Suksesvolle 2023 Merino-adviseurskortkursus en -eksamen

Estimated reading time: 5 minutes

Die jaarlikse Merino-adviseurskortkursus is van 12 tot 15 Junie onder die vaandel van Merino SA naby Middelburg in die Karoo by Jannie en Marlize Moolman op die plaas, Rusoord, aangebied. Die plaas het in die verlede bekendheid verwerf vir die Mighty Men-byeenkomste onder leiding van Angus Buchan.

Volgens Willie van Heerden, Merino SA se bestuurder, is die kursus ’n baie belangrike faset van Merino SA se aktiwiteite omdat die persone wat as adviseurs kwalifiseer, veral skaap- en wolbeamptes by die onderskeie makelaars, die Merino-bedryf kan help met keurings, beoordeling by skoue en die promovering van die ras. “My mikpunt is om mense lief te maak vir ’n Merino en om die ras op die voorgrond te kry,” het hy gesê.

Die aanbieders van die kursus was Willie van Heerden van Merino SA, Giepie Calldo van BKB, Cor Uys van OVK, Piet Venter van BKB, Corné Nel van BKB en dr Willem Olivier van Grootfontein Landboukollege.

Senior beoordelaars-kortkursus

Hierdie afdeling van die kursus het gefokus op Merino-rasstandaarde, positiewe en negatiewe aspekte van prulfoute, die metodiek van beoordeling en Merino-skoubeamptes. Dit is gevolg deur ’n praktiese demonstrasie van Merino-beoordeling, kondisie en lineêre bepunting asook ’n praktiese oefening vir die beoordeling van ooie en ramme.

Cor Uys, OVK-streeksbestuurder, het gesels oor die vereistes van beoordeling en ’n paar riglyne met kursusgangers gedeel oor die bouvorm en voorkoms van ’n skaap in die ring sodat eerstens die swakste skape uitgehaal word totdat net die beste oorbly. Daarna het die kursusgangers ’n teoretiese eksamen oor aspekte van bestuur en beoordeling geskryf en ook ’n praktiese en mondelinge eksamen afgelê.

Dr Willem Olivier van Grootfontein Landboukollege het oor ’n tydperk van twee dae ingespring met ’n aanbieding oor die Merino-plan wat as ’n seleksiehulpmiddel daargestel is om produksie en reproduksie op plaasvlak te verhoog en uiteindelik ook Merino-kuddes se inkomstepotensiaal te verhoog.

Wat die Merino-plan betref, het Van Heerden gesê. “Dié plan is uitgelê vir enigiemand wat met ’n stoet wil begin.” Hy het die kursus in sy geheel opgesom as ’n aanbieding wat baie werd kan wees vir iemand wat iets van die Merino wil leer en ’n kwalifikasie wil verwerf vir hul resumé, terwul hulle nog ’n stukkie ervaring by hul lewe kan voeg en hopelik na die kursus ook lief of liewer sal wees vir ’n Merino-skaap.” – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Merino SA by 049 892 4148 of merinosa@eastcape.net.


Top teeldiere by BKB Merino Classic 2022 vertoon

Die BKB Merino Classic 2022, Suid-Afrika se nasionale kampioenskap vir veldmerino’s, het op 15 en 16 September tydens Nampo Kaap in die nuwe BKB Veesentrum by Bredasdorp Park plaasgevind. Altesaam 27 telers het 327 diere vir die skou ingeskryf. Die beste teelmateriaal is uitgestal en behalwe vir die klaskampioene wat aangewys is, is nege spesiale toekennings gemaak.


Dohne-Merino-genootskap vier sy uitskieters

Die Dohne-Merino-telersgenootskap se nasionale veiling wat voorheen tradisioneel in Bloemfontein plaasgevind het, is vanjaar vir die eerste keer by Graaff-Reinet se Botaniese Tuine Sportklub gehou.

Die geleentheid het op Woensdag, 15 Februarie, plaasgevind en ’n gesellige dinee is die vorige aand gehou met Louwrens Conradie wat as seremoniemeester opgetree en die aand se verrigtinge gelei het.