Estimated reading time: 2 minutes
Augustus sal vir seker onthou word as ʼn maand waar markte deurmekaar was. Nie net is die wêreld besig om in ʼn siklus van hoër rentekoers weens weghol inflasie in te beweeg nie, maar bek-en-klouseer het ons op plaaslike vlak ook met ʼn klompie uitdagings gepootjie.
Die verbod op vervoer van beeste wat ween bek-en-klouseer veroorsaak dat geen speenkalwers in die tweede helfte van Augustus verhandel kon word nie, en die feit dat China se grense steeds toe was vir Suid-Afrikaanse wol het ook niks vir die eerste wolveiling van die seisoen ingehou nie.
Kry die weeklikse vleispryse hier.
Op die ekonomiese front het die rand wipplank gery teen die vernaamste geldeenhede in Augustus, terwyl die dollar tot feitlik dieselfde waarde as die euro versterk het. Einde Augustus het die rand onderskeidelik teen R17,16 en R17,19 teen die dollar en euro verhandel. Verbruikersprysinflasie het in Julie gestyg tot 7,8% op ʼn jaar-op-jaar grondslag, maar produsente prys inflasie hardloop weg en het tot 18% gestyg.
Die prys van geelmielies het in Augustus weer op die rug van hoër internasionale pryse gestyg en het aan die einde van die maand teen R4 514/ton gesluit. Daar was net een sybokhaarveiling in Augustus met die aanduiderprys wat op R374,84 gesluit het. Dit is sowat 7,3% laer was as tydens die laaste veiling van die somer.

Wolveilings het na die winter-reses ook weer in Augustus voortgegaan en daar is drie veilings gehou (Figuur 1). Tydens die eerste veiling was China se grense nog vir Suid-Afrikaanse gesluit, en dit is in die daling van die prys weerspieël. Met die tweede veiling was die grens oop en het die aanduiderprys van nie-Responsible Wool Standard (RWS) goed gestyg. Tydens die laaste veiling het die tekort aan skepe om die wol wat reeds in store lê te verskeep die vraag negatief beïnvloed en het die prys weer met 6,6% tot R172,22 gedaal.
Pryse van beide speenlammers en kalwers het gedurende Augustus gedaal en teen onderskeidelik R47,05/kg en R36,26/kg teen die einde van die maand verhandel. Karkaspryse het ook ʼn dalende tendens getoon. Die aankooppryse van A2-lam- en beeskarkasse was onderskeidelik R100,02/kg en R61,39/kg teen die einde van Mei, terwyl die prys van O-klas (80 to 90 kg) varkkarkasse R26,77/kg was. – Prof Frikkie Maré, University of the Free State
Vir meer inligting kontak vir Frikkie Maré by MareFA@ufs.ac.za.