In ‘n reeks artikels wat deur die loop van 2016 in Veeplaas gepubliseer is, skryf Hans-Jurie Moolman van Moolman & Pienaar Ingelyf oor ‘n verskeidenhied regskwessies wat vir die landbouers van belang is. AgriOrbit deel dié reeks artikels in die komende week. Die volgende artikel is in die Januarie 2016-uitgawe van Veeplaas gepubliseer.

“Sedert die middel van 2014 is die afsnydatum vir die indiening van eise ingevolge die Wet op die Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994) verleng tot 30 Junie 2019. Hierdie drastiese besluit is geneem nadat die vorige afsnydatum vir die indiening van eise 31 Desember 1998 was.

Die betrokke wet is daarop gemik om vir ’n persoon of gemeenskap wat weens rasgebaseerde wetgewing en praktyke hul regte op grond verloor het, die reg te gee om te eis vir vergoeding op grond van die volgende alternatiewe:

  • Herstel van die eertydse regte.
  • Kontantvergoeding vir verliese.
  • Alternatiewe grond.

Ongeveer 70 000 eise is voor 31 Desember 1998 ingedien, maar 17 jaar later is hierdie eise (waarvan die meeste landelik is) steeds nie afgehandel nie.

Die huidige stand van nuwe eise ná die verlenging van die afsnydatum, beloop reeds meer as 100 000 eise. Vooruitskattings dui daarop dat ongeveer 400 000 eise teen die huidige trant teen 2019 ingedien sal wees. Hierdie geskatte getal eise beloop bykans ses keer meer as die hoeveelheid eise wat voor 31 Desember 1998 ingedien is.

Onsekerheid vir die landboubedryf

Uit historiese ervaring behoort geen twyfel te bestaan nie dat die aard en gevolge van die restitusieproses enorme onsekerheid vir die landboubedryf veroorsaak. En met bogenoemde syfers gaan hierdie omstandighede waarskynlik vir die volle duur van ’n volgende geslag bestaan.

Met bogenoemde proses as agtergrond, is daar ook groot politieke druk op die landboubedryf om ’n persentasie van plase aan werkers beskikbaar te stel. Die ironie hiervan is dat die verwagtinge wat in beide programme geskep word, toepassing vind op dieselfde grond. Eenvoudig gestel kan met reg gevra word wie eerste gehelp gaan word en teen watter koste.

Voorgestelde wysigings aan die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) is ook onlangs op die tafel geplaas. Dit sal in effek daartoe bydra dat geskille met plaasbewoners makliker opgelos kan word, maar terselfdertyd sal dit ’n bestaande lang proses om wettige uitsettings te verkry nog verder verleng, omdat verpligte mediasie en arbitrasie van geskille nou in die proses ingebou gaan word.

Terwyl die motivering vir die wetswysigings daarop sinspeel dat net 1% van plaas-uitsettings sedert 1994 in Suid-Afrika wettig plaasgevind het, word die probleem opgelos deur die proses van wettige uitsettings nog moeiliker te maak.

Bestuurbare risiko

Bogenoemde verwikkelinge kan op die oog af lyk soos die ysberg wat die landbou gaan sink, maar dit is juis hierdie dilemma wat die staat met beperkte insig in die landboubedryf skep, wat landbouers moet noop om grondhervorming as ’n bestuurbare risiko te sien en te begin hanteer. Grond en die landbou in Suid-Afrika was nog nooit in ’n gemaksone nie, maar beplanning en bestuur van die uitdagings wat oor die bedryf se pad gekom het, het die bedryf staande gehou.

Hierdie stand van sake sou waarskynlik ’n baie groter bedreiging gewees het as die staat binne die huidige grondwetlike bedeling oor onbeperkte fondse beskik het en die administrasie van grondhervorming in Suid-Afrika na wense presteer het. Dit is egter nie tans die geval nie.

Die hoof-grondeisekommissaris beskryf die Grondeisekommissie as onbestendig vanweë die afwesigheid van konsekwente en duidelik gedefinieerde operasionele prosedures wat daartoe lei dat probleme met swak stelsels, ’n hoë personeelomset, onvoldoende opleiding en mentorskap nie opgelos word nie. Gevolglik ontstaan ernstige vrae oor die doeltreffendheid van die program se bestuur en die mate waartoe dit sy konstitusionele mandaat en doelwit van ontwikkeling kan vervul.

Aanpassings is nodig

Teen hierdie agtergrond en uiters gunstige regspraak op al die terreine van grondhervorming, is grondhervorming dus ’n bestuurbare risiko. Die nadelige gevolge daarvan vir gevestigde belange in die bedryf, en met behoud van ons bestaande regstelsel, sal oor ’n baie lang tydperk manifesteer. In hierdie tyd sal lesse geleer word en geleenthede na vore tree.

Dit is te midde van hierdie politieke en praktiese dilemma, waar jare se bedryfservaring en die vermoë om planne te maak, die landbou deur behoort te dra. Aanpassings sal natuurlik in die toekoms gemaak moet word, maar ’n pragmatiese reaksie en vindingrykheid gaan die verskil tussen sukses en ondergang beteken.- HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf (Veeplaas Januarie 2016)”

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY