Syngenta gee kennis wiele met innoverende inligtingswaentjies

Estimated reading time: 3 minutes

In 2022 en 2023 het Syngenta groot sukses behaal met sy Knowledge Hubs-geleenthede in Napier en Bethlehem. Die konsep was om kennis meer toeganklik te maak vir produsente deur inligting te deel wat hulle sal help om presisieboerdery en gewasbeskerming só toe te pas dat hul boerderye volhoubaar is en in alle opsigte floreer. 

“Deelname aan en terugvoer oor die geleenthede was so oorweldigend positief dat ons besluit het om die konsep wiele te gee,” sê Andries Duvenhage, bemarkingsbestuurder van kleingraan, sagtevrugte en groente by Syngenta Suid-Afrika. Die resultaat is die veelsydige Knowledge Hubs on the Move-voertuie (’n waentjie in die Wes-Kaap en voertuig in die noorde) wat na boeredae en ander landbougeleenthede toe kan ry om kennis en inligting na produsente te neem. Die Syngenta-span gee demonstrasies en aanbiedings en produsente kan vrae vra en nuwe tegnologie eerstehands ervaar. “Hierdie pasgemaakte, moderne waentjie en voertuig van Syngenta ry al die antwoorde met hul saam,” sê Andries.

Die Knowledge Hubs on the Move-voertuie is toegerus met ’n spuitstukbad waarmee verskillende spuitstukke gedemonstreer kan word, en daar is sitplek vir lekker gesels met Syngenta-kenners oor ’n beker goeie koffie.

In 2024 is die Knowledge Hubs-fokus steeds op gewasbeskerming en toedieningspraktyke, maar produsente gaan ook voorgestel word aan die digitale landbou-oplossings wat CropWise bied.

Die waentjie is reeds bespreek om aan ’n verskeidenheid boeredae deel te neem waar die Syngenta-span sal regstaan om al jou vrae oor gewasbeskerming te beantwoord en wenke oor die toediening van gewasbeskermingsprodukte te deel. – Persverklaring, Syngenta


Syngenta inligtingsdag: Tegnologie as sleutel tot die toekoms

Syngenta het in 2023 vir die tweede keer ‘n inligtingsdag op sy proefplaas buite Bethlehem in die Vrystaat aangebied. Die doel was om die nuutste tegnologie aan kommersiële produsente te demonstreer. Tydens die geleentheid kon besoekers die verskillende inligtingstasies in groepverband besoek. Onderwerpe soos jongste navorsing rondom snywurm- en aalwurmbeheer, onkruidbeheer, saadkultivars en toedieningstegnologie is behandel.

Lees meer hier.