Slagos-man glo in geharde Santa-staatmakers

Share This Post

Estimated reading time: 6 minutes

Om winsgewend te boer, fokus ons op goeie genetika en omgewingsaangepaste Santa Gertrudis wat jaarliks kalf. Boonop moet elke kalf wat van die veld af kom van topgehalte wees.

Wanneer boerdery eers in jou bloed is, kry jy dit nie sommer weer uit nie. Ellewee van Zyl wou al van kleintyd af boer, maar het nie die voorreg gehad om ’n plaas of diere te erf nie en moes dit self van onder af opbou. As ’n spekulant het hy gereeld mooi beeste gesien en bietjies-bietjies aangekoop. Hy moes egter grond huur of saam met ander om ’n deel boer. Dit was egter bloot die boublokke vir die suksesvolle kommersiële Santa Gertrudis-boerdery waarmee hy vandag spog.

Hy het in 1996 sy eerste plaas tussen Groblershoop en Upington gekoop en sy boerdery met ’n mengelmoes van bont kruisrasse op die been gebring. Hy vertel dat hy ’n verskeidenheid Bonsmara-, Simmentaler- en Brahman-kruiskoeie gehad het wat hy nog uit Gobabis gebring het. Dit was egter sy buurman, Ben van Staden, se mooi Santa Gertrudis-stoet wat sy hart gesteel het, en hy het summier besluit om ook in dié ras te belê.

Twee hande, een rigting

Wanneer jy met die familie gesels, kom jy gou agter dat Ellewee en sy seun, ook Ellewee, ’n gedugte span uitmaak en soos twee hande van een man saamwerk: Waar die een los, vat die ander oor. Elkeen het sy eie ervaringsveld, maar sáám maak hulle planne wat werk.

Die Van Zyl’s het die afgelope drie jaar uitstekend presteer in die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) se slagoskompetisies. In 2024 is een van hul kalwers as die reserwe slagkarkaskampioen enkel aangewys, en in 2025 het een van hul Santas die enkel-kategorie van Samic se 28ste nasionale slagkarkaskompetisie gewen. Vanjaar het hulle tweede plek behaal by die Desert Beef-slagoskompetisie en derde plek by die slagoskompetisie wat in Mei op Upington aangebied is.

Ria en Ellewee jr, hul seun Elia, en Ellewee sr en Hester.

Ellewee jr vertel dat sy pa met die Santas begin boer het omdat die bulle klaar aangepas was by die omgewing en klimaat. Aangesien die omgewing baie warm kan word en dikwels as ’n uitdagende area bekendstaan, was Ellewee sr beïndruk met die gehardheid van die Santa Gertrudis.

“Ons plaas is in ’n gebied wat meestal uit klippe en berge bestaan, en feitlik geen sandvelde het nie. ’n Positiewe eienskap van die Santas is dat hulle graag in die berge wei. Wanneer die kos in die vlakte-kampe tydens die winter en droë seisoene skaars begin raak, het hulle geen probleem om die berge uit te klim nie. Dan is die berge soos ’n spens wat ’n mens kan laat lê totdat dit werklik nodig is,” verduidelik Ellewee jr.

Eienskappe wat tel

Ellewee het tydens die 2025 Desert Beef-karkaskompetisie die kampioenslagos vertoon en later die jaar ook by Samic se nasionale enkelslagos-karkaskompetisie koning gekraai.

Die Santas het hulself deur en deur bewys in hierdie omgewing, veral omdat hulle goeie loopvermoë het en lang afstande agter goeie weiding aan kan aflê. Die droë Noord-Kaap is nie vir hulle ’n probleem nie, want hulle benut die veld uitstekend. Ellewee sr is oortuig dat die Santa Gertrudis oor al die eienskappe beskik wat hy in ’n goeie bees verlang.

“Die Santa lewer ’n goeie karkas met genoeg vleis. Die ras kan met gemak gras in vleis omskep en hoewel die kalwers se geboortegewig oor die algemeen laag is, toon hulle goeie groei op die veld. Die koeie sukkel nie om te kalf nie, en hul moedereienskappe is van die beste. Danksy die kalwers se uitsonderlike groei en voeromsetverhouding vaar die Santas ook uitstekend in voerkrale.”

Ellewee sr voeg ook by dat karkasgradering, bouvorm, vetbedekking, opbrengs en algemene vleisgehalte ’n belangrike rol in die bemarking van die diere speel. Die kalwers, wat direk van die koeie na die voerkraal gaan, groei met gemiddeld 2kg/dag in die voerkraal.

Diversifisering en genetika

Ten einde die plaas optimaal te benut, skroom die Van Zyl’s nie om te diversifiseer nie en het byvoorbeeld ’n stewige trop bokke. Ellewee jr vertel dat die plaas baie rivierlope met bome het wat die bokke van kos voorsien. Volgens hom pas dit mooi in by die beeste se voeding, omdat die twee nie mekaar se kos vreet nie. So word die weiding op die plaas optimaal benut.

Vir pa en seun is boerdery ’n kwessie van vooruitbeplanning en jy moet weet wat jy op die lang duur wil bereik. Hulle doelwitte sluit in om die kudde jaarliks te verbeter, sodat hulle die bes moontlike speenkalf van die veld af kan produseer. Hulle mik ook vir die teel van aangepaste, funksionele en winsgewende diere wat onder Noord-Kaapse toestande kan presteer. “Om winsgewend te boer, fokus ons op goeie genetika en omgewingsaangepaste diere wat jaarliks kalf. Boonop moet elke kalf wat van die veld af kom van topgehalte wees,” meen Ellewee sr.

Ellewee sr en sy vrou, Hester, by die Desert Beef-slagoskompetisie.

Goeie seleksie is noodsaaklik om hierdie doelwitte te bereik. Die eienskappe wat vir hulle die belangrikste is, is diere met ’n goeie bouvorm, wat vleis dra en goeie loopvermoë het. Daarom teel hulle hul eie bulle. Hulle hou ook die meeste verse as vervangingsverse terug. Hierdie verse loop alleen en word eers op die ouderdom van 18 maande by die kudde ingesluit, wanneer hulle ’n ligter en jonger bul kry.

“Die regte genetika sal ons help om by ons doelwitte uit te kom,” gesels Ellewee jr. “Dit help nie ’n mens boer met iets waarvoor jy nie ’n maklike afsetplek het nie. Jy moet met die beste dier vir jou omstandighede boer, wat jy ook maklik kan bemark. Voerkrale wil ’n wins maak en daarom wil hulle ’n dier aanskaf wat goed kan groei en die korrekte bouvorm het. Ons vind al hierdie eienskappe in die Santa Gertrudis.”

Water is ’n uitdaging

Die sukses van ’n beesboerdery lê egter nie net in die ras waarmee jy boer nie. In die Noord-Kaap is water, oftewel die tekort daaraan, en weidingsbestuurspraktyke van die grootste uitdagings. Hoewel die Van Zyl’s goeie water op die plaas het, moet elke druppel sorgvuldig benut word.

“Ons maak eerder gebruik van opgaartenks pleks van damme, aangesien die verdamping dan baie minder is. Ons het ook gatdamme in die rivierlope gemaak om reënwater op te vang, wat verseker dat ons baie opgaarwater het. Ons bestuur ’n goeie herlewingsprogram waarin ons alle Prosopisbome op die plaas uitroei. Dit is van die grootste watergebruikers en bied min waarde vir die plaas. Ons het al geleer dat ons geheel en al afhanklik is van reënwater; daarom moet elke druppel gespaar word,” verduidelik Ellewee sr.

Vir hom en sy seun is die beesboerdery ’n voorreg. Die een groot les wat hulle uit vorige droogtes en ander uitdagings geleer het, is om nie die beer se vel te verkoop voordat jy hom geskiet het nie. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Ellewee van Zyl by 082 492 9345.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutesPlaashekpryse/Farm gate pricesDie jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minuteJohan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutesPathisani Ncube has a wholly...

Ontwikkel ’n skerp oog vir rasstandaarde en die metodiek van kleinveebeoordeling

Estimated reading time: 7 minutesDie vertoning en beoordeling van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutesRabbit meat is not as...