Monday, December 8, 2025

Sojaboondag lok reuse skare

Estimated reading time: 6 minutes

Ongeveer 700 belangstellendes het die uitverkoopte Danie Bester Sojaboondag naby Balfour, Mpumalanga, verlede week bygewoon. Dié sojaboondag vind elke tweede jaar plaas.

Drie uiteenlopende plaaslike sojaprodusente, Danie Bester, Tyson Zunckel, DJ van der Linde, asook die Amerikaanse sojaboonprodusent Greg McClure, het hul kennis tydens dié dag gedeel.

CJ van der Linde en Tyson Zunckel was twee van die plaaslike sojaboonprodusente wat hul kennis met die gehoor gedeel het.

Kultivar is koning

Danie Bester, ’n Balfour-produsent van Mpumalanga, sê daar’s baie veranderlikes waaroor produsente nie beheer het nie, maar iets waaroor hulle wél beheer het, is kultivar. Dít is ook een van die grootste bepalers van ’n oes se sukses.

Die volgende belangrike bepaler van sukses, is die produksieplan. “Stel voor die tyd jou plan op en laat jou hele span kundiges (agronoom, saadspesialis, ens.) saam met jou sit wanneer dit opgestel word.” Op dié manier kan die blaam vir ’n misoes nie heen en weer geskuif word nie.

Ingeligte besluite kan egter net gemaak word deur kennis, wat deur proewe verkry is. Deur proewe te plant, kan Danie-hulle bepaal watter kultivar hulle waar moet plant en die plantstand word óók deur proewe bepaal. “Die reël is dat ’n mens yler moet plant in ’n nat jaar en digter moet plant in ’n droë jaar.”

Pitgewig is nog ’n belangrike kwessie, omdat ’n swaarder pit tot ’n swaarder beursie sal lei, het Bester gesê. En hoewel Amerikaners met indrukwekkende tegnologie kan spog, het Suid-Afrikaanse produsente ’n voorsprong danksy die Afrika-son. Die son se strale val só op die suidpunt van Afrika, dat dit tot groter en swaarder pitte lei.

Produsente moet verder op die sojabone se voeding fokus – kalk, kalium, fosfaat, magnesium, sink, en yster is alles belangrik om ’n sojaboon optimaal te laat groei. Daarom is dit krities om gereeld blaarontledings te doen en enige voedingstekorte so spoedig moontlik aan te spreek.

Só lyk die sojaboon-besluitnemingsdriehoek wat Danie Bester gebruik. Die driehoek werk van onder na bo, links na regs en die stappe bou op mekaar.

Bou beter plante

Greg McClure, ’n Amerikaanse sojaboonprodusent van Illinois, het tydens ’n virtuele praatjie gesê dit is belangrik dat produsente daarop ingestel moet wees om die sterkste moontlike plant te bou. “Hoe sterker die plant is, hoe meer sojabone kan dit produseer, en dit sal ook stres beter kan hanteer.”

Die sake waaraan produsente moet aandag skenk om sterker plante te bou is:

  • Planthormone.
  • Wortelstruktuur.
  • Stamdeursnit en laterale sinkronisasie.
  • Blomkrag.
  • Voedingstofabsorpsie.

“Die twee planthormone, ouksien en sitokinien, is veral belangrik,” sê McClure. “In kombinasie het dié hormone ’n positiewe uitwerking op plantstruktuur.” Wortelstruktuur, wat veral deur sitokinien beïnvloed word, is belangrik omdat diep wortels sorg dat die wortelhare by dieperliggende, koeler gronde kan uitkom. Dáár kan meer voordelige mikrobiese aktiwiteite plaasvind, en laat-seisoen water en kalium makliker geabsorbeer word. “Terwyl laat somerreën baie belangrik is, kan die wortelstelsel dikwels help om oesverliese tot ’n minimum te beperk as dit toegang tot minimale vog het,” verduidelik McClure.

Stamdeursnit is weer op sy beurt belangrik omdat daar ’n direkte korrelasie tussen dié deursnit en oespotensiaal is. “Hoe groter die stam se dikte, hoe hoër is die plant se vaskulêre stelsel, wat krities is vir die vervoer van water, voeding, hormone, en suiker.”

Sojas + bewaringsboerdery = ’n wenresep

Tyson Zunckel boer saam met sy pa en broer op Bergville in KwaZulu-Natal en Warden in die Vrystaat. Op beide plase word geenbewerkingsboerdery toegepas.

“Ons fokus daarop om bewaringslandbou toe te pas en steeds winsgewend te kan boer,” sê Zunckel en erken dat kultivarkeuse ook’n deurslaggewende rol in hulle boerdery gespeel het.

Toe hulle aanvanklik sojabone op Warden begin plant het, het hulle dieselfde kultivars as die res van die kontrei geplant. Dit het egter glad nie met hulle grond en boerderyfilosofie gewerk nie, en gevolglik het hulle opbrengsprobleme gehad. Daarom het hulle met kultivarproewe begin om onder meer te bepaal of die sojabone wat hulle op Bergville plant, nie ’n beter opbrengs kon lewer nie. Dié proewe het vinnig uitgelig watter kultivars beter op Warden sou aard.  

So het hulle geleer dat kort groeiers beter op hul Warden-grond werk, terwyl kultivars wat oor ’n medium- tot langtermyn groei, beter op Bergville aard.

Die Zunckels produseer reeds vir meer as drie dekades vir Corteva (voormalig Pannar) saad op hul Bergville grond en hoewel dié gebied met goeie hitte-eenhede spog, sukkel hulle dikwels met sojabone wat te hoog groei en dan omval wanneer die bone begin dra. Daarom probeer hulle om die bone so laag as moontlik te laat groei.

“Die een stukkie raad wat ek vir produsente kan gee, is om nooit die waarde van ’n produsent of agronoom se voete in die grond te onderskat nie,” sê Zunckel. Só  word topgronde vol mikrobiese lewe, geskep.

Die Zunckles se grondgesondheid is oor die jare al só opgebou dat hulle geen kunsmis gebruik as hulle sojabone plant nie en hulle reeds hul kunsmisrekening vir mielies gehalveer het.

Geenbewerking nie oral die antwoord

DJ van der Linde, ’n sesde geslag-produsent van Vierfontein in die Noordwes-Vrystaat, stem saam dat grondvoorbereiding ’n kritiese stap tot sojaboonsukses is. Hy deel egter nie Zunckel se geenbewerking-passie nie. In sy ervaring kry ’n mens in sý kontrei nie goeie sojaboonopbrengste sonder om die grond te breek (‘rip’) nie. “Ons sandgronde kompakteer baie vinnig,” sê Van der Linde en verduidelik dat ’n mens daarom nie goeie wortelgroei kry as die grond nie gebreek word nie. “Dieper is beter by ons en daarom probeer ons die grond so diep as moontlik losmaak.” Die rollers agterop die tandploeg (‘ripper’) is egter baie belangrik om weer die mieliestoppels terug te druk. Dié stoppels help dat die wind nie al sy vrugbare bogrond wegwaai nie.

Oor die algemeen sê Van der Linde dat ’n goeie bestuursprogram ook tydig toegepas moet word, omdat dít opsigself ’n groot invloed op sukses kan hê. Daarom stuur hulle beeste die lande in sodra hulle klaar gestroop het. Dan volg die stoppelbewerking (grondlosmaak), en daarna word die grond skoongemaak ter voorbereiding van die aanplant van die volgende oes.

Op Van der Linde se grond is ’n langer groeier weer die beste opsie, maar daar is ander kultivars wat steeds deurlopend beproef word om te bepaal hoe dit in daardie omstandighede plaas. Van der Linde se raad aan ander produsente, is om hul opbrengskaarte deeglik te bestudeer omdat dit die enigste manier is om foute op te tel en te herstel. – Susan Marais, Plaas Media

Van links is Danie Bester, hooforganiseerder, en Susan Marais, Plaas Media-joernalis. (Foto: Marieke Snyman)

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...

Oilseeds Focus December 2025 

The December issue of Oilseeds Focus explores South Africa’s fertiliser use, smart cultivar choices for profitable...

Stockfarm December hits the shelves

The December 2025 edition of Stockfarm shines the spotlight on the resilience and adaptability...

Trust and muffins lead the way

Estimated reading time: 4 minutes In any business, communicating in silos is the main cause...