Suid-Afrikaner beoordeel Ile de France-skape in Frankryk

Estimated reading time: 3 minutes

Mark Gietzman van die Hageland Ile de France-stoet by Klerksdorp en adjunk-voorsitter van die Ile de France-telersgenootskap van Suid-Afrika, is pas terug in die land nadat hy die Ile de France-afdeling by die Internasionale Landbouskou (Salon International de l’Agriculture [SIA]) in Parys beoordeel het.

“Sosiale media het die wêreld baie klein gemaak en ek kommunikeer al lank met telers van Ile de France-skape, nie net in Frankryk nie, maar ook in ander dele van Europa. Ons het twee jaar gelede die voorreg gehad om die 100ste bestaansjaar van die Ile de France-ras in Frankryk te gaan vier. Dit het daartoe aanleiding gegee dat hulle my genooi het om hulle hoofbeoordelaar by vanjaar se SIA te wees.

Die Franse, sê hy, het ’n spesiale toetsstasie by Virdilly waar hulle onder andere jaarliks 300 jong rammetjies van oor die hele Frankryk bymekaarbring en aan prestasietoetse onderwerp tot daar uiteindelik net vyf ramme vir teling geselekteer word.

Hierdie ramme kry sogenaamde ‘elite status’ en telers is dan verplig om hierdie ramme op ten minste 30% van hulle kuddes te gebruik. Dit veroorsaak dat die genetiese vordering van die Ile de France oor die afgelope 50 jaar geweldig indrukwekkend was.

Seleksiekriteria

“Afgesien van die normale groeitoetse is ultrasoniese skandering vir vet teenoor vleis en been baie belangrik, asook die moederlyne waaruit hierdie ramme kom. Veral melkproduksie geniet hoë prioriteit in die seleksie. Spierontwikkeling, eerder as vetneerlegging, tesame met melkproduksie, is vir die Franse baie belangrik. Verder is groeivermoë en vrugbaarheid natuurlik net so belangrik.”

Altesaam 130 skape van 12 verskillende telers van regoor Frankryk is op SIA vertoon. Wat interessant was, sê Mark, is dat waar Ile de France-skape in Suid-Afrika met kort geskeerde wol vertoon word, daar in Frankryk twee klasse is – met kort geskeerde wol en dan met lang wol. Die Franse plaas meer klem op wol as die Suid-Afrikaners.

Lees meer oor Konsortium Merino hier.

“Die SIA word deur telers van regoor Europa as vertoonvenster van Franse genetika gebruik en mense kom vanaf lande soos Turkye en Serbië om ramme te kom uitsoek om hulle kuddes te verbeter. Dit is die room van Frankryk wat op dié skou tentoongestel word en en ek het weer besef hoe belangrik dit is om hierdie genetika in Suid-Afrika te kry. Dis ’n groot frustrasie dat dit nie tans moontlik is nie, want ons is definitief besig om agter te raak.”

Om te illustreer hoe effektief die Ile de France in Frankryk is, vertel Mark van ’n toekenning wat tydens die skou aan ’n produsent, Philipe Berger, gemaak is. Uit die 300 ooie in sy kudde, het Philipe altesaam 630 lammers gekry. Afgesien van die bestuur, sê Mark, illustreer dit die effek van lang en volgehoue navorsing en seleksie. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Strategieë vir die voerkraalvoorbereiding van kalwers

Estimated reading time: 7 minutes Voerkraalvoorbereiding, beter bekend as backgrounding, verwys na ’n fase...

Veediefstal: Omgewingskriminologie en misdaadanalise

Estimated reading time: 5 minutes Veediefstal is ‘n misdaad wat ouer as die berge...

Amendments in respect of tenure on farms

Estimated reading time: 4 minutes The Extension of Security of Tenure Amendment Act, 2018...

Behou hoë reproduksiesyfers met behulp van prulfout-identifisering

Estimated reading time: 4 minutes Produsente moet weet watter aspekte van veeboerdery uiteindelik tot...