Estimated reading time: 3 minutes
Volgens ‘n onlangse verklaring van die Rooivleisprodusente-organisasie, het speenkalfpryse jaar-op-jaar met meer as 10% gedaal. Tans is die koopkrag van die verbruiker op ‘n baie lae vlak, die ekonomiese groeikoers word tans geraam op 0,2%, en die inflasiesyfers is die hoogste in jare. Beurtkrag plaas ook druk op die rooivleiswaardeketting se koueketting, terwyl voerpryse meer as 30% hoër is as ‘n jaar gelede.
‘n Verdere rede hiervoor kan die invoere van speenkalwers van Suid-Afrika se buurlande, naamlik Namibië en Botswana, wees. Hierdie invoere geskied binne die reëls van die Doeane-unie, ‘n ooreenkoms binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Wêreldhandelsooreenkoms.
Toepassing van reëls is belangrik
“Alhoewel die RPO dié invoere nie kan stop nie, kan ons wel toesien dat die invoere volgens die reëls geskied. Jaarliks word ongeveer 200 000 speenkalwers ingevoer vanaf Botswana wat 6,7% van plaaslike behoefte verteenwoordig en vanaf Namibië word ongeveer 140 000 speenkalwers ingevoer wat 4,6% van plaaslike behoefte verteenwoordig.
“Indien gekyk word na die invoere van speenkalwers vanaf buurlande oor die laaste twee maande, was dit onder die gemiddelde syfer van wat waargeneem word. Soos reeds genoem, geskied hierdie invoere ook volgens die reëls van die Wêreld Dieregesondheidsorganisasie (WOAH) en daar word toegesien dat hierdie reëls dienooreenkomstig toegepas word,” lui die verklaring.
Die RPO, in samewerking met Agri Inspec, sien toe dat dit wel so toegepas word. Wat bek-en-klouseer uitbrekings in Suid-Afrika aanbetref, is al die uitbrekings wat ervaar was, verwant aan die Krugerwildtuin-virus met geen bek-en-klouseer-uitbreking in Suid-Afrika wat verwant is aan invoere van speenkalwers afkomstig van buurlande, nie.
Kry die weeklikse rooivleispryse hier.
Volgens prof Frikkie Maré, departementshoof Landbouekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, is pryse tans onder druk weens faktore soos voer, beurtkrag, swak vraag, ens. Dit is reeds weens die feit dat die binnelandse prys klaar onder druk is, dat krale nie die gewone hoeveelheid kalwers invoer nie.
Hy meen die vraag na rooivleis is tans swak en die kostes in die ketting is hoog, wat maak dat die prys nie werklik kan daal nie. Dit maak weer dat die vraag na kalwers relatief swak is. “Ons is ook nou in speentyd, so ons het ‘n groot binnelandse aanbod van kalwers en teen die huidige lae pryse, met oorgenoeg kalwers in die mark, hoef krale nie in die buiteland te soek na kalwers nie,” sê Maré.
Uitvoere moet groei
Dit is tans baie duidelik dat die plaaslike koopkrag nie voldoende is om produsentepryse te stut nie, sê die RPO. Die Visie 2030 wat die RPO in samewerking met die ander rolspelers in die rooivleisbedryf in plek geplaas het, is om uitvoere van beesvleis te groei van 5 tot 20% en skaap vanaf 1 na 6 %.
“Dit is duidelik die regte beleid ten einde produsentepryse in die toekoms te lig, aangesien Suid-Afrika ‘n uiters homogene produk het in terme van uitvoere asook die feit dat Suid-Afrika 30% onder die wêreldnormprys is.” – Elmarie Helberg, Plaas Media