Danie Strauss en Eppie Nel is vanjaar die wenners in die oop afdeling van die Toyota SA Nasionale Jong afslaerskompetisie wat op Nampo aangebied word. Die ander finaliste in die afdeling was Barco van Niekerk en Fanie Cronjé.

Die opwinding was groot in die volgepakte veilingskompleks toe twee deelnemers in die onderskeie ouderdomsgroepe elk weer ’n lot moes opveil vir die beoordelaars om hul finale besluit te maak.

Die finaliste in die verskillende afdelings wys op Nampo hul staal op die rostrum. Altesaam 11 senior en junior deelnemers in die oop afdeling was eerste aan die beurt. Die afdeling is vir persone wat reeds in die afslaersbedryf aktief is. Elke deelnemer het twee lotte in ’n kammaveiling opgeveil. Diere is deur Eran Limousins beskikbaar gestel en die hanteerders was leerlinge van die Mpumalanga-jeugskou.

Die kompetisie was uiters straf en die vier deelnemers moes terugkeer na die rostrum vir die beoordelaars om ’n wenner te kies. Volgens die beoordelaars, Deon Klopper van GWK, Dawid Nel van KLK en Mario Kruger van CMW/OVK, was die standaard uiters hoog. “Uitstekende talent is vandag op die rostrum gesien en dit was nie maklik om ’n wenner te kies nie,” het Deon in sy kommentaar gesê.

Die volgende afdeling kom op 19 Mei tydens Nampo aan die beurt. Kom wees deel van die aksie daagliks vanaf 14:00 in die veilingslokaal op Nampopark.-Marike Brits, Veeplaas

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY