Duisende steggies van die spekboom (Portulacaria afra) word die afgelope drie jaar op oorbeweide plase in die Vanwyksdorp-omgewing hervestig. Die doel van hierdie projek, bekend as die Jobs4Carbon-projek (J4C), is om ekologiese integriteit te bevorder en terselfdertyd werksgeleenthede te skep.

Die Gourits Groep-biosfeerreservaat (GCBR) het in 2015 met die hervestiging van spekbome in die Vanwyksdorp-omgewing in die Klein Karoo begin. Dit behels dat gemeenskapslede van Vanwyksdorp spekboomsteggies oes en op plase plant wat deur oorbeweiding van natuurlike spekboomryke veld en die kleinwild wat daarmee vereenselwig word, gestroop is.

Tot dusver is altesaam 170 000 steggies op 333ha geplant op veld wat verskeie grondeienaars vir tien jaar tot die beskikking van die projek gestel het.

Natuurlike habitat

Hoewel die spekboom goed aangepas is vir oorlewing in die Klein Karoo, is dit belangrik om dit te plant waar dit die beste kans op oorlewing het, naamlik waar dit voorheen natuurlik voorgekom het.

Jan Vlok, ’n omgewingsadviseur van Oudtshoorn, het vasgestel waar spekboomryke veld voorheen voorgekom het. Waar die spekboom totaal afwesig geraak het, gee die teenwoordigheid van boomsoorte soos ghwarrie (Euclea undulata) en pruimboom (Pappea capensis) ’n aanduiding dat die spekboom wel daar voorgekom het.

Die spekboomryke plantegroei kan grootskaalse beweiding deur mega-herbivore soos olifante, swartrenosters en koedoes weerstaan, maar volgehoue oorbeweiding deur kleinvee vernietig dit so erg dat die spekboom nie weer vanself herstel nadat dit afgevreet is nie.

Faktore wat groei beïnvloed

Jan sê die spekboom is van verskeie faktore afhanklik vir groei. Die Vanwyksdorp-gebied het normaalweg ’n gemiddelde reënval van 200 tot 250mm, maar die afgelope twee jaar het gemiddeld slegs 50 tot 85mm geval.

“Selfs met die ondergemiddelde reënval die afgelope twee jaar, het sowat 60% van die nuut-aangeplante steggies oorleef, wat binne ons beoogde doelwit van 50% is,” sê Jan. Nietemin sal ten minste tien jaar van gemiddelde en bogemiddelde reën nodig wees vir noemenswaardige herstel van die veld.

Die stamgroei wissel in die eerste vyf jaar. Die steggies gebruik hul energie om in die eerste aantal jare wortelgroei en ondergrondse stamme te ontwikkel. Sodra die plante goed gevestig het, kan stam-ontwikkeling ná goeie somerreën versnel. Die spekboom reageer nie juis op winterreën nie, veral nie as die dagtemperature onder 20°C is nie.

Soos wat die kroonbedekking van ’n spekboom herstel, word ál meer humus onder die boom beskikbaar gestel, wat tot beter waterindringing lei. Namate die algemene grondtoestand verbeter, vergemaklik dit die natuurlike vestiging van ander plantsoorte waaruit natuurlike spekboomryke plantegroei bestaan.

In die Oos-Kaap, waar spekboom op wildplase hervestig is, is die jong spekboom deur koedoes afgevreet. “Dit beperk die bogrondse groei, maar dit help terselfdertyd dat die spekboom ’n sterk basis en wortelstelsel ontwikkel. Mettertyd sal die spekbome wel ’n geleentheid kry om op te skiet.”

Uitstaande kenmerke van die spekboom

Volgens Jan is die spekboom, ’n immergroen struik of klein boom, verbasend weerstandig teen droogte, hitte en die meeste siektes. Kleiner bome van minder as ’n meter hoog is egter gevoelig vir swartryp. Dit aard nie in brak grond nie en die grond, hetsy sanderig of kleierig, moet redelik goed gedreineer wees.

Spekboomryke plantegroei is uitstekende habitat vir wild, want dit is ryk aan mangaan, kobalt, magnesium en mikro-elemente soos jodium en selenium. Dit verskaf skuiling en kos in die winter wanneer grasse en kleiner bossies nie meer eetbaar is nie.

“Waar digte stande spekboom voorkom, kan dit vuur keer, wat dit ’n goeie heiningplant maak. Onder uiterste omstandighede sal die blare en stamme wegskroei, maar groot spekbome spruit weer uit ná ’n brand,” sê Jan. Wortelgroei in die eerste paar jaar help om gronderosie ná swaar reëns op dor-gebakte grond te verminder.

Koolstofkrediete

Die spekboom neem koolsuurgas uit die atmosfeer op en berg koolstof in die blare, stamme en wortels, asook in die humus onder die boom. Na raming kan ’n gemiddelde stand van spekbome tot vier ton koolstof per jaar per hektaar vasvang.

’n Meganisme om die restourasieproses aan te help, is om koolstofkrediete aan maatskappye of individue te verkoop wat hul koolstofvoetspoor wil verminder. Dit is dus teoreties moontlik vir grondeienaars om hul restourasiekoste te dek en terselfdertyd ook ’n inkomste te verdien as hulle op groot skaal restoureer.

In 2016 is die eerste 450 ton koolstof aan die Universiteit van Cambridge verkoop, wat daarmee die koolstofvoetspoor van hul jaarlikse simposium geneutraliseer het.

Internasionale ondersteuning

Die projek is deur die GCBR geïnisieer en die eerste fase is deur die Departement van Omgewingsake en die Europese Unie (EU) befonds.

Wendy Crane, wat verantwoordelik is vir die GCBR se algemene programontwikkeling, het vroeër vanjaar Nederlandse befondsing vir ’n jaar deur die DOB-familietrust in Nederland bekom, waarmee die projek nou befonds word. Na verwagting sal die DOB-befondsing verleng word.

Dr Steve du Toit, projekbestuurder van J4C, meen daar is duisende hektaar verwaarloosde grond waar soortgelyke restourasieprojekte van groot sosio-ekonomiese en ekologiese waarde met die oog op voedselsekerheid aangepak kan word.

Waarde vir die gemeenskap

Vanwyksdorp is sowat 42km van Ladismith af en het nagenoeg 550 inwoners. Voor die aanvang van die J4C-projek was ’n groot deel van die gemeenskap werkloos en die meeste van hulle afhanklik van sosiaal-maatskaplike toelaes.

 André Britz, aktiwiteitsbestuurder wat in beheer van die J4C-projek se logistieke reëlings is, sê die eerste J4C-projek van 2015-2016 het werk aan 60 individue verskaf, van wie die meeste vroue jonger as 35 is. Die spanne het steggies van 50cm geoes van spekbome op die grond waar dit hervestig is, dit in gate van 20cm diep geplant en met een liter water benat.

In die huidige fase het J4C twee spanne van twaalf mense elk. Hulle het reeds gate vir spekboomaanplanting gegrawe. “Ons wag vir noemenswaardige reën in die Klein Karoo voordat met steggies maak en plant begin word,” sê hy.

Die spanlede is in administrasie, gesondheid en veiligheid, noodhulp, arbeidswetgewing en persoonlike finansiële bestuur opgelei. Hulle het ook opleiding in brandbestryding en die hantering van slange gekry. Hulle word geleer om groentetuine aan te lê, voedsel te bewaar en om energiebesparende wonderbags te maak.

#spekkies

#spekkies is ’n uitvloeisel van die J4C-projek en is geskep om ’n aanvullende inkomste vir J4C-werkers te skep.

Wanneer spekboomsteggies van volwasse bome geoes word, word die onderste stammetjies van die steggies gestroop en in bio-afbreekbare potjies, bekend as “compots”, geplant. Die steggies kan met die potjies en al in die grond geplant word.

“Die doel met die projek is om ’n ‘groen bedryf’ met spekboom in die dorp te vestig en so uiteindelik voltydse werksgeleenthede te skep,” sê Luami Zondagh, wat die #spekkies-projek se administrasie, verkope en bemarking hanteer. Die kwekery bied ook spekboomplante van verskillende groottes teen groothandel-pryse. – Tisha Steyn

Vir meer inligting of om van die plante te bekom, kontak Luami Zondagh by 083 998 1230, luamizondagh@gmail.com of info@hashtagspekkies.com.

Klik hier vir nog landbounuus.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY