Strafregstelsel wankel en geweldsmisdaad styg

Estimated reading time: 6 minutes

Terwyl dit onaanvaarbaar is dat 34 plaasmoorde sedert die begin van die jaar gepleeg is, is dit selfs meer kommerwekkend dat ’n totaal van 6 228 mense tussen Mei en Julie vanjaar in Suid-Afrika vermoor is. Só sê dr Johan Burger, ’n voormalige majoor-generaal van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en senior navorser by die Instituut van Sekerheidstudies.

Behalwe vir die feit dat toenemende geweldsmisdaad ’n bron van kommer is, is dit ook skrikwekkend hoeveel dié geweld landsburgers kos. Volgens die Australiese Instituut vir Ekonomie en Vrede (IEP) se 2023 Globale Vredesindeks, het geweld Suid-Afrika verlede jaar bykans AU$119 miljard (sowat R2 triljoen) gekos.

Dr Burger meen Suid-Afrika is ’n baie gewelddadige land. “Selfs in 2011/12 was ons moordkoers van 42 moorde per dag reeds vyf keer hoër as die internasionale gemiddelde koers van ses of sewe moorde per dag.” Intussen het die Suid-Afrikaanse syfer gestyg tot 75 moorde per dag.

Dr Burger sê hoewel die data onduidelik is, wil dit tog blyk asof plaasmoorde nie teen dieselfde dramatiese koers as die land se algemene moordkoers styg nie. “Ander geweldsmisdade, soos roof met verswarende omstandighede (gewapende roof) het ook die afgelope dekade dramaties toegeneem. Ons moet besef dat mense in landelike areas nie noodwendig die toename in misdaad gespaar sal word nie.”

Lees meer oor Mpumalanga Landbou-kongres se invalshoek oor landelike veiligheid.

Plaasmoorde en -aanvalle bekyk

Noko Masipa, die Demokratiese Alliansie (DA) se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike veiligheid, sê hoewel plaasmoorde nie die hoogste moordsyfer in die land is nie, verdien dié moorde spesiale aandag aangesien dit ’n direkte gevaar vir voedselsekerheid inhou.

“Baie Suid-Afrikaners gaan slaap saans honger en met die stygende werkloosheidsyfer behoort die president bekommerd te wees oor die welsyn van dié uiters belangrike sektor en behoort hy alles in sy mag te doen om produsente veilig te hou.”

Masipa het verlede week sy misnoeë uitgespreek, omdat president Ramaphosa die DA se formele versoek om ’n kommissie van ondersoek na plaasaanvalle en -moorde te stig, vir meer as 70 dae al ignoreer. “Sedert ons die versoek gerig het, is nóg 17 produsente tussen Mei en Julie op hul plase vermoor, wat 56% meer is as die vorige kwartaal,” het Masipa gesê.

Figuur 1: Plaasmoorde wat tussen Mei en Julie 2023 gepleeg is. (Bron: TLU SA)

Dr Burger sê terwyl die toename in plaasmoorde die afgelope klompie weke opmerklik is, is die motiewe daarvoor onduidelik. “Daar is egter by baie, veral in die landbougemeenskap, ’n sterk korrelasie tussen die sing van die ‘Kill the Boer’-lied tydens onlangse politieke byeenkomste en die styging in moorde,” sê dr Burger.

“Ek vermoed dat die oproep tot die doodmaak van blanke produsente moontlik ’n rol in ten minste sommige van hierdie moorde kan speel, maar só ’n korrelasie kon tot dusver nog nie bewys word nie.”

Lees meer oor Vrystaat Landbou se veediefstal-ondersoek.

Tendense en fluktuasies

In onlangse jare het die plaasmoordsyfers, soos uitgewys deur TLU SA (Tabel 2), baie gewissel, sê dr Burger. “So is byvoorbeeld 53 moorde in 2012 gepleeg, 82 in 2017 en in die daaropvolgende jaar (2018) het dit weer na 54 afgeneem. In 2020 het die syfer op 71 moorde gestaan.”

Tabel 2: TLU SA se plaasaanval- en moordregister vir 1990, 2000, 2010, 2020 en 2023

Provinsie19902000201020202023
 MAMAMAMAMA
Gauteng44917173916101711
Noordwes031527716063216
Limpopo14724181775628
Mpumalanga371532720845611
KwaZulu-Natal341955421533418
Oos-Kaap2310113481936
Noord-Kaap0000003801
Wes-Kaap005402422517
Vrystaat325118151050515
Totaal 16 2785181641157139734103
Sleutel: M = Plaasmoord / A = Plaasaanval

In 2021 en 2022 is onderskeidelik 51 en 43 moorde gepleeg en vir die eerste sewe maande tot einde Julie vanjaar het die syfer op 34 gestaan, voeg dr Burger by. “Daarteenoor het die nasionale moordsyfer (alle moorde in Suid-Afrika) sedert 2011/12 jaar-op-jaar met ’n totaal van meer as 50% toegeneem van 15 609 moorde tot 27 272,” dui dr Burger aan.

Die enigste uitsondering was in 2020, toe Suid-Afrika onder streng inperking was. “Op grond van hierdie syfers het die nasionale koers deurlopend gestyg, terwyl die syfers vir plaasmoorde wisselvallig was. Dit beteken egter nie dat die sing van ‘n politiese lied nou irrelevant en onskuldig is nie. Die populistiese aanblaas van rassehaat en gepaardgaande oproepe tot geweld teen veral blankes, skep ’n gevaarlike politieke klimaat vir rassekonflik en kan vir baie as motivering of ten minste as regverdiging vir geweld en moord dien.”

‘n Morele insinking

“Daar is basies twee hoofredes hoekom mense misdaad pleeg. Die een het met maatskaplike probleme te make en die ander gaan oor gierigheid,” verduidelik Dr Burger. “Soos Suid-Afrika se ekonomie verswak en werkloosheid toeneem, beleef ons ’n styging in misdaad.”

Dr Burger meen dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers reeds meer as 30% is, wat beteken dat baie mense se omgewingsfaktore hulle tot misdaad dwing. “Al meer mense is werkloos en armoedig en ons moet besef dat dié toestande negatiewe maatskaplike gevolge inhou. Individue sal tipies by ‘n huis inbreek of op ’n ander manier steel, omdat hulle nie kos op die tafel kan sit nie. Voor ons dus nie die land se sosio-ekonomiese probleme aanspreek nie, gaan die probleem nie verbeter nie.”

Die tweede rede vir die toename in misdaad het met gierigheid en mense se behoefte aan rykdom te doen. “Oor die afgelope dekade het dié tipe misdaad, ook bekend as witboordjiemisdaad of handelsmisdaad, met 63% toegeneem,” sê Dr Burger en voeg by dat hierdie misdaad ook die area is waar georganiseerde misdaadgroepe funksioneer.  

Strafregstelsel sukkel

Een van die hoofredes vir misdaadtoename is die feit dat die land se strafregstelsel, wat polisie en howe insluit, ’n algehele insinking oor die afgelope dekade beleef het. “Ons polisie se vermoë om moordsake op te los het sigbaar afgeneem,” sê Dr Burger. “Suid-Afrika se bevolking het met tien miljoen toegeneem, terwyl daar slegs 140 000 polisielede is. Dit maak wetstoepassers se taak baie moeilik.”

Gevolglik het gewapende roof en moord jaar-op-jaar tussen 2012 en 2022 met 50% gestyg, terwyl polisie se oploskoers met 50% gedaal het.

Dr Burger het verder sy kommer uitgespreek oor die feit dat die Suid-Afrikaanse gevangenisstelsel nie voldoende spasie het om alle kriminele agter tralies te hou nie.

’n Positiewe ligpunt is egter die feit dat die polisie se besnoeide begroting weer aangepas is en dat 10 000 nuwe polisielede nou opgelei kan word. “Die probleem is egter dat dit nuwe rekrute, sonder ervaring is. Dit gaan jare neem om die kennispoel weer genoegsaam uit te brei.” – Susan Marais, Plaas Media

Popular stories