Kleinveeboere moet seker maak hulle ent hul diere korrek in teen Slenkdalkoors om die doeltreffendheid van die entstof te verseker, waarsku dr George de Kock, voorsitter van Cape Wools Suid-Afrika.

Die Slenkdalkoors-prentjie raak al hoe duideliker danksy nuwe inligting wat voortdurend deur die Eco Health Alliance navorsers, ’n internasionale organisasie vir omgewingsgesondheid oor Slenkdalkoors, aan die bedryf beskikbaar gestel word.

Volgens navorsing wat twee jaar gelede deur wetenskaplikes van Eco Health Alliance in die Vrystaat uitgevoer is, was die Smithburn-entstof wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig is, effektief – mits die regte prosedures gevolg is.

Hantering van entstof

Navorsing het getoon dat die entstof nie doeltreffend is wanneer die koueketting van die entstof verbreek is, of indien die entstof te lank nadat dit aangemaak is, gebruik is nie. Daarom beveel ons aan dat boere moet let op die hantering van die entstof om hul diere korrek in te ent. Daar is geen rede om OBP-entstof se effektiwiteit tans te bevraagteken nie.

Die goeie nuus is ook dat daar nou entstof in die handel beskikbaar is, en volgens OBP is produksie in die stadium ook nie ’n probleem nie.

Dit is belangrik dat die entstof ten alle tye by ’n yskastemperatuur van tussen 4°C en 10°C gehou word, en dit geld ook vir die proses van vervoer vanaf OBP na die handelaars, vervoer na die plaas en die berging daarvan. Die entstof moet so gou moontlik toegedien word omdat die komponente daarin binne 24 uur afbreek.

Die ratwerk van besmetting

Na die goeie reënval tot dusver, moet boere in die Vrystaat, noord-oostelike dele van die Noord-Kaap en die noorde van die Oos-Kaap hul kleinvee nóú teen Slenkdalkoors inent. Volgens navorsing deur Eco Health Alliance, kan die Noord-Kaap en Vrystaat moontlik die eerste uitbreking van die siekte verwag vanweë die feit dat die gebiede oor die regte grondtipes, plantegroei en panne beskik vir die oorlewing van die virus in Aedes-muskieteiers.

Na ’n aanvanklike uitbreking sal ander opportunistiese muskietspesies dan die siekte direk van besmette na vatbare diere versprei, wat ’n massiewe uitbreking kan bewerkstellig wat in gunstige klimaatstoestande na omliggende gebiede soos die Wes-Kaap kan versprei. Die kanse is goed dat daar reeds na verlede jaar se nat somer in dele van die Vrystaat en Noord-Kaap ’n toename van die Aedes-muskietpopulasie sal wees.

Die Slenkdalkoorsvirus oorleef in die Aedes-eiers en daarom broei muskiete uit wat reeds met die virus besmet is. Indien so ’n besmette muskiet dan ’n vatbare skaap besmet, dien die skaap as ’n bron van virusse om honderde ander Aedes-wyfiemuskiete te besmet, wat op hul beurt die virus aan hul nageslag oordra. So ’n besmette skaap kan egter ook deur middel van muskiete ander skape aansteek, wat op hul beurt die sirkulerende virusbevolking in stand hou en vergroot. Op hierdie wyse raak die aantal Aedes-draermuskiete mettertyd groot genoeg om ’n uitbreking te bewerkstellig, gewoonlik eers ná ’n paar agtereenvolgende nat jare. Ons verwys daarna as die vermenigvuldigende-effek.

Slegs twee faktore is nodig vir ’n Slenkdalkoors-epidemie of uitbreking. Die een is ’n groot muskietbevolking (vektorpopulasie), en die ander is ’n groot vatbare skaap- of beeskudde (gasheer), wat kan dien as virus-vermenigvuldigers (multiplying host population). ’n Kombinasie van hierdie twee is uit die aard van die saak dodelik.

Die enigste praktiese manier om hierdie vermenigvuldigende spiraal in ’n vatbare skaapkudde te voorkom, is met inenting. Indien die skaap- en beeskuddes in die semi-endemiese gebiede van die Vrystaat en Noord-Kaap (waar die Aedes-draermuskiete voorkom) voldoende immuniteit het as gevolg van effektiewe inenting, sal die potensiaal van die virus om deur middel van die gasheer onder die muskietbevolking te versprei, sodanig verminder dat grootskaalse uitbrekings selfs iets van die verlede kan wees.

Belangrike stappe om te volg

  • Alle nie-dragtige ooie in die voorafgaande gebiede moet nou ingeënt word.
  • Ooie wat nie voorheen ingeënt is nie, moet twee maal ingeënt word vir maksimum beskerming.
  • Ooilammers moet met speen die eerste lewendige inenting kry, gevolg deur ’n opvolg-enting twee maande later – ook met die lewendige entstof.

Skape behoort hierna lewenslank teen die siekte beskerm te wees, hoewel ’n skraag- of ‘booster’- inenting later in die ooi se lewe hul immuniteit sal verhoog en ook beter beskerming tydens ’n uitbreking sal bied.

Dit is belangrik om nié Slenkdalkoors-lewendige entstof saam met bloutong of ander lewendige entstowwe toe te dien nie. Slenkdalkoors-inenting behoort deel te word van ooi-bestuur in die kwesbare streke. Terwyl die lammers ingebring word vir hul eerste hantering, byvoorbeeld wanneer hul stertjies afgesit word, moet die ooie hul skraagdosis kry.

Die koste per Slenkdalkoors-inenting werk ongeveer R9,09 uit, of R18,18 per skaap, en ongeveer R27,27 indien ’n skraag-inenting gedoen word. Wanneer ’n ooi sewe jaar oud word, is die koste per ooi per jaar dus minder as R4 per jaar. Teen die huidige vleis- en wolpryse, is dit ’n minimale belegging wat reuse-dividende sal lewer.

Boere wat hul ooie in die verlede eenmalig teen Slenkdalkoors ingeënt het, sal die ooie weer ’n skraagdosis moet gee. Dit is egter belangrik om te onthou dat die lewendige entstof verkieslik nie aan dragtige ooie gegee moet word nie. Ramme moet ook nie vroeër as ses weke voor paring met die entstof ingeënt word nie.

Die kans is baie goed dat daar reeds ’n sirkulerende Slenkdalkoors-virus in sommige skape is en om dus, soos tydens ’n uitbreking, slegs een naald per inenting per skaap te gebruik. Dit klink dalk na ’n beslommernis, maar met ’n gasstofie, ’n ekstra paar hande en twee of meer spuite, is dit haalbaar.

Vir meer inligting, kontak Cape Wools by 041 4844301 of capewool@capewools.co.za. – Dr George de Kock, voorsitter van die Biosekuriteitskomitee by Cape Wools