Swart strome vars-uitgebroeide sprinkane het die afgelope tyd op verskeie plase by Somerset-Oos in die Oos-Kaap hul opwagting gemaak. In ’n tyd van droogte en min reën is dit die laaste ding wat ’n bekommerde boer wil sien.

Op 13 September 2021 het die eerste pas-uitgebroeide sprinkane hul verskyning in dié omgewing gemaak en sedertdien word verskeie swerms daarvan opgemerk. Gedurende Oktober-maand is ongeveer 54 swerms oor ’n gebied van 1 083ha in 22 afsonderlike gebiede beheer, danksy plaagbeheer wat toegepas word.

Ingevolge die Wet op Plaagbeheer (Wet No. 36 van 1983 A5) is elke grondgebruiker verplig om die naaste departementele beampte of ’n gemagtigde persoon in kennis te stel indien daar vlieënde of kruipende sprinkane teenwoordig is. Die hoeveelheid swerms wat uitbroei is baie meer as wat vooraf geraam is en die rede daarvoor is dat daar in die vorige seisoen baie min van die swerms gerapporteer is. Daar was gedurende die vorige seisoen sprinkaanswerms tot so ver as Tarkastad – daarom is bewusmaking van absolute belang om ’n plaag soos hierdie te beheer.

Sprinkaanplaag-opleiding is onlangs deur die Nasionale Departement vir Landelike Ontwikkeling en Landbouhervorming aan produsente en persone wat hulp wil verleen, aangebied om ondersteuning te bied aan diegene wat deur hierdie plaag geraak word.

Van die oomblik wat ’n bruinsprinkaan uitbroei, neem dit ongeveer 56 dae om volwassenheid te bereik en te begin vlieg. Daarna leef ’n volwasse sprinkaan vir nog sowat 78 dae en kan die wyfie-sprinkaan in hierdie tydperk meer as 380 eiers lê.

Kruipende sprinkane word gewoonlik vanaf die oggendure tot laatmiddag beheer. Volwasse sprinkane word in die nag beheer sodra hul gaan sit het. –Charné Viljoen-Van Gend, Die Doorns-plaas, Swaershoek, Somerset-Oos

Lees hier oor sprinkaanswerms in die Noord-Kaap: