Monday, August 15, 2022
HomeMagazinesStreng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes

Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die Magaliesberg, waar luiperds en bruin hiënas gereeld kalwers vang en dodelike siektes onder diere maai, word klipharde Bonsmarabeeste geteel wat met gemak op enige plek in die land sal kan aanpas.

By Mazél Bonsmaras van Gerhard Strydom word diere streng volgens bouvorm en genetiese teelwaardes geselekteer. Trouens, as hy ’n bul uitsoek, kyk hy eers watter bulle se bouvorm hom tref as diere wat in sy kudde sal inpas. Daarna kyk hy na die genetiese teelwaardes van elkeen van dié bulle en maak dan sy keuse.

By Mazél Bonsmaras van Gerhard Strydom word diere streng volgens bouvorm en genetiese teelwaardes geselekteer.
Gerhard Strydom en sy plaasbestuurder, Mario-Lee van der Vyver.

Lees meer oor uitstekende Bonsmara pryse hier.

Begin van ’n ‘voorspoedige’ stoet

As regsgeleerde het hy in 1990 in die omgewing van Koster met ’n kommersiële beesboerdery begin en in 1996 het hy die Mazél-stoetery by Bonsmara SA geregistreer. In daardie tyd het sy ouers, Jac en Bessie, ’n Bonsmara-stoet as naweekboere naby Rustenburg bedryf. Toe sy pa in 1997 oorlede is, het hy die stoetery op Leeuwpoort in die Magaliesvallei geërf en die kuddes saamgevoeg met onder andere die uitsonderlike vroulike diere in sy ouers se kudde.

Die stoetery is na sy twee dogters, Madine en Zanél, vernoem en op ’n dag het hy by ’n Joodse kollega gehoor dat die naam Mazél in Hebreeus toevallig ‘alle voorspoed’ beteken.

Sedertdien is teeldiere uit die beste kuddes in die land gebruik om die grondslag van die stoetery, wat vandag uit sowat 125 teelkoeie bestaan, te lê.

Afgesien van die moeilike omgewing waarin die diere moet produseer, hou hartwater, rooiwater en galsiekte groot uitdagings in. As gevolg van die roofdierbedreiging, kalf die koeie in kampe om die opstal en eers as die kalwers sowat ses maande oud is, keer hulle na die bergkampe terug.

Raamgrootte en bespiering

Gerhard het deur die jare gesien dat grootraamdiere en veral groot koeie, swaar kry in die omgewing waar hy boer. Daarom teel hy mediumraam-, vroegrypdiere en sit eerder met goeie bespiering ekstra vleis aan die karkas.

Oor die dubbelbespieringsgeen wat onder andere by die Bonsmara geïdentifiseer is, glo hy dit kan met sorgsame teling gebruik word om swaarder karkasse te teel, maar dat dit egter baie omsigtig gebruik moet word. Syns insiens is daar ’n groot verskil tussen goeie bespiering en dubbelbespiering.

Sommige telers glo dat ’n mens net met diere wat die geen vir dubbelbespiering dra, goeie bespiering kan kry. Volgens hom dit is beslis nie waar nie – inteendeel, hy het ’n string bulle met uitstekende bouvorm en bespiering wat nié die geen dra nie. Hy het weliswaar al bulle geteel wat die geen dra, met baie goeie en aanvaarbare bouvorm.

Gerhard gebruik ook glad nie die geendraende bulle op verse nie. Hy sê hy glo ook nie aan versbulle nie. Hy poog om ’n bul te gebruik wat ‘n vers in staat kan stel om haar eerste kalf ’n goeie kalf te maak. Sulke bulle moet ook op al die koeie gebruik kan word.

Lees meer oor hoe om bosluise te stuit in die lente hier.

Magaliesberg Bonsmara-groep

Ná sy aankoms in die Magaliesvallei het hy die Magaliesberg Bonsmara-groep gestig, wat vandag uit agt lede bestaan en ’n hegte Bonsmara-familie vorm. Hulle hou vanjaar hul twaalfde veiling op 30 September en verwag om 35 streng gekeurde SP-bulle, en tussen 160 en 180 vroulike diere aan te bied.

Een van die lede, John Boon, het hom jare terug op poenabeeste begin toespits en vandag is sowat 70 tot 80% van sy Bonsmaras poenskoppe. Tien bulle op vanjaar se veiling is poenabeeste. Tydens die veiling gaan Gerhard se een hoofstoetbul, GJS 15-022, ook onder die hamer kom. Dié bul is ’n seun van AG 11-038, wat landswyd bekend is as ’n uitstaande Bonsmarabul. Nageslag van GJS 15-022 sal ook op die veiling aangebied word.

Die bul GJS 15-022, een van die hoof stoetbulle van Mazél Bonsmaras, gaan eersdaags by Mazél en Magaliesburg-groep se veiling aangebied word. Hy is ’n seun van die bekende bul, AG 11-038.
Die bul GJS 15-022, een van die hoof stoetbulle van Mazél Bonsmaras, gaan eersdaags by Mazél en Magaliesburg-groep se veiling aangebied word. Hy is ’n seun van die bekende bul, AG 11-038.

Bestuur en kuddegesondheid

Boerdery, met al sy genetiese uitdagings, is vir Gerhard ’n passie wat boonop ook terapeuties is aangesien hy hom in die natuur kan uitleef. ’n Verdere bonus is die betrokkenheid van sy dogters en hul mans by die veiling en boerdery.

Naweke is hy voltyds tussen die beeste en gedurende die week word hy bygestaan deur sy knap plaasbestuurder, Mario-Lee van der Vyver, wie landbou aan die Potchefstroomse Landboukollege studeer het. Sy is voluit by die kuddebestuur en -gesondheid betrokke en samel gegewens vir rekordhouding in.

’n Streng inentingsprogram word gevolg. Alle kalwers word tussen vyf en agt maande teen spons-, lam-, milt- en knopvelsiekte ingeënt, en die verse ook teen besmetlike misgeboorte. Omdat daar verskeie gronddamme op die plaas is waaruit die beeste suip, word die diere gereeld ontwurm.

Voorvereistes vir ’n teelbul

Wanneer Gerhard ’n bul uitsoek vir gebruik in die stoetery, kyk hy eers na die bouvorm en soek ’n groepie bulle uit wat sy oog vang en wat by sy koeikudde sal pas. Daarna kyk hy na die syfers van die bulle om ’n finale besluit te maak. Die syfers moet aan sy standaarde voldoen, die dier se stamboom moet die bloedlyne wat presteer verder versterk, en hy moet oor eienskappe beskik wat sy nageslag geneties sal verbeter.

Tot nou toe het meestal kommersiële vleisbeesboere bulle op hul veilings gekoop, maar hulle mik daarna om ’n stewige voet in die stoetbulmark te kry deur bulle te teel wat ook daar hul man kan staan. Sy bulkalwers word aan ’n fase D-groeitoets van 84 dae en ’n aanpassingstyd van 21 dae onderwerp, waarna hulle streng deur senior keurders van Bonsmara SA gekeur word.

Parings en vroulike diere

Om parings te beplan, verg baie meet en pas. Daar word noukeurig na die koei se bouvorm, raamgrootte en ander eienskappe gekyk, sodat ’n bul op haar gebruik kan word wat haar sterkpunte sal beklemtoon en enige swakker eienskappe sal regstel.

Hy lê klem op die gebruik van lang teelbulle met ’n sterk toplyn en goeie kapasiteit, met ’n punt van ten minste agt of nege (uit nege) vir bouvorm. Verse word altyd afsonderlik behandel en by die bul gesit as hulle 18 tot 20 maande oud is. Na hul tweede kalf word hulle in die koeikudde opgeneem. Koeie moet vroulik wees, met ’n mooi wigvorm en uier.

Goeie moedereienskappe is veral belangrik weens die uitdagende toestande waaronder die koeie moet kalf en hul kalwers moet grootmaak. Vrugbaarheid is ononderhandelbaar.

Volgens Gerhard is Bonsmara SA bekend vir deurdagte en streng keuringsvoorskrifte wat van krag is en wat die ras gebring het waar dit vandag is. Dit beskerm enersyds die kopers en verseker die voortgesette verbetering van die gehalte van Bonsmarabeeste se teelmateriaal. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Gerhard Strydom by 083 266 8597 of mazel1@telkomsa.net.

Must Read

#kykweervrydag Plaas TV 08 – 12 Augustus

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ʼn opsomming van...