Estimated reading time: 4 minutes
Vroeg in April het die teel van leeus in aanhouding weer skerp onder die soeklig gekom toe ’n leeuteler, prof Thabo Masihlelo van die Tweeling-omgewing in die Vrystaat, skuldig bevind is aan die verwaarlosing en mishandeling van sy diere.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het klagtes teen hom gelê, nadat hulle ondersoek ingestel het en die leeus in verskillende stadia van verhongering gevind het. Die saak is op 9 April afgehandel, nadat prof Masihlelo skuldig bevind is en ’n vonnis van R5 000 of tien maande tronkstraf opgelê is.
Waar staan die leeubedryf?
Die saak het weer die vraag oor die stand van die leeubedryf in Suid-Afrika laat ontstaan. By navraag het Richard York, uitvoerende hoof van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), verduidelik dat die betrokke teler nie ’n lid van WRSA is nie en dat enige kommentaar namens WRSA dus spekulatief en gebaseer op hoorsê sou wees. Dit het ook aan die lig gekom dat prof Mashihlelo blykbaar reeds in 2023 die bedryf verlaat het, toe die betrokke voorval plaasgevind het.
York beklemtoon onder meer dat al die WRSA se lede hulle daartoe verbind om aan toepaslike wetgewing en hoë dierewelsynstandaarde te voldoen. In gevalle waar leeuboerdery ter sprake is, moedig York WRSA-lede aan om ook by die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging (SAPA) geaffilieer te raak, en hulle norme en riglyne te volg.
SAPA het reeds in 2020 onder die vorige minister van bosbou, visserye, en omgewing, Barbara Creecy, bedryfgedrewe norme en standaarde ontwikkel met insette van onder andere die NDBV via die minister se eie Wildforum.
Die kwessie rondom die leeubedryf kom reeds ’n lang pad. Al het minister Creecy twee jaar gelede aangedui dat die kommersiële teel van leeus beëindig behoort te word, is daar steeds talle produsente wat die bedryf met oorgawe en ’n diep liefde vir die wild voortsit. In die verlede is betekenisvolle pogings aangewend om toepaslike regulasies en beleidsraamwerke in plek te stel, nie net om die voortbestaan van die bedryf moontlik te maak nie, maar ook om die welsyn van die diere op elke moontlike wyse te beskerm.
Lees meer oor groter getalle roofdiere knou produsente wyer.
Behoorlike wetgewing skort
York is verder bekommerd oor wat hy beskryf as “die onpraktiese aard van voorstelle” om die kommersiële teel van leeus te beëindig.
As formele kommentaar en openbare deelname aan Staatskoerant 51581 aan die departement en die huidige minister van bosbou, visserye, en omgewing, dr Dion George, verwys York na verskeie beleidsdokumente en bestuursplanne wat reeds die afgelope dekade ter tafel gelê is. Hierdie dokumente is daarop gemik om nie net die administrasie van die bedryf te standaardiseer en die welsyn van diere te verseker nie, maar ook die finansiële lewensvatbaarheid van leeuboerdery vir produsente te beskerm.
Die betrokke staatskoerant handel oor konsultasie rakende die konsepkennisgewing wat sekere aktiwiteite verbied waarby Afrika-leeus betrokke is. Dit is op 15 November 2024 gepubliseer.
Voorbeelde van vorige beleidsdokumente en bestuursplanne sluit onder meer die biodiverse bestuursplan vir die Afrika-leeu (2015) in (dit is wel ontwikkel, maar tot op hede nog nie geïmplementeer nie), asook die bestaande Regulasies vir Bedreigde en Beskermde Spesies (TOPS), wat wel in werking is.
Volgens York dui hierdie beleidstukke op ’n duidelike poging om die sektor te struktureer en reguleer, maar sonder konkrete wetgewing is dit onvolhoubaar. Die gevolg is dat produsente steeds op eie, vrywillige stelsels moet staatmaak sonder ’n bindende nasionale raamwerk vir dierewelsyn in die leeubedryf.
WRSA ondersteun alle wildboere
“WRSA bly daartoe verbind om saam met die regering en ander belanghebbendes volhoubare oplossings te vind wat realisties, eties en uitvoerbaar is, ten bate van beide die diere en mense wat hul lewensonderhoud daaraan verbind het,” sê York. Hy voeg by dat Suid-Afrika tans een van die min lande ter wêreld is wat ’n stabiele en beveiligde populasie van wilde leeus het. Dit is grootliks te wyte aan die rol van die privaatsektor in die wildbedryf.
“In die lig van vele uitdagings het die wildbedryf nie net talle bedreigde spesies beskerm nie, maar ons het ook tans meer wild in Suid-Afrika as wat ons 100 jaar gelede gehad het. Geen enkele spesie onder privaateienaarskap in die wildbedryf is in gevaar van uitsterwing nie. Wildboere speel ’n deurslaggewende rol in die groei en beveiliging van die agro-volhoubare, biodiverse wildekonomie wat nie net die wild bevoordeel nie, maar ook gemeenskappe en die ekonomie.” – Koos du Pisanie, Plaas Media





