Estimated reading time: 5 minutes
Veeprodusente is tydens die Simbra SA inligtingsdag by die Afridome in Parys, getrakteer met insiggewende aanbiedings oor bestuurspraktyke wat volhoubare beesproduksie bevorder. Veeplaas en Stockfarm was vanjaar die amptelike mediaborg van die twee-dag-lange inligtingsessie wat op kommersiële en opkomende veeprodusente gefokus het.
Bulvrugbaarheid raak jou sak
Dr Johan Cloete, direkteur van Vet2Farm, het in sy aanbieding beklemtoon dat bulvrugbaarheid vir beide stoettelers en kommersiële produsente van groot belang is, en direk aan die winsgewendheid van ‘n beesproduksiestelsel gekoppel is, want onvrugbare bulle raak die produsent se sak direk.
Hy het faktore soos liggaamskondisie, dekevaluasie, weerstoestande, siektes en infeksies, beserings, dominansie, bul-tot-koeiverhouding en genetiese seleksie uitgelig en ‘n paar praktiese riglyne verskaf. ‘n Bul met ‘n swak kondisietelling (laer as 3uit 5) is traag, lui en dikwels ondergewig, wat ‘n direkte uitwerking op spermgehalte het.
Wat dekbehendigheid betref, het hy verduidelik dat ‘n sogenaamde dekevaluasie of breed soundness evaluation ‘n fisiese evaluasie is wat ‘n bul se spring- en dekvermoë bepaal. Dit sluit ook ‘n sementoets in. ‘n Dekevaluasie op bulle moet tussen 30 tot 60 dae voor die dekseisoen gedoen word.
Uitermatige hittetoestande het ‘n negatiewe uitwerking op semengehalte en vrugbaarheid. Hy het ook klem gelê op siektes (bosluisoorgedraag, viraal en bakteries) wat ‘n temperatuurreaksie by bulle veroorsaak en ‘n bul tydelik vir ongeveer 60 dae onvrugbaar kan laat. Die klem hier is op virale siektes soos drie-dae-stywesiekte.
Produsente moet ook let op ‘n bul se fisiese onvermoë om te spring en dek weens beserings aan die heup, rug, gewrig, skede, penis of testis). Dit het ‘n direkte uitwerking op vrugbaarheid. Dit is belangrik om bulle met positiewe genetiese aanduidings te selekteer. Dominansie ook speel ‘n rol. Ligter, jonger, siek of verswakte bulle kan deur die meer dominante bulle onderdruk en weggestoot word.
Wat bul-tot-koei verhouding betref, moet produsente let op die regte persentasie bulle per hoeveelheid koeie wat gedek moet word. Ouer bulle kan 30 tot 40 vroulike diere dek, terwyl jonger bulle minder koeie dek. Bulle van 18 en 20 maande kan onderskeidelik sowat 18 en 20 vroulike diere dek.
Waak teen hoë energie-aanvullings
Johan Mouton, tegniese bestuurder van navorsing en ontwikkeling by RCL Foods se Molatek-handelsmerk, het in sy aanbieding oor bulvoeding gesê produsente moet met die voorbereiding van bulle vir die veilingskraal, waak teen oormatige energieaanvulling in rantsoene. Dit kan funksionele vrugbaarheid benadeel. Sy aanbeveling is eerder ‘n rantsoen met ‘n laer energie-inhoud en hoër ruvoervlakke (25%) as ‘n tipiese voerkraalrantsoen.
Goeie ruvoer soos lusern in ‘n bulrantsoen is voldoende en moet oor ‘n langer tydperk gevoer word. Wanneer bulle nie te hard gedruk word in hul voorbereiding nie, is die eindresultaat goed-uitgegroeide bulle met goeie langslewendheid, gesondheid en vrugbaarheid wat vir ‘n lang tydperk waarde tot koeikuddes kan voeg.
Ionofone en katoenoliekoek-inhoud
Mouton het ook beklemtoon dat die ionofoor, monensin (groeibevorderaar), nie ‘n hormoon is nie en geen effek op vrugbaarheid of konsepsie het nie. Dit beheer die opblaas van bulle en asidose, en dra by tot beter groei, terwyl vlugtigevetsuurverhoudings bevoordeel word vir groei. Daarmee saam is die gebruik van katoenoliekoek of -saad in bulrantsoene veilig, as dit tot ‘n maksimum van 1kg of 1,5kg per bul per dag beperk word.
Dit is noodsaaklik, want indien ‘n bul hoë vlakke van gossypol, ‘n geelbruin kleurstof wat natuurlik in katoensaad voorkom, inkry, kan die dier se vrugbaarheid negatief beïnvloed word. Die gevare van hierdie toksien sluit in gewigsverlies, swaar asemhaling, diarree, braking, hart-, lewer- en nierskade-, en edeem. Mouton stel ook voor dat ‘n bulrantsoen 5% katoensaad kan bevat. Teen ‘n inname van 700g/bul/dag is die gossypolinname 4,8g, wat veilig is.
Hou kop bo water
Prof Frikkie Maré, redakteur van Veeplaas en hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, het in sy aanbieding gesê die konsep van ekonomiese volhoubaarheid moet in perspektief gebring word op bepaalde beginsels te let om te verseker dat boere en hul geslagte daarna altyd kop bo water kan hou. Omgewings- en sosiale volhoubaarheid moet in ag geneem word.
Volgens Maré is ekonomiese faktore in hierdie stadium ‘n groot bedreiging vir ekonomiese volhoubaarheid. Dit sluit onder meer die volgende in dat die plaaslike en internasionale ekonomie stygende inflasie skep en daarmee saam ‘n skerp toename in rentekoerse meebring. Verbruikers het minder geld in die sak, wat die kleinhandelprys van rooivleis onder druk plaas.
Plaaslike faktore soos hoë voerkoste maak dit duur om diere markgereed te kry. Terselfdertyd het beurtkrag ook ‘n impak op die totale rooivleiswaardeketting. Abattoirs is ook die laaste paar jaar onder druk weens lae vyfdekwartpryse .
Maré meen hierdie faktore en talle ander faktor bedreig produsente se winsgewendheid en ekonomiese vooruitgang; daarom is goeie beplanning noodsaaklik. Daar is drie veranderlikes om na te let in die strewe na winsgewendheid:
- In terme van geleentheidskoste moet produsente nie net kwitansies en fakture met mekaar vergelyk nie, maar eerder die werklike waarde van items bepaal.
- Let op marginaliteit. Daar bestaan ‘n geneigdheid om op maksimum vlakke te produseer, maar dit is nie noodwendig waar die meeste geld gemaak word nie. Marginaliteit beteken bloot ‘ekstra’ en daar word betaal vir elke inset wat bygevoeg word. Daardie inset moet ‘n bepaalde opbrengs lewer.
- Wat uitsetbeplanning betref, moet produsente versigtig wees om nie in ‘n groef van gewoontes ten opsigte van boerderypraktyke te verval nie. Dit is nodig om by huidige tendense en omstandighede aan te pas. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting oor vanjaar se Simbra SA-inligtingsdag, kontak Kobus Bester by epos kobus@simbra.org.