Tamatieblaarmyners: Groot skade kan op boere wag

104

Estimated reading time: 2 minutes

Die tamatieboere is raadop, want die tamatieblaarmyner, of Tuta absoluta, is een van die peste wat besig is om die hele tamatiebedryf te ondermyn.

Die plaag is reeds in 2016 aangemeld en dit het elke jaar vererger, maar vanjaar waarsku dr Gerhard Verdoorn van CropLife SA dat tamatieboere vroegtydig moet optree om die plaag uit sy tamatie-oes te hou. Hy beskryf dit as ’n uitwissende plaag wat die tamaties totaal kan uitwis as daar nie goeie beheer is nie.

Grootste sprinkaanuitbreking nóg in die Karoo.

Een van die groot probleme is dat dit, soos baie ander plae, maklik ’n weerstand kan opbou teen insekdoders, veral as die middels nie streng volgens etiketvoorskrifte aangewend word nie.

Hy verduidelik dat baie produsente ’n sagte plaagdoder, naamlik die diamide gebruik, wat baie effektief kan wees vir die siekte waarvoor dit aangewend word. Hy waarsku wel dat as dit nie korrek aangewend word nie of oneffektief aangewend word, ontwikkel die plaag maklik weerstand teen die insekdoder. Dit lyk of die plaag reeds op sommige plase vasgeskop het en sommige insekdoders is nie meer effektief daarteen nie.

tamatieblaarmyners
Skade wat deur die tamatieblaarmyner aangerig is.

Hy vertel ook dat daar heelwat navorsers is wat tans besig is om bestuursplanne te ondersoek om dié plaag te beheer, saam met die insekdoders en ander bestuurselemente wat saamgevoeg moet word. Daar is reeds boere uit die Komatipoort-omgewing wat besluit het hulle staak die produksie van tamaties omdat hulle nie kan voorbly met die beheer van die tamatieblaarmyner nie.

Dr Verdoorn glo dié plaag gaan veroorsaak dat die tamatiebedryf in Suid-Afrika in duie gaan stort.

Vir enige navrae kan dr Verdoorn gekontak word by 082 446 8946.  – Koos du Pisanie, AgriOrbit