Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se aansoek om verlof tot appèl op ’n teenaansoek vir die verskeping van lewende skape na die Midde-Ooste, is deur die Appèlhof van die hand gewys. Die aansoek het gevolg nadat die Hooggeregshof in Grahamstad in Augustus verlede jaar beslis het dat die vervoer van lewendehawe per see mag voortgaan.

Na aanleiding van die nuutste verwikkelinge, het Plaas Media die Rooivleisprodusente Organisasie (RPO) genader om uit te vind hoe die stukkies legkaart in die stadium in mekaar inpas. As hoof- uitvoerende beampte van die RPO, draai Gerhard Schutte nie doekies om dat die RPO die vervoer van lewendehawe per skip vir slagdoeleindes ondersteun nie.

“Ons het sopas verneem dat die appèl-aansoek van die NDBV nie toegestaan is nie, en dit is so dat die Rooivleisbedryfsforum (RMIF) se regspan ’n baie belangrike rol daarin gespeel het. Dit baan nou die weg om gedeelte B van die hofsaak in ’n stadium aan te hoor, waar die NDBV vir ’n totale verbod vra en wat deur die RMIF teëgestaan sal word.”

Die RMIF ondersteun die handel van lewendehawe en vervoer per skip, maar slegs as dit op ’n etiese wyse geskied en daar geen sprake van dieremishandeling is nie. Dieregesondheid is van uiterste belang vir die forum en sy lede, en hulle glo dat handel onderhewig moet wees aan ’n standaard wat deur die regering afgedwing moet word.

Schutte glo daar bestaan sowat 6% potensiaal vir die gereelde uitvoer van plaaslike produksie van lewendige skape na lande soos die Midde-Ooste en Koeweit, en in Suid-Afrika kan dit ’n reuseverskil aan die produsentepryse maak. Hy verwys ook daarna dat Suid-Afrika op ’n vryemarkbeginsel geskoei is, wat deur die RPO ondersteun word.

https://agriorbit.com/another-win-for-al-mawashi-court-orders-nspca-to-pay-legal-fees/

“Dit is egter van die uiterste belang dat ons die korrekte dierewelsynsmaatreëls navolg en dit is krities dat daar protokol daarvoor in plek is,” sê hy verder. “Dit is presies waarvoor die RPO sowel as die regspan van die RMIF hul beywer. Ons is op rekord, so kom ons doen dit reg vir die toekoms. Dit kan slegs gebeur as ons die regte protokol in plek kry en daarom is die RPO, saam met die lede van die RMIF, op rekord om te sê dat ons selfs so ver sal gaan om die landboudepartement te help om hierdie protokol te skryf.”

Die RPO is vol vertroue dat die hele proses nou kan voortgaan, en Schutte het sonder verwyl bygevoeg dat hy vertrou dat daar ’n weg gebaan sal word vir ’n protokol binne die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid, wat afgeteken sal word sodat handel op ’n permanente basis kan geskied. – Carin Venter, AgriOrbit