Estimated reading time: 5 minutes
Sowat 60 verteenwoordigers van 19 Wes- en Noord-Kaapse landbouskoue het by die Houw Hoek Hotel naby Botrivier bymekaargekom vir die jaarlikse ledeskouvergadering van die Kaap Die Goeie Hoop Landbougenootskap (Agri-Expo).
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, het gesê landbouskoue speel ’n sleutelrol om landbou- en plaaslike ekonomieë in die platteland aan te wakker. Hierdie skoue is dekades gelede begin om gehalte-landbouprodukte, wat diere insluitend, te beoordeel, erkenning te gee, en gemeenskap te bou.
Die doel van die vergadering is om pitkos vir die skoue te gee en ook aan afgevaardigdes die geleentheid te gee om van mekaar te leer. “Vanjaar se program het op telers, beoordelaars, en beamptes se belangrike rol gefokus en hoe om die basiese dinge by ‘n skou reg te doen vir ’n volhoubare skoubedryf,” het Milford gesê.

Spesiale eretoekennings
Agri-Expo het tydens die veradering eretoekennings aan drie persone oorhandig vir hul lewenslange bydrae tot die skoubedryf en hul verbintenis met Agri-Expo.
Die ontvangers is:
- Dr Dirk Troskie, afgetrede direkteur: Besigheidsbeplanning en strategie, Wes-Kaapse Departement van Landbou. Hy het ’n leidende rol gespeel om die verhouding tussen skoue en die Wes-Kaapse Departement van Landbou oor baie jare te versterk.
- Pierre Vlok, afgetrede bestuurder van wol in die westelike streek van BKB, een van die mees gerespekteerde skoubeoordelaars met ’n groot liefde vir skaap en wol.
- Dries Wiese, ’n voormalige voorsitter van die Dorperskaaptelergenootskap van Suid-Afrika en bekende Dorperteler van Loxton. Hy is ’n bekende beoordelaar met ’n ongekende passie vir die skoubedryf.

Uitblinkers word vereer
Agri-Expo vereer ook elke jaar skoue wat uitblink. Die skoue wat vanjaar vereer is, is:
- Innovasie: Riversdal-skou.
- Gehalte-aanbieding: Robertson-skou.
- Ontwikkeling van nuwe toetreders: Beaufort-Wes-skou.
- Gemeenskapsbetrokkenheid: Loxton-skou.
- Jeugontwikkeling: Swartland-skou, Moorreesburg.
Wilhelm Steenkamp, raadslid en voorsitter van Agri-Expo se skoukomitee het in sy verwelkoming gesê die verteenwoordigers van die verskillende skougenootskappe wat die skouvergadering bywoon, is ’n unieke groep mense wat lief is vir skou en die landbou. “Elke skou is uniek en bevorder landbou in sy gebied en dit bring die gemeenskap bymekaar,” het Steenkamp gesê.

So moet jy beoordelaars en beamptes behandel
Jurie Wessels, bekende perde-beoordelaar, aankondiger en ook ’n verteenwoordiger van die SA Skouperdbeamptesvereniging, het gesê een van die belangrikste aspekte wat ’n skou se sukses bepaal, is die hantering van beoordelaars en beamptes. Dit is die goed wat vir ander onbelangrik mag klink, wat beoordelaars of beamptes se lewe makliker maak as hulle op skoue is.
Wessels het gesê beoordelaars en beamptes is ook een van die grootste uitgawes van ’n skou. “Skoue kan geld spaar deur van hul plaaslike mense as beamptes of beoordelaars te laat oplei. Skoue moet ook onthou dat dit hul volste reg is om ’n klag te lê teenoor beoordelaars of beamptes wat hul wangedra,” het Wessels gesê.
Skou staan op drie bene
Dries Wiese, voormalige voorsitter van die Dorperskaaptelergenootskap van Suid-Afrika en bekende Dorperteler van Loxton, het gesê ’n skou staan op drie bene, naamlik vertoners, borge, en die gemeenskap van die spesifieke dorp. As een van die bene faal, dan faal die hele skou. Dit is belangrik om die borge en ook die borge se verteenwoordigers blootstelling te gee. Die skoubestuur moet ook moeite doen en sorg vir sterk skou-afdelings. “As vertoner verloor ek eerder teen sterk kompetisie as wat ek wen waar geen kompetisie is nie,” het Wiese gesê.
Anneke de Klerk, bestuurslid van Clanwilliam-skou, het die ander verteenwoordigers ingelig hoe hulle binne ’n relatiewe kort tydperk die skou van ’n laagtepunt met baie skuld tot ’n suksesvolle skou met geld in die bank opgelig het. ’n Hardwerkende bestuur, ’n uitstekende boekhoustelsel en administrasie, ’n voller skouprogram met begrotings vir elke afdeling wat klop, goeie korrespondensie, samewerking met die munisipaliteit, goeie terreinbeplanning, goeie bemarking, gemeenskapbetrokkenheid, en goeie vermaak is van die aspekte wat tot die sukses van die omdraaistrategie bygedra het, het De Klerk gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media







