Suksesvolle 2023-jongbulskou vir Hoogland Studiegroep

Estimated reading time: 5 minutes

Die Hoogland Studiegroep fokus op die ontwikkeling van beide die Simmentaler en Simbra in die Noordoos-Vrystaat. Die studiegroep die afgelope vyf jaar al ‘n jongbulletjie-skou aan waar telers hulle bulletjies van tussen een en twee jaar oud, met dié van ander telers kan vergelyk. 

Die jongbulskou se konsep het ontstaan toe lede van die studiegroep ‘n alternatief gesoek het vir die normale meerdaagse skoue in die land, maar sonder om die publisiteit verbonde aan so ‘n groot skou in te boet.

Die Hoogland-resep

Daar is vier klasse, twee vir elke ras, naamlik ‘n kalfklas en ‘n juniorklas, met die ouderdomsonderskeid wat daarin lê dat die junior vroeg in die jaar gebore is en die kalwers later.

Die bulletjies in die juniorklas word in twee groepe beoordeel. Klas 1A is vir bullletjies wat tussen Januarie en Maart gebore is, en Klas 1B tussen April en Junie. In die kalfkompetisie is Klas 2A vir bulletjies wat tussen Julie en September gebore is, en Klas 2B vir bulletjies wat tussen Oktober en Desember gebore is. Vanjaar se beoordelaars was die twee interrasbeoordelaars, Fred Dell en Marius Barkhuizen. 

“Ons wou dit ‘n vinnige en maklike manier maak waarop mense sommer twee bulle op ‘n waentjie kon laai en vir die dag deurkom om mee te ding. Vanaand is hulle weer by die huis. Ons het dit eintlik verder ook ‘n nie-haltermak skou gemaak om produsente juis die moeite te spaar om eers hulle diere aan die halter gereed te kry,” verduidelik Pieter Meyer, ‘n lid van die studiegroep wat naby Lindley boer.

Lees meer oor biosekuriteit.

Wat word beoordeel?

Afgesien van bouvormbeoordeling, sê Pieter, is ander ekonomiese eienskappe ook vir studiegroeplede uiters belangrik. Daarom het hy onlangs ‘n toetsstasie vir netto voerinname op sy plaas opgerig en is 25 groepe jong bulletjies reeds getoets. “Om die waarheid te sê, verskeie van die bulletjies wat vanjaar op ons bulletjiedag was, het reeds die toets voltooi.”

Afgesien van die bulletjiedag, hou die studiegroep elke tweede maand vergadering en tree ‘n ander lid as gasheer op. Dis dan die gasheer se verantwoordelikheid om iets interessant aan te bied.

“Ons het al verskeie baie interessante temas vir ons vergaderings gehad, en dit neem gewoonlik die vorm van ‘n demonstrasie aan. So het ons al drukbeweiding as tema gehad met alles wat daarmee saamgaan.

“Dan het ‘n ander gasheer gedemonstreer hoe hy diere mak maak om hulle gemaklik aan die hand in die skouring te vertoon. Hy het ons gewys watter halters die beste werk en hoe hulle aangewend moet word. Daar was ook ‘n vergadering by ‘n lid wat RFID-oorplaatjies gebruik en ons kon baie mooi sien watter voordele dit vir rekordhouding inhou. Die idee is dat elke lid aan die einde van so ‘n dag met inligting huis toe sal gaan wat hom aan die dink sal sit en sal help om beter bestuursbesluite te neem.”

Ondersteuning en sinergie

Die feit dat hulle steeds op beide die Simmentaler en die Simbra fokus, ten spyte daarvan dat die twee rasse nie meer in assosiasie met mekaar is nie, sê Pieter verder, het te doen met hulle gemeenskaplike geskiedenis. Daar bestaan genoeg sinergie tussen die twee rasse dat die studiegroep besluit het hulle gaan albei rasse bly akkommodeer.

“Ek dink ‘n kenmerk van ons studiegroep is dat ons vir mekaar omgee en mekaar ondersteun waar nodig. So het iemand byvoorbeeld eenkeer trigomonose in sy kudde opgedoen. Sy buurman het hom onmiddellik gehelp met bulle. Op ‘n ander keer was iemand in ‘n brand, en elkeen van ons het vir hom ‘n vers geneem.”

Nog ‘n goeie voorbeeld van die oop hand wat die lede het, was die gelukkige trekking wat tydens die afgelope bulletjiedag op Bethlehem plaasgevind het. Die prys was ‘n Simmentaler-vers wat deur Corné de Jager van Tierkloof Simmentalers by Reitz geskenk is. Die gelukkige wenner vanjaar was Richard Venema van Venema Broers Simbra by Carltonville.

Vanjaar se wenners

In die Simmentaler-afdeling is die bulletjie, Fardi Baruch, van Hendrik van der Walt van Wesselsbron se Fardi-stoet, as juniorkampioen aangewys en Ashtonvale Jalbi van Niel van Heerden by Bethlehem, as reserwekampioen.

In die Simbra-afdeling het Jacmar Rocky van Jaco Maré van Hartbeesfontein met die louere weggestap, met Rotswand LeClerc van Riaan van Zyl van Winburg as reserwekampioen. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Pieter Meyer by 082 334 8906.

Must read

BKB Merino Ope vertoon die room van SA Merino’s

Estimated reading time: 2 minutes Die BKB Merino Ope wat deur Nampo Kaap op Bredasdorp aangebied is, het 13 Merino-telers gelok wat met uitstekende diere teen mekaar meegeding het. Die teler wat die meeste...

Katoen-verwysingsprys: Week van 25 tot 29 September 2023

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

EDE Farming 2023 Boeredag: Bulkrag, die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 3 minutes Op 30 Augustus vanjaar het EDE Frieslands, ’n vertakking van Ede Farming, hulle jaarlikse boeredag aangebied onder die tema ‘Bulkrag, die sleutel tot sukses’. Michiel Heyns, ’n Jersey-boer vanuit die...
Fluctuations in fertiliser prices impact on food inflation.

Inclusive regional value chains can create opportunities

The 17th Annual Competition Law, Economics, and Policy Conference hosted by the Competition Commission in conjunction with the Competition Tribunal recently brought together role-players in Johannesburg to share insights on the current state of...

RSG Landbou: 3 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

‘n Angoraprodusent van die Willowmore-omgewing, Fred Colborne, het vroeër vanjaar ‘n wêreldrekordprys vir ‘n baal kleinbokkiehaar behaal. Ons gesels met hom in Dinsdag se aflewering van RSG Landbou en hoor wat sy ondersteuners van...