Het jy al vandag jou televisie of radio aangeskakel? Die kans is goed dat jy ten minste een advertensie gehoor het wat beloof dat jy jou drome kan bewaarheid met ’n persoonlike lening. Jy sou ook ’n ander advertensie gehoor het wat aankondig dat die meeste verbruikers in Suid-Afrika swaar trek onder skuld en dat verbruikers moet aansoek doen vir skuldberading om hulle teen hul krediteure te beskerm. Hoekom leef ons in ’n wêreld wat sulke kontrasterende boodskappe uitstuur?

Albert Einstein het gesê: “Saamgestelde rente is die agste wonder van die wêreld. Hy wat dit verstaan, verdien dit. Hy wat dit nie verstaan nie, betaal dit.” Daar is ’n rede hoekom banke bereid is om die risiko te neem om geld aan ’n verbruiker te leen – hulle sal immers nooit ’n lening aan iemand gee indien hulle nie doodseker is hulle sal hul pond vleis daaruit maak nie.

En wanneer ’n mens nie meer kan betaal nie, kom haal hulle jou persoonlike bates om op ’n veiling te verkoop. Moenie vergeet dat hulle die rente en kapitaal wat jy reeds terugbetaal het hou nie, en sou die opbrengste op die veiling nie die uitstaande saldo dek nie, kan hulle verdere stappe teen jou doen.

’n Dolle gejaag

Dit is algemene kennis dat daar nog nooit in enige ander tyd in die geskiedenis van die mens ’n tyd was waar mense so vreeslik na meer besittings gejaag het nie. Die probleem is dat sodra ’n mens voel jy is tevrede, kom ’n nuwe model uit en dan begin die dolle gejaag van voor af.

Moet nou nie verkeerd verstaan nie – ek hou net soveel daarvan om in ’n blink nuwe bakkie te klim, maar hoe ’n mens hierdie bates koop, moet verander. Ek wil graag my mening verduidelik, maar ek weet die meeste mense skakel onmiddellik af as ’n mens in diepte oor finansies begin praat. Daarom wil ek net kortliks hieroor praat, waarna elkeen self kan besluit of hy die verandering wil maak of nie.

’n Tipiese voorbeeld

Ek wil die volgende as voorbeeld gebruik: Veronderstel ’n produsent koop ’n nuwe vragmotor om sy beeste na die abattoir te neem. Die vragmotor kos R1 miljoen en hy gaan dit oor vier jaar afbetaal. Aangesien die banke meen hy is ’n lae risiko, is die bank bereid om die kapitaal aan die produsent te leen teen die prima rentekoers minus 2% (dus 8,5%).

Die produsent het wel dadelik gebruik van die vragmotor, maar die paaiement gaan maandeliks R24 648 beloop en die rente oor vier jaar R183 118.

Indien die bank voel die produsent verteenwoordig ’n hoër risiko, sal hulle ’n hoër rentekoers vra, wat beteken die rente gaan aansienlik meer word. ’n Verhoging van 1% in die rentekoers verteenwoordig R22 792 meer rente oor die termyn van die lening en ’n verdere 1% verhoging verteenwoordig nog R23 052. ’n Mens kan dus gewaarborg wees dat, tensy jy ’n baie sterk balansstaat het, jy as ’n medium tot hoër risiko geag gaan word, wat tot ’n hoër rentekoers sal lei.

Maar indien die produsent die R24 648 vir vier jaar sou belê teen ’n groeikoers van 7% per jaar, sal hy R1 368 735 beskikbaar hê om ’n nuwe vragmotor te koop. Deur te spaar, sal die produsent ná 37 maande R1 020 505 beskikbaar hê om die vragmotor te koop, as hy nie vir die volle termyn wou wag nie.

Uitgestelde gebruik

En dit is nie so vergesog om vir ’n paar jaar die koop van ’n bate uit te stel nie, aangesien die huidige toerusting teen ’n billike koste in stand gehou kan word. Dit sal wel verg dat ’n mens jou besigheid en die groei daarvan haarfyn moet beplan.

Om in die siklus te kom, gaan die moeilikste wees, aangesien ’n mens van ’n posisie van dadelike gebruik na uitgestelde gebruik gaan beweeg. Met tyd, en soos wat jou huidige skuld afbetaal word, gaan jy vind dat jy meer kontantvloei beskikbaar het. Hierdie bykomende kontantvloei kan ook in jou spaarstrategie gebruik word, wat die krag van jou saamgestelde rente gaan versterk.

Veronderstel die produsent het sy vragmotor gekoop en hy is nou in die gewoonte om R24 600 per maand te spaar, teen 7% groei per jaar, gaan sy beleggingswaarde soos volg wees:

Tabel 1: Die mag van saamgestelde rente.

Jaar Eie kapitaal Rente verdien – hierdie jaar Rente verdien – totaal Totale saldo van belegging
1 R295 200 R11 435 R11 435 R306 635
2 R590 400 R33 602 R45 038 R635 438
3 R885 600 R57 371 R102 410 R988 010
4 R1 180 800 R82 859 R185 269 R1 366 069
5 R1 476 000 R110 189 R295 458 R1 771 458
6 R1 771 200 R139 494 R434 953 R2 206 153
7 R2 066 400 R170 918 R605 872 R2 672 272
8 R2 361 600 R204 614 R810 487 R3 172 087
9 R2 656 800 R240 746 R1 051 233 R3 708 033
10 R2 952 000 R279 490 R1 330 723 R4 282 723

 

Verdien meer rente

In Tabel 1 kan ’n mens sien dat die rente wat jaarliks verdien word elke jaar aansienlik groei. Die rede is dat jy nou nie net rente verdien op die huidige jaar se kapitaal wat bygedra word nie, maar ook op die vorige jaar se kapitaal en die rente wat jy in die vorige jaar verdien het.

Dink dus oor die volgende voor jy volgende keer ’n bate op skuld koop:

  • Het ek dit regtig nou nodig?
  • Kan die huidige bate nog ’n paar jaar met goeie onderhoud werk?
  • Wat is die koste van die rente oor die termyn van die lening?
  • Wat is die opbrengs op ’n belegging oor die termyn van ’n moontlike lening?

’n Laaste punt wat ek wil maak, sou iemand redeneer dat die rente op ’n lening aftrekbaar vir belasting is: Elke rand wat ’n mens aan die bank in rente betaal, is ’n volle rand wat jy verloor en wat jy nooit weer gaan sien nie. Van elke rand se rente wat jy verdien, sal jy egter net 28 sent moet weggee, en daardie 28 sent kan ’n rekenmeester wat sy sout werd is, maklik verminder of voor beplan. – Frans van Eden

Frans van Eden is ’n rekenmeester met ’n passie vir besigheid. Vir enige navrae en raad, kontak hom by epos fvaneden@ymail.com.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY