Estimated reading time: 3 minutes
Inskrywings is nou oop vir die grootste, oudste en gewildste suiwelgebeurtenis in die land. Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe word vanjaar vir die 191ste keer aangebied.
Die kampioenskappe, wat sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied word, lok jaarliks sowat 900 inskrywings van groot, medium en klein suiwelvervaardigers. Produkte ding mee om die titels van Suid-Afrikaanse Kampioen, die Qualité-merk van Uitnemendheid en die uiteindelike Produk van die Jaar, wat aangewys word tydens die prestigeryke toekennings.
Lees meer oor SA Stamboek se verering van top suiwelkuddes.
Die SA Suiwelkampioenskappe bestaan uit meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander suiwelprodukte. ’n Wenproduk word in elke klas met die titel van Suid-Afrikaanse Kampioen bekroon. Die Qualité-merk van Uitnemendheid, wat deur die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf as sy enigste merk van uitnemendheid erken word, word slegs toegeken aan uitgesoekte produkte van uitsonderlike gehalte wat ’n spesifieke minimum punt op die internasionale telkaart behaal het. Die produk wat die hoogste punt behaal, word as Produk van die Jaar bekroon.
Kyk saam na Plaas TV se insetsel oor die suiwelbedryf.
Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, is die doel van die SA Suiwelkampioenskappe om uitnemendheid in die suiwelbedryf te erken en te bevorder. “Hierdie kampioenskappe het die maatstaf geword vir vervaardigers om hulself teen mekaar te meet,” sê Milford. “Ons is bevoorreg om die suiwelbedryf deur middel van hierdie platform te dien. Dit word moontlik gemaak deur die samerwerking van ons platinumvennote IMCD en DSM, asook ander vennote.”
- Inskrywings open op Maandag 15 Januarie 2024 op die webwerf: https://cheesesa.co.za/.
- Die sluitingsdatum vir inskrywings is Maandag 5 Februarie 2024.
- Die beoordeling vind op Donderdag 7 en Vrydag 8 Maart 2024 by Eensgezind buite Durbanville plaas.
- Die SA Suiweltoekennings word op Donderdag 25 April 2024, ook by Eensgezind, aangebied.
Vir meer inligting, besoek https://cheesesa.co.za/, skakel 021 863 1599 / 083 440 1628, of stuur ’n e-pos aan dairy@agriexpo.co.za. – Persverklaring, Agri-Expo