Monday, August 15, 2022

Staatsvergoeding wanneer besmette diere van kant gemaak moet word

Estimated reading time: 4 minutes

Groot onsekerheid heers tans weer in Suid-Afrika ná die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in Noordwes. Dit bring die hele kwessie van dieresiektes en vergoeding vir verliese na die voorgrond, en derhalwe word ’n uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl oor die uitbreking van tuberkulose in ’n melkkudde in die Oos-Kaap, kortliks hier bespreek.

In die saak van Die Minister van Landbou en Andere vs. Bluelilliebush Dairy Farming en ’n Ander (2008 [5] SA 522 [SCA]), moes die betrokke hof beslis oor die rampspoedige verlies van meer as 7 000 koeie, verse, kalwers en bulle wat van kant gemaak moes word as deel van die voorkomingsmaatreëls ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984).

Artikel 19 van dié wet maak voorsiening vir vergoeding wat ’n eienaar kan eis wanneer hy/sy deur die staat verplig word om diere van kant te maak, te vernietig of anders oor moet beskik, as deel van sekere beheermaatreëls wat die wet voorskryf en wat hoofsaaklik daarop gerig is om die oordrag en verspreiding van siektes soos vervat in die wet en regulasies, te voorkom.

Lees meer oor bek-en-klouseer siekte kennisgewings hier.

Bepaling van vergoeding

In die saak moes die hof, buiten ’n paar ander geskille, beslis oor die basis van vergoeding wat aan die eienaar betaalbaar is en, in besonder, hoe daar regtens te werk gegaan moet word om regverdige en billike, markverwante vergoeding in dié omstandighede te bereken.

Aan die kant van die Minister van Landbou is aangevoer dat die waarde dít van die besmette dier moet wees (die waarde van bruikbare dele van die karkas van ’n geslagte dier), en aan die kant van die vee-eienaar is aangevoer dat die vergoeding op die waarde van die onbesmette dier (die waarde van ’n produktiewe dier) bereken moet word.

Op daardie tydstip was die waardeberekening op grond van die laasgenoemde metode, vyf keer meer as die vergoeding wat betaalbaar sou wees vir die bruikbare gedeeltes van ’n karkas.

In die uitspraak het die hof ’n ontleding gedoen van die doel en oogmerke van die skema van vergoeding, waar eienaars van diere met die staat moet saamwerk om aansteeklike dieresiektes te beveg en te beperk.

Na ’n behoorlike ontleding van die wet en regulasies, het die hof tot die gevolgtrekking gekom dat die redelike markverwante vergoeding, wat die wetgewer beoog het vir die skema en waar eienaars van diere vergoed word, daarop neerkom dat eienaars, binne die raamwerk van die regulasies, geregtig sou wees op ’n berekening van die waarde van diere gegrond op die gesonde produksiewaarde van die dier(e).

Wetlike bepalings

Tans bepaal die regulasies wat onder die wet uitgevaardig is, die volgende as die basis van vergoeding wat betaalbaar is: Wanneer vergoeding ingevolge artikel 19 van die wet aan ’n verantwoordelike persoon betaalbaar is, is die toepaslike vergoeding:

(a)     In die geval van ’n besmette dier, 80% van die billike markwaarde daarvan.

(b)     In die geval van ’n dier wat vir ’n beheerde veterinêre doel of ter voorkoming van die verspreiding van ’n beheerde dieresiekte van kant gemaak word, 100% van die billike markwaarde daarvan.

(c)     In die geval van ’n besmetlike ding, uitgesonderd ’n dier, en ’n besoedelde ding, 50% van die billike markwaarde daarvan.

Lees meer oor bosluisgedraagde siektes hier.

Regsimplikasies vir vee-eienaars

Dit mag in die afsienbare toekoms gebeur dat beheermaatreëls daartoe lei dat diere onder hierdie skema van gekant gemaak sal moet word. Dit is belangrik om te onthou dat die skema ook daarop gerig is om, soos in die geval van die afgelope twee jaar se nasionale ramptoestand, die gevolge van ’n ramp soos in die bogenoemde saak, te beperk of verminder.

Dit val ook binne die raamwerk van die wet dat eienaars van diere saam behoort te werk om uitbrekings van hierdie aansteeklike en gevaarlike siektes te bekamp en beperk.

Die bogenoemde uitspraak sal in alle waarskynlikheid ook aanduidend wees van die basis van vergoeding waarop ’n eienaar geregtig sou wees, indien geslaagd bewys sou kon word dat ’n aansteeklike dieresiekte, weens die nalatigheid van die eienaar van besmette diere, na ander diere versprei het. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

Versorging van ooie en lammers tydens lamtyd

Estimated reading time: 4 minutes Sorgsame bestuur van pasgebore lammers en hul moeders is...

Caring for ewes and lambs during lambing

Estimated reading time: 4 minutes A strong lamb crop is highly dependent on meticulous...

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die...

RSG Landbou: 4 Augustus 2022 – geborg deur Hygrotech

Talle plaaseienaars maak dikwels van ‘n maatskappy gebruik om tydelike of seisoenale werkers in...