Saturday, September 30, 2023

Solderskraal Jerseys skitter by Overberg-kuddekompetisie

Estimated reading time: 3 minutes

Die Overberg Jersey-klub se kuddekompetisie, een van die grootstes van sy soort in die wêreld, het onlangs plaasgevind. Dit is ’n jaarlikse kompetisie, maar weens Covid-19 het dit nie die afgelope twee jaar plaasgevind nie. Verskeie kuddes van Greyton, Bredasdorp, Caledon, Swellendam, en Buffeljagsrivier het aan vanjaar se kompetisie deelgeneem.

Solderskraal Jerseys van die Swellendam-omgewing is as algehele wenner van die kompetisie aangewys. Daarbenewens het hulle ook die kategorieë van bulnageslag-groep, eerste laktasie individuele koei, eerste laktasie-groep, tweede laktasie individuele koei, tweede laktasie-groep en moeder-nageslag-groep gewen.

Die kompetisie was styf aangesien Solderskraal, met sowat 260 koeie in melk, die tweede kleinste deelnemer was. Sommige ander kuddes wat deelgeneem het bestaan uit 1 500 koeie. Anandi Brooks van Solderskraal sê dat hulle sukses aan die gebruik van Alta Genetics se paringsprogram, waarby hulle in 2014 aangesluit het, toegeskryf kan word.

Van links is Henk Schuurman van SSK Veevoere saam met en Anandi Brooks van Solderskraal Jerseys.

BLUP-waardes gee die deurslag

Anandi vertel dat haar man, Altus, en sy pa, SW, saam boer. Altus en Anandi se seuns is die sesde geslag wat op die plaas groot word.

Altus is sedert 2000 op die plaas en die vyfde geslag wat op Solderskraal boer. Volledige rekords wat sedert 1995 op datum gehou is, het handig te pas gekom om die Solderskraal Jersey-stoet in 2007 te begin.

“Ek het onder die wanpersepsie verkeer dat ’n mens geregistreerde beeste met name koop en nie self teel nie. Jy sien altyd beeste in die landboutydskrifte en raak verlief op die mooi diere. Ek sou nooit kon droom dat ek eendag ook sulke gehalte beeste sou teel nie,” onthou Altus.

Lees meer oor wat beginner melkboere moet weet.

By teling, sê hy, is dit altyd belangrik om te onthou dat jy reeds 50% van die genetika het. Die beste bulsemen, hoofsaaklik uit Amerika, word gebruik om sy kudde geneties te verbeter. Anandi se B.Agric.-graad en ondervinding as bulsemen-agent kom hier handig te pas. Altus se teelbeleid is ’n kombinasie van goeie bouvorm en uiers, asook melk en positiewe vaste stowwe. Elke koei se BLUP-waardes bepaal met watter bul sy geteel moet word om die nageslag te verbeter.

In ’n tyd waar talle melkboere die bedryf verlaat, bly dié boer positief oor sy melkboerdery. “As jy die heeltyd gaan rondspring tussen boerderyvertakkings, gaan jy nie daar wees om die kruin te geniet nie. As ek nou moet ophou melk, verloor ek my puik genetika en sal dit bykans onmoontlik wees om ooit weer te begin,” sê Altus. – Saamgestel deur Renate Louw, AgriOrbit

Lees meer oor die lewensvatbaarheid van die Suid-Afrikaanse melkbedryf.

  • jerseys
    Die eerste laktasie-groep wenners.
  • jerseys
    Die tweede laktasie-groep wenners.
  • jerseys
    Wenners van die bul-nageslag-groep. Alta Cajun is die bul wie se semen gebruik is.
  • jerseys
    Die eerste laktasie individuele koei-wenner was 2057.