Die tabakbedryf, wat 8 000 tot 10 000 werkers en hul 35 000 afhanklikes onderhou, hoef nie terug te staan wat sy ekonomiese bydrae betref nie, maar word bedreig deur kwessies soos radikale wetgewing en onwettige handel.

Die voorsitter van die Tabakinstituut van Suid-Afrika, Francois van der Merwe, het onlangs met RSG Landbou oor hierdie kwessies gesels. Hy meen R17 miljard word per jaar deur die bedryf aan aksynsbelasting betaal. Die som van die totale belasting wat jaarliks aan die staat betaal word, is R23 miljard. Wat die waardeketting en vermenigvuldigingseffek betref, lei die tabakbedryf tot meer as R54 miljard se ekonomiese aktiwiteite per jaar.

Wat maak die twak nat?

Radikale wetgewing wat deur die minister van gesondheid voorgestel word, vereis dat handelsmerke nie meer op pakkies vertoon mag word nie. Rolspelers meen dit gaan die wettige bedryf seermaak en die onwettige bedryf bevoordeel.

Die owerhede verwag dat die rook van sigarette hierdeur gaan afneem, maar die tabakbedryf meen dis reeds bewys dat dit nie die geval is nie.

Die grootste probleem wat die bedryf egter op hierdie stadium ondervind, is die onwettige handel in tabakprodukte, wat minstens 25% van die mark opneem. In sekere dele van die mark is 50 tot 100% van die produkte onwettig. Rolspelers meen hierdie onwettige bedrywighede kos die staat meer as R5 miljard per jaar. Dit sluit verliese soos laer volumes en die impak op produsente en werksgeleenthede uit.

Francois meen die oplossing lê by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, aangesien meer as 90% van alle onwettige produkte plaaslik vervaardig word en nie ingesmokkel word nie. Oudits sal by alle fabrieke gedoen moet word om seker te maak alle verklarings word ingehandig.

’n Intensiewe en goed georganiseerde navorsingsprogram vir tabak word in Suid-Afrika bedryf. Hierdie program word befonds deur ’n heffing op blaartabak, waarvoor alle kopers ’n klein bydrae maak.

Francois sê die landboutoestande in Suid-Afrika is moeilik, wat meebring dat die bedryf afhanklik is van uitstekende produsente met goeie bewerkingspraktyke en kultivars wat aangepas is om in dié omstandighede te kan oorleef. – Elmarie Helberg, RSG Landbou

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY