Estimated reading time: 3 minutes
Na maande se intensiewe beplanning, het Ede Holsteins se vierde produksieveiling en boeredag in September net buite Middelburg plaasgevind. Georganiseerde strukture in die suiwelbedryf is hier onder die vergrootglas geplaas, met sprekers soos dr Pierre van Rooyen, voormalige bestuurder van SA Stamboek, dr Japie van der Westhuizen, bestuurder van SA Stamboek, prof Norman Maiwashe van die Landbounavorsingsraad, Fanie Ferreira, hoofbestuurder van die Melkprodusente-organisasie (MPO), en Pieter van Deventer van Jersey SA.
Altesaam 27 lotte van uitstekende Holstein-gehalte het ook onder die hamer gekom.
Lees meer oor die onlangse Komga-skou hier.
Bedryfsake
Volgens Fanie is daar tans ’n groot aanslag op Suid-Afrika se jogurtmark, waaraan die MPO aandag gee. Hy meen 80% van produkte op die rakke is nie meer jogurt nie, maar dairy snacks. “Tien persent van boere se melk, en 10% van hul inkomste is in dié proses daarmee heen. Dit proe soos jogurt, maar sommige hiervan bevat slegs 20% melkprodukte en is soms net hersaamgestelde weiprodukte waarvan invoere na Suid-Afrika die afgelope ruk aansienlik toegeneem het.”
Pieter het oor die rol van Jersey SA, wat meer as 100 jaar oud is, gesels. Hy het Jersey-telers genoop om dié genootskap te gebruik om hul doelwitte te bereik. “Om ’n hoë-gehalte dier te hê vat tyd – doen dit deur die regte kanale. Die Jersey is die wêreld se vinnigs groeiende melkras, en Suid-Afrika het die naasgrootste Jersey-populasie in die wêreld. Dit skep ’n legio geleenthede, maar samewerking tussen alle rolspelers is nodig om dit te ontgin.”
Lees meer oor die nuwe Nampo Alfa-skou hier.
Puik pryse by veiling behaal
Die aanbieding tydens die produksieveiling het uit 25 eerstelaktasiekoeie en twee bulle met genoom-verrykte teelwaardes bestaan. Die bul in lot 1 is vir die hoogste prys van R45 000 aan Johan Langenhoven van Delmas verkoop. Die bul is ’n S-S-I Josuper Rocketfire-seun uit ’n Fivestar-moeder wat spog met ’n beste laktasie van 13 888kg melk met 3,97% bottervet.
Lees meer oor die 100ste Villiersdorp landbouskou hier.
Die hoogste-prys koei is vir R36 000 aan Janvos Landgoed van Davel verkoop. Sy is ’n S-S-I Supersire Modesto-dogter met ’n besonderse uier. Sy het op 57kg melk gepiek en het ten tyde van die veiling 45ℓ met ’n somatiese telling van 123 000 geproduseer. Sy was ook dragtig van Denovo 8084 Entity.
Die gemiddeld vir die twee bulle wat aangebied is, was R37 500 en die gemiddeld vir die 25 vroulike diere was R24 480. Die veiling is deur Gert Coetsee van Vleissentraal behartig. – Elmarie Helberg, AgriOrbit