vlerke gekry en is volgens prof Conradie ’n redelike ingewikkelde proses, met 40 produsente wat jaarliks syfers instuur om die effek van die droogte op hul kostebestuur en winsgewendheid te bereken.

Vroeë aanduidings toon aan dat die produsente wat hul vee gevoer het, swakker gevaar het as diegene wat hul vee teen ’n ligte tempo gevoer het – ’n maatreël wat oor die algemeen nie eintlik aanbeveel word nie. Prof Conradie het egter gesê dat meer tyd en werk nog nodig is om die uiteindelike antwoorde hierop te vind. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak die Nasionale Wolkwekersvereniging by 041 365 5030 of nwga@nwga.co.za, of besoek www.nwga.co.za.

Caring for ewes and lambs during lambing

Estimated reading time: 4 minutes A strong lamb crop is highly dependent on meticulous...

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die...

RSG Landbou: 4 Augustus 2022 – geborg deur Hygrotech

Talle plaaseienaars maak dikwels van ‘n maatskappy gebruik om tydelike of seisoenale werkers in...

Brown stomach worm: A parasite to be reckoned with

Estimated reading time: 4 minutes The brown stomach worm is one of the most...