Estimated reading time: 2 minutes
Januarie 2022 is deur oorvloedige reën in groot dele van die land gekenmerk. Alhoewel daar in sommige areas skade voorgekom het met kitsvloede en somer aanplantings wat versuip het, het dit nie regtig in die kommoditeitspryse weerspieël nie.
Op die ekonomiese front het die rand voortdurend gedurende Januarie versterk teen die dollar en euro wat teen die einde van die maand teen onderskeidelik R15,36 en R17,27 verhandel het. Die prima-uitleenkoers is egter verder verhoog tot 7,5% weens die redelike hoë inflasie koers van 5,9% wat in Desember verlede jaar aangeteken is.
Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices
Die prys van geelmielies het gedurende die eerste helfte van Januarie effens gedaal, voor dit weer begin styg het en aan die einde van die maand teen R3 865/ton gesluit het. Wat natuurlike vesel betref was daar nie enige bokhaar veilings in Januarie nie, maar die markaanduider het met die laaste veiling in Desember sterk op R403,17/kg gesluit. Die aanduiderprys van wol het tydens die laaste veiling in Januarie effens tot R169,74/kg terug gesak, maar dit was grootliks as gevolg van minder langwol wat deel van die aanbod uitgemaak het.
Op die rooivleis front het ons gesien dat die karkasprys van skaap, bees en varkvleis gedurende Januarie gedaal het. Dit is egter ʼn normale verskynsel met die koopkrag, en dus vraag wat swakker in Januarie is. Die aankooppryse van A2-lam- en beeskarkasse was onderskeidelik R84,67/kg en R54,08/kg einde Januarie terwyl die prys van klas O (80 tot 90 kg) varkkarkasse R26,30/kg was. Die pryse van speenkalwers en speenlammers het egter effens gedurende die eerste maand van die jaar gestyg, met die goeie nuus dat hierdie styging moontlik in Februarie sal voortduur voor die pryse van speendiere in Maart onder druk gaan begin kom met hoër aanbodvlakke. – Prof Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.
Vir meer inligting kontak vir Frikkie Maré by MareFA@ufs.ac.za.