Estimated reading time: 2 minutes

Die Suid-Afrikaanse kanolabedryf is tans in ’n groeifase. Groter belangstelling in die bedryf kan aan bogemiddelde opbrengste en goeie pryse in die afgelope seisoen toegeskryf word. So het Andries Theron, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), tydens die stigting se kanola-werkgroepvergadering vir die Suid-Kaapstreek by Rûens Kollege in Klipdale, gesê.

SOILL: Die kanolabedryf blom behoorlik

Kellie Becker, besturende direkteur van Southern Oil (SOILL), het gesê kanola vaar die beste in ’n goeie wisselbouprogram met kleingrane (koring en gars), waar dit verskeie voordele soos ’n laer insetkoste inhou.

Van links is Andries Theron, die PNS se voorsitter, die PNS Kanolaprodusent van die Jaar in die Suid-Kaap (Nuwe Toetreder-kategorie), Wynand Wessels, en Gerhard Keun, hoof uitvoerende beampte van die PNS.

Dit wil voorkom of kanola se gemiddelde opbrengs nou na ’n vlak hoër as 2 ton/ha beweeg het. Met opbrengste van 2 ton/ha en hoër, tesame met die goeie pryse van die afgelope seisoen, kan kanola nou, wat bruto marge per hektaar betref, ook met kleingrane meeding.

Volgens Tony Esmeraldo, sake-direkteur van Corteva, sal die grootste veranderinge in produktiwiteit by kanolaproduksie, deur nuwe tegnologie in teling gedryf word, en nie noodwendig deur geneties gemodifiseerde organisme-tegnologie nie. “Klimaatsverandering sal vorentoe ál groter uitdagings aan telingsprogramme stel. Die plaaslike kanolabedryf moet dus in tegnologie belê wat opbrengs verhoog en insetkoste verlaag,” het hy gesê.

PNS Kanolaprodusent van die Jaar-toekennings

Die PNS het ook by die vergadering ’n Kanolaprodusent van die Jaar in drie katergorieë vir die Suid-Kaapstreek aangewys. Die kategoriewenners is as volg:

  • Kategorie vir 50 tot 150ha: Danie du Toit van Springerskuil Boerdery by Caledon, met ’n gemiddelde opbrengs van 2,72 ton/ha op ’n totale aanplanting van 72ha.
  • Kategorie vir >150ha: Jan Paul Kempen van Amerika Landgoed by Klipdale, met ’n gemiddelde opbrengs van 3,03 ton/ha op ’n totale aanplanting van 314ha.
  • Nuwe toetreder-kategorie: Wynand Wessels van Wynarend Boerdery by Napier, met ’n gemiddelde opbrengs van 2,95 ton/ha op ’n totale aanplanting van 27ha. – Hugo Lochner, AgriOrbit